Skip to main content

1 Samuel 24

Jy moet jou vyande liefhê

Dawid beweeg weer noord van die woestyn van Moan na die woestyn van Sif waar hy in die bergskuilings by En-Gedi net langs die Dooie See gaan bly. Saul keer terug van die veldtog teen die Filistyne en gaan soek hom by Suree-Hajjeëlím, die “Rots van die bergbokke.” Dawid kies om Saul nie dood te maak toe dié ‘n draai loop in ‘n grot waar Dawid hom sou kon oorweldig het. Saul erken dat Dawid ‘n regverdiger man is as hy, maar dit voorkom nie dat Saul hierna weer vir Dawid vervolg nie.

Teks en konteks

Die bergskuilings van En-Gedi is in die woestyn van Sif net langs die Dooie See. Dawid vind hier ‘n hawe vir hom en sy mense, hoewel sy teenwoordigheid deur sy vyande, waarskynlik die Siffiete, aan Saul bekend gemaak word. Saul trek dus met 3 000 man teen hom op by Suree-Hajjeëlím. Die naam beteken “Rots van bergbokke.” Dit is al die 15de keer dat Saul Dawid probeer doodmaak het.

By die veekrale was daar ‘n grot waar Saul ‘n draai geloop het (“om sy voete te bedek”), min wetende dat Dawid en sy manne in die agterste deel van die grot gesit het nie. Dawid weier egter om uitvoering te gee aan sy manne se aansporing om Saul dood te maak, en sny liewer stilletjies ‘n soom van Saul se mantel af.

Sy gewete het hom egter daarna gepla, omdat hy hom verbind het daaraan om “die gesalfde van die Here” nie kwaad aan te doen nie. Hy keer dus sy manne om self teen Saul op te tree. En is daarmee ‘n voorbeeld van wat Jesus uiteindelik in die NT van ons almal sal vra, om ons vyande lief te hê soos onsself (Matt 5:44).

Toe Dawid homself buite die grot aan Saul openbaar en sy lojaliteit aan Saul uitlig deur te verduidelik dat hy Saul nie vermoor het toe dit wel in sy mag was om te doen nie, roer dit iets in Saul se hart waarin hy met trane erken dat Dawid ‘n regverdiger mens is as hy.

In Dawid se toespraak aan Saul brei hy uit oor die feit dat Saul na skinderstories oor Dawid luister en eerder Dawid se eie optrede in ag moet neem. Hy sal Saul nie kwaad aandoen nie. Hy wys Saul egter ook op die feit dat die Here sal oordeel tussen hulle: “en die Here sal my op u wreek, maar my hand sal nie teen u wees nie.”

Dawid gebruik ‘n ou spreekwoord om sy boodskap in te skerp: “Uit goddeloses kom goddeloosheid voort.” ‘n Gedagte waarop Jesus voortborduur in sy teregwysing van die vyandige Fariseërs: “Die goeie mens bring uit die goeie skatkamer goeie dinge na vore, en die slegte mens bring uit die slegte skatkamer slegte dinge na vore.” (Matt 12:35)

Daarby is Dawid oortuig en vertrou hy daarop dat die Here die regter sal wees tussen hulle. Op God se oordeel verlaat Dawid hom. En hy stel dit sterk: “mag Hy my reg handhaaf deur my uit u hand te red.”

Saul weet ná hierdie toespraak dat hy die verkeerde een is, en Dawid die uitverkorene. Selfs in terme van die koningskap: “Ek weet dat jy beslis koning sal word, en dat die koningskap oor Israel onder jou hand sal standhou.” Hy bid vir Dawid toe dat die Here vir Dawid met die goeie sal beloon vir wat hy vandag aan Saul gedoen het. En hy vra selfs dat Dawid sy nageslag genadig sal wees wanneer hy koning word.

Dié eed het Dawid vir Saul afgelê, en Saul het terug huis toe gegaan. Dawid en sy manne het egter weer die bergskuiling opgesoek, wel wetende dat die stryd nog nie verby was nie.

Boodskap en betekenis

Dit is asof die lig van die Nuwe Testament hier in Dawid se optrede deurskyn. Dawid het Saul in sy mag in die grot by die veekrale by En-Gedi. Dit moes vir Dawid gevoel het asof die Here self vir Saul in Dawid se mag gee. Maar Dawid slaan nie sy hand aan Saul se lewe nie, want hy erken steeds die salwing wat op Saul se lewe rus as koning (vgl 1 Sam 26:9-11 waar Dawid ook Saul se lewe spaar omdat hy die gesalfde is).

Dawid kies dus om genade te bewys aan God se gesalfde, selfs al vervolg die gesalfde hom wederregtelik. Daarmee respekteer Dawid die Here se keuse, en wag hy op God se tyd om die salwing wat hy self ontvang het as koning, in vervulling te laat gaan. En is hy daarmee ‘n voorbeeld vir ons van wat Jesus uiteindelik in die NT van ons almal sal vra, om ons vyande lief te hê soos onsself (Matt 5:44).

Geen wonder nie dat Saul hard aan die huil gaan nie, toe hy agterkom wat gebeur het. Hy erken dat Dawid ‘n regverdige man is as hy, dat hy kwaad met goed vergeld, en dat Dawid ‘n weldaad aan hom bewys het, al is hy sy vyand.

Die spreuk wat Dawid gebruik: “Uit goddeloses kom goddeloosheid voort,” laat ‘n mens onmiddelik dink aan die lering wat Jesus in die NT gee oor die wyse waarop ‘n goeie mens van ‘n slegte mens onderskei kan word, dws deur na die vrugte van hulle lewe te kyk. Jesus wys die Fariseërs wat hom teen staan tereg met hierdie spreuk: “Die goeie mens bring uit die goeie skatkamer goeie dinge na vore, en die slegte mens bring uit die slegte skatkamer slegte dinge na vore.” (Matt 12:35)

Dit is asof die stryd tussen goed en kwaad in Saul se gemoed hier in hoofstuk 24 na die oppervlak kom, en ‘n mens hom wil-wil jammer kry, totdat ‘n mens in hoofstuk 26 weer gaan lees van Saul se agtervolging van Dawid, toe die Siffiete hom weer verraai, en ‘n mens besef dat Saul die stryd teen die bose gewonne gegee het, en dat die kwaad doodgewoon die oorhand in sy lewe gekry het. Sy lewe wys dus dat hy uit die slegte skatkamer van sy hart slegte dinge na vore bring.

Daarteenoor tree Dawid hier ongelooflik wys en koninklik op. Hy skep ruimte vir God om op te tree, deurdat hy weier om die reg in eie hande te neem. En dit alles is gebaseer op sy vertroue dat die Here sal sorg, sy saak sal behartig, en reg sal laat geskied aan hom. Dit is inspirerend en bemoedigend.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar