Skip to main content

Lukas 5

Jesus het gekom vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes

Jesus roep sy dissipels om Hom te volg sodat hulle later dieselfde vrylating van armes, gevangenes, blindes en onderdruktes kan verkondig. Dit sluit in om sy vergifnis van sonde aan almal te verkondig.

Teks en konteks

Jesus roep vir Simon en Andreas, Jakobus en Johannes om Hom te volg naby Gennesaret (Lukas 5:1-11)

Jesus bevind Hom by die Gennesaretmeer, ‘n belangrike plek in sy bediening. Hier gebruik Hy Simon se skuit as preekstoel om die Woord van God aan ‘n groot skare te verkondig. Ná sy onderrig beveel Jesus vir Simon om na die diep water uit te vaar en die nette te laat sak. Ondanks Simon se twyfel oor die moontlikheid om vis te vang ná ‘n hele nag se mislukte probeerslae, gehoorsaam hy Jesus.

Die gevolg is ‘n wonderbaarlike vangs – soveel vis dat die nette amper skeur en die skuite amper sink. Hierdie wonder versterk Simon en die ander se geloof. Simon besef Jesus se heiligheid en sy eie sonde en val op sy knieë: “Gaan weg van my, omdat ek ’n sondige man is, Here.” Jesus stel hom gerus: “Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.”

Simon, Andreas, Jakobus en Johannes laat alles agter om Jesus te volg. Hierdie gebeurtenis beklemtoon Jesus se fokus op mense en sy roeping tot dissipelskap, waar verkondiging van die Woord sentraal staan.

Jesus genees ’n man met ’n ernstige velsiekte (Lukas 5:12-16)

In een van die dorpe ontmoet Jesus ‘n man met ‘n ernstige velsiekte. Hierdie man nader Hom met geloof en smeek: “Here, as U wil, kan U my rein maak.” Jesus raak hom aan en antwoord: “Ek wil, word rein.” Die siekte verdwyn onmiddellik.

Jesus stuur die man na die priester, soos deur die wet voorgeskryf, om sy reiniging te bevestig. Dit demonstreer Jesus se respek vir die wet en sy wil om die man nie net liggaamlik nie, maar ook sosiaal en geestelik te herstel. Die nuus oor Jesus versprei vinnig, en skares kom na Hom toe vir genesing.

Jesus maak egter tyd om alleen te bid. Hierdie genesing wys hoe Jesus mense herstel tot volle gemeenskap en is ’n vervulling van Jesaja se profesie dat die Messias wonde sal verbind en genesing bring.

Jesus genees ’n verlamde man in Kapernaum as bewys van sy mag om sondes te vergewe (Lukas 5:17-26)

Terwyl Jesus onderrig gee, bring ‘n groep mans ’n verlamde vriend na Hom. Omdat hulle nie deur die skare kan kom nie, laat hulle hom deur die dak sak. Jesus sien hulle geloof raak en sê vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word jou vergewe.”

Hierdie woorde ontstel die Fariseërs en wetskenners, wat Jesus daarvan beskuldig dat Hy godslasterlik is, want net God kan sondes vergewe. Jesus weet wat in hulle harte aangaan en vra: “Wat is makliker: om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’?”

Om sy gesag as Seun van die mens te bewys, genees Jesus die man. Die verlamde staan onmiddellik op, neem sy draagbaar en verheerlik God. Die skare is verbaas en loof ook God oor wat hulle gesien het.

Hierdie gebeurtenis beklemtoon drie belangrike dinge:

  1. Geloof: Dit is ’n aktiewe soeke na Jesus en ‘n kanaal waardeur God se krag werk.
  2. Vergifnis: Dit is die grootste geskenk wat God kan gee, want dit het ewigheidswaarde.
  3. Jesus se gesag: Hy het mag oor sonde en siekte, wat sy Goddelikheid bevestig.

Boodskap en betekenis

Hierdie gedeeltes toon dat Jesus se bediening ten diepste gerig was op mense – om hulle geestelik en fisies te herstel. Hy roep dissipels op om Hom te volg en sy Woord te verkondig. Genesing bevestig sy boodskap, maar verkondiging van die Woord bly die kern.

Hierdie fokus vra selfondersoek: Hoe gesentreerd is ons lewens en gemeentes op die verspreiding van die Woord van God? Jesus demonstreer dat die grootste roeping van sy dissipels – en ons as sy volgelinge – is om die evangelie te deel.

Jesus se genesings bedien nie net die liggaam nie, maar trek mense in die gemeenskap van God in. Die verlamde man en die man met die velsiekte word beide fisies en geestelik herstel. Dit herinner ons aan die krag van geloof en God se genade wat mense se lewens volledig kan verander.

Vergifnis is ’n sentrale tema: dit is die diepste behoefte van elke mens en die kern van Jesus se bediening. Sy mag om te vergewe en te genees is ’n bewys van sy identiteit as Seun van die mens en Seun van God.

Jesus roep die tollenaar Levi-Matteus (Lukas 5:27-32)

Die verhaal van Levi-Matteus se roeping word in al die Sinoptiese Evangelies vertel en illustreer Jesus se roeping van sondaars en sy fokus op bekering. Tollenaars soos Levi was gehaat vir hulle korrupsie en samewerking met die regering. Teen hierdie agtergrond roep Jesus vir Levi met die eenvoudige woorde: “Volg My.”

Levi, ook bekend as Matteus, reageer onmiddellik en onherroeplik. Hy laat alles agter om Jesus te volg. Matteus was waarskynlik ‘n vermoënde man, aangesien sy tolhuis by Kapernaum aan die hawe geleë was, waar hy waarskynlik selfs tol gehef het op vis wat deur ander dissipels gevang is. Die effek van Jesus se roeping was so kragtig dat Levi se lewe radikaal verander is – van ‘n korrupte tollenaar na ‘n volgeling van Christus.

Om sy nuwe lewe te vier en Jesus bekend te stel, hou Levi ‘n onthaal in sy huis waar ‘n groot groep tollenaars en ander “sondaars” teenwoordig was. Die Fariseërs kritiseer Jesus se interaksie met hierdie mense, maar Jesus antwoord dat Hy gekom het om siekes – nie gesondes nie – te genees. Hy roep sondaars tot bekering, terwyl die Fariseërs se skynheiligheid ontbloot word. Hulle selfregverdiging hou hulle weg van die genade wat Jesus aanbied.

Boodskap en betekenis
Hierdie verhaal beklemtoon Jesus se missie om sondaars tot bekering te roep en hulle lewens te verander. Dit toon ook dat bekering fundamenteel is vir ‘n nuwe lewe met God. Die genade van Jesus is onbeperk, maar vereis ‘n innerlike erkenning van sonde en die behoefte aan sy vergifnis.

Jesus verkondig dat nuwe wyn nuwe wynsakke nodig het (Lukas 5:33-39)

Hierdie gedeelte sluit aan by Levi se onthaal. Jesus se dissipels eet en drink, terwyl Johannes die Doper se dissipels gereeld vas. Wanneer hierdie vraag aan Jesus gestel word, gebruik Hy drie metafore om sy punt duidelik te maak.

Jesus verduidelik dat bruilofsgaste nie vas terwyl die bruidegom by hulle is nie – dit is ‘n tyd van vreugde. Hy voorspel egter dat daar ‘n tyd sal kom wanneer die bruidegom weggeneem word (verwysend na sy dood en hemelvaart), en dán sal vas deel wees van dissipelskap.

Jesus illustreer verder dat ‘n nuwe lap nie op ‘n ou kledingstuk gesit kan word nie. Dit beskadig beide die nuwe en die oue. Hiermee dui Hy aan dat sy boodskap nie bloot ‘n toevoeging tot die ou godsdienstige gebruike van Judaïsme is nie. Dit is iets nuuts wat die oue vervang.

Nuwe wyn moet in nuwe wynsakke geplaas word, omdat ou wynsakke nie die druk van fermentasie kan hanteer nie. Jesus gebruik hierdie beeld om te wys dat sy nuwe bedeling van genade en genesing nie in ou tradisies pas nie. Dit vereis ‘n nuwe manier van dink en lewe.

Hy sluit af deur te erken dat mense geneig is om aan die ou dinge vas te hou omdat hulle dit as beter beskou, maar die nuwe wyn van sy genade en waarheid kan nie deur tradisionele raamwerke beperk word nie.

Boodskap en betekenis
Jesus het nie gekom om Judaïsme bloot aan te pas of te herstel nie. Sy doel was om ‘n heeltemal nuwe bedeling te vestig – die koninkryk van God.

Hy beklemtoon aan die een kant die oorspronklike bedoeling van die wet, soos liefde vir God en die naaste. Aan die ander kant radikaliseer Hy dit deur innerlike transformasie te eis, selfs liefde vir vyande te beklemtoon. Hierdie nuwe lewe vra vir ‘n oop hart en bereidheid om ou gewoontes en denke te laat vaar.

Die boodskap van genade en vernuwing is soms moeilik vir mense wat gewoond is aan tradisie, maar die koninkryk van God is onkeerbaar en onafwendbaar. Jesus roep ons om die nuwe wyn van sy genade met nuwe oortuiging en toewyding te omarm.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar