Skip to main content

Esegiël 17

Twee gelykenisse wat die hede interpreteer en die toekoms oopsluit

Hierdie eerste “fabel, ‘n gelykenis” van die twee arende, sowel as die sedertakkie (Jojagin) en wingerdstok (Sedekia) in vers 3-10 handel oor die komplekse verhouding van die Galdeërs en Egipte met die konings van Jerusalem in hierdie tyd. Die uiteinde daarvan was die beleg en verwoesting van Jerusalem en die dood van koning Sedekia, soos Esegiël se uitleg in vers 11-21 dit duidelik maak.

Esegiël gee daarmee ‘n helder interpretasie van die gebeure wat besig was om in Jerusalem te ontvou, soos die geskiedenis dit inderdaad in die volgende vyf jaar bevestig het.

Aan hierdie boodskap word ‘n tweede gelykenis gekoppel in vers 22-24 wat die boodskap dra van God wat in weerwil van die toegevalde hede tóg ‘n toekoms sal oopsluit vir die volk. Hy sal self ‘n sedertakkie plant wat lewe en beskerming sal gee, en God se heerskappy sal bevestig. Dit is duidelik ‘n Messiaanse belofte.

Die twee gelykenisse en die uitleg vorm daarom ook die drie dele van die hoofstuk.

Terloops: ‘n mens kan die eerste gelykenis tereg ‘n fabel noem, soos die eerste woord in die NAV vertaal word, omdat die gelykenis diere as karakters bevat.

  • ‘n Mens kan die storie ook ‘n allegorie noem, omdat dit ‘n dieper betekenis bevat, soos sommige vertalings tereg die woord vertaal. Dieselfde allegoriese literêre tegniek word ook op ‘n paar ander plekke in die OT ingespan, bv. Rigters 9 en 2 Konings 14, al word die woord nie daar gebruik nie. Dieselfde geld van die gelykenisse wat Jesus in die evangelies van die NT vertel.
  • Sommige vertaal die woord in Esegiël ook met raaisel, soos dieselfde Hebreeuse woord vertaal word in Rigters 14. Dié storie wat Simson daar vertel, is egter ‘n ware raaisel, omdat die mense die betekenis daarvan moes raai. Dieselfde geld nie hier in Esegiël nie, omdat die Here die betekenis daarvan duidelik uitspel, soos Jesus dit trouens ook in die NT vele kere gedoen het met sy gelykenisse.

Teks en konteks

Esegiël 17:3-11 – ‘n Gelykenis oor twee arende, ‘n sedertakkie en ‘n wingerdstok

Hierdie eerste gelykenis handel oor ‘n arend wat ‘n sedertakkie in die “land van die handelaars” gaan neersit het. Dit dui op Nebukadnesar wat vir Jojagin na Babel toe gevat het, soos die uitleg in vers 11 aandui. Daarna het die arend ‘n wingerdstok geplant wat sy blare na die arend gedraai het, d.w.s. onderdanig aan hom was. Dit dui op Nebukadnesar wat vir Sedekia in Jerusalem as koning aangestel het, soos die uitleg in vers 13 en verder aandui.

Daar kom toe egter nog ‘n arend en die wingerdstok draai sy wortels en blare na dié tweede arend. Dit dui op Sedekia wat sy politieke heil by farao Gofra van Egipte (vgl. ook Jer. 44:30) téén Nebukadnesar van die Galdeërs gaan soek het, soos vers 15 dit aandui. Uiteraard het dit die eerste arend vertoorn en is die wingerdstok met wortels en al uit getrek. Dit dui op die ballingskap wat lê en wag het vir Sedekia en die volk van Jerusalem, soos dit ook in vers 15 en verder aan uitgelê word.

Esegiël 17:11-21 – Die uitleg van die betekenis van die gelykenis

Die uitleg van die gelykenis volg nou as ‘n boodskap aan die weerbarstige volk. Sommige van die detail waarna Esegiël verwys, dui op die onlangse verlede van die volk en ander op die nabye toekoms wat vir hulle wag.

Die eerste koning waarna verwys word, is Jojagin saam met wie Esegiël ook in 597 v.C, weggevoer is na Babel. Die tweede koning waarna verwys word is Sedekia, die “nuwe koning” wat deur Nebukadnesar aangestel is, maar nou sy politieke heil by farao Gofra van Egipte gaan soek het. Die Here verkondig dat dié onderneming nie sal slaag nie en dat Sedekia sal boet vir die feit dat hy sy ooreenkoms met Babel verbreek het.

Die uiteinde hiervan, belowe die Here, sal die beleg en verwoesting van Jerusalem sowel as die dood van koning Sedekia wees. Egipte sal nie tot hulle hulp kom nie, soos inderdaad gebeur het. Die Here: “laat hom die gevolge dra daarvan dat hy die eed van getrouheid aan My geminag en die verbond met My verbreek het.

Sedekia het dus nie net dwaas opgetree teenoor Nebukadnesar nie. Hy het die pad wat die Here vir hom uitgespel het deur Jeremia geminag. Ons sal nog kom by die tragiese verhaal in Jeremia 38 (Jeremia ly in die put totdat Sedekia hom raadpleeg) en Jeremia 39:1-40:6 (Jerusalem val voor Nebukadnesar en Jeremia word vrygelaat).

Esegiël gee met hierdie gelykenis en uitleg ‘n helder interpretasie van die onlangse verlede sowel as die gebeure wat besig was om nou in Jerusalem te ontvou. Laasgenoemde interpretasie is inderdaad vyf jaar later bevestig. Die Godsvolk sal dus onomwonde agterkom: “dat dit Ek, die Here, is wat gepraat het.

Esegiël sal met die val van Jerusalem in 586 v.C. ‘n verdere boodskap aan Egipte rig (vgl. hfst. 31) waar ‘n sederboom weereens as gelykenis ingespan word, om die verwerping van Egipte te beskryf.

Esegiël 17:22-24 – ‘n Gelykenis oor God se sedertakkie wat die toekoms oopsluit

Aan hierdie boodskap van oordeel word nou ‘n tweede gelykenis gekoppel in vers 22-24 as boodskap van hoop. Dit dra die boodskap dat God in weerwil van die toegevalde hede sowel as die ballingskap wat onafwendbaar op hullle afstorm, tóg ‘n toekoms sal oopsluit vir die volk. Hy sal self ‘n sedertakkie plant wat lewe en beskerming sal gee, en God se heerskappy sal bevestig.

Dit dra die boodskap dat grootheid en geringheid van die Here afhang en van sy besluit: “Ek maak groot bome klein en klein boompies groot, Ek laat groen bome verdroog en droë bome bot.” Daarmee moet almal, die konings ingesluit, rekening hou.

Dit is ook duidelik ‘n Messiaanse belofte. Dit is selfs moontlik dat Jesus by dié gelykenis aansluit in sy eie bekende gelykenis van die mosterdsaadjie wat met die koninkryk van God vergelyk word. Vgl. Markus 4:30-41.

Boodskap en betekenis

Die boodskap van dié hoofstuk lê op verskillende vlakke, soos dit hoort met ‘n gelykenis. ‘n Storie kan immers ‘n komplekse boodskap op eenvoudige wyse oordra. Dit interpreteer die onlangse verlede, en dui rigting aan vir die afsienbare toekoms. Dit het direkte politieke implikasies sowel as ‘n duidelike geestelike boodskap aan wie lojaliteit ten diepste verskuldig is. Die boodskap het selfs implikasies vir die verre Messiaanse toekoms wat uiteindelik in Jesus aangebreek het.

Maar die belangrikste boodskap wat soos ‘n refrein deur die hoofstuk loop, is dat alles en almal van die Here afhanklik is. Grootheid sowel as geringheid hang van die Here af en van sy besluit: “Ek maak groot bome klein en klein boompies groot, Ek laat groen bome verdroog en droë bome bot.” Daarmee moet almal, konings ingesluit, rekening hou.

Dit maak ‘n mens nederig en afhanklik van God se wil en wens sowel as hoopvol dat Hy die wêreldgeskiedenis volgens dié beginsel hanteer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…