Skip to main content

Psalm 106 – Verlos ons, Here ons God!

Bybelskool.com bydrae grafika
Bybelskool.com bydrae

Psalm 106 fokus op die fundamentele goedheid van die Here wat in sy troue liefde raakgesien kan word.  Omdat die troue liefde van die Here iets is wat vir ewig duur, beteken dit dat sy goedheid ook vir ewig is (vers 1).  Dit vorm daarom die basis van die Psalmis se gebed dat die Here tog ook aan hom sal dink wanneer Hy weer sy guns aan die volk sal bewys (vers 4).

Dit is waarom die Psalmis soveel tyd afstaan in die Psalm om God te prys vir sy magtige dade in die verlede, die verhale van die verlossing uit Egipte, die begeleiding deur die woestyntyd sowel as die vestiging van die volk in Israel, veral omdat dit gedoen is ten spyte van die sonde en opstand van die volk (vers 6–46).  Want, daarin lê hulle en natuurlik sy eie hoop op verlossing, dat God soos in die verlede aan sy troue liefde getrou sal bly.

Dít vorm dan ook die breë drie-deling waarin die Psalm opgedeel kan word:

  1. LOFPRYSING: God se fundamentele goedheid wys in sy troue liefde – vers 1–5.
  2. BELYDENIS: God verlos sy volk ten spyte van hulle sonde en opstand – vers 6–46.
  3. SMEEKGEBED: Verlos ons nou weer, Here ons God – vers 47–48.

1.  LOFPRYSING: God se fundamentele goedheid wys in sy troue liefde – vers 1–5

God se troue liefde vir ewig is die basis vir ons eie vertroue op God.  Daarin sien ons God se goedheid en motiveer dit ons om ten spyte van watter situasie ons ons ook al in mag vind, ons Hom om uitkoms kan nader.

Die Psalmis is egter ook eerlik oor die geluk wat lê in ’n regte lewe, waar ons ook by elke geleentheid die regte ding doen.  Maar, belangrik, die geldigheid van ons beroep op God lê nie in ons eie dade nie, maar in die guns wat Hy aan ons as sy uitverkorenes bewys.  Daarom maak die Psalmis staat daarop dat God aan hom sal dink vanuit sy liefde vir die volk en hom só in die redding van die volk sal insluit. Só sal hy kan deel in die blydskap van dié wat aan God behoort.

2.  BELYDENIS: God verlos sy volk ten spyte van hulle sonde en opstand – vers 6–46

Die Psalmis vereenselwig hom volledig met sy voorvaders: “Ons het gesondig, net soos ons voorvaders, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig.” (vers 6).  Dit is immers waarom hulle nou in ballingskap sit.

Hy gaan egter voort om tegelykertyd op omvattende wyse ook hulle ervarings van verlossing en dissipline in die verlede as deel van sy eie geskiedenis te vertel.  Op grond van dié herinneringe kan hy juis met oorgawe sy smeekgebed om ’n nuwe verhaal van verlossing verder voer om saam met die ander lede van die volk in ballingskap weer teruggebring te word na Israel toe, soos dit in die verlede die geval was (vers 47).

Dit is waarom hy ook soveel tyd afstaan van vers 7-46 om God te prys vir sy magtige dade in die verlede teen die agtergrond van Israel se sonde en opstand.  Dit sluit wonders in sowel as straf wat van God se noue betrokkenheid by hulle getuig.  Die Psalmis noem:

  • twee verhale van die verlossing uit Egipte (magtige dade wat waarskynlik na die plae verwys, die trek deur die Rietsee) – vers 7-12;
  • ses verhale van die volk se opstand teen Sy begeleiding deur die woestyntyd (kwartels [opstand oor vleis], bevestiging van leierskap [opstand teen Moses, Aäron], verhoring van Moses se gebed [aanbidding van die goue kalf], straf vir ongeloof [versmading van die land], plaag as straf vir afgodsdiens [Baäl–Peor en Pinehas], water [Meribawaters]) – vers 13-33;
  • vier verhale van die volk se opstand in die vestiging van die volk in Israel (roei nie die nasies uit nie, vermeng met die heidene, dien afgode, kinderoffers) – vers 34–46.

Telkens het die volk op hierdie magtige dade met blydskap gereageer (bv. vers 12: “Tóé het sy volk sy beloftes geglo en sy lof besing”) of deur ’n leier wat optree (Moses, Pinehas) om egter maar net weer daarna terug te val in sonde en opstand (bv. vers 13: “Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het en nie op sy leiding gewag nie”.

Met al hierdie wonderdade van God het Hy hulle dus gered en gedissiplineer ten spyte van hulle sonde en opstand.

Twee gevalle van die volk se sonde en opstand in Egipte word genoem:

  1. Hulle het nie ag geslaan op God in Egipte toe Hy aanvanklik hulle wou red nie (vgl. die opsigters se klagtes in Eks. 5) – vers 7;
  2. Hulle het nie gedink aan sy dade van trou uit die verlede nie (vgl. hulle radeloosheid in Eks. 2) – vers 7;

Ses gevalle van die volk se sonde en opstand in die woestyn word genoem:

  1. Hulle het skaamteloos meer kos geëis in die woestyn (vgl. Eks. 16; Num. 11), selfs nadat hulle die wonder van die Uittog beleef het, en só in die barre wêreld God se geduld tot die uiterste toe beproef – vers 14;
  2. Hulle het hulle in afguns teen Moses en Aäron as leiers verset en Datan en Abiram het dit ontgeld (Num. 14) – vers 16;
  3. By Horeb het hulle ’n goue kalf gemaak en voor ’n god van metaal gekniel.  Hulle het só God, hulle redder vergeet, en die magtige teenwoordigheid van God verruil vir ’n beeld van ’n bees wat gras vreet (Eks. 32) – vers 19-21;
  4. Hulle het aanvanklik ’n waardevolle land versmaai en die belofte van die Here nie geglo nie, wat verwys na die eerste keer toe hulle by die land van die belofte gekom het en hulle in hulle tente bly sit en mor het en nie die Here se belofte geglo het dat Hy hulle krag sal gee om die land in te neem nie (Num. 13) – vers 24–25;
  5. Hulle het Baäl–Peor aangehang en die Here uitgetart sodat Hy ’n plaag onder hulle gestuur het (Num. 25) – vers 28–31;
  6. Hulle het die Here se toorn twee keer by die Meribawaters laat ontvlam, met hulle sug na water, sodat selfs Moses die tweede keer tot sy groot verlies gesondig het deur onbesonne dinge te sê.  Die eerste keer word vertel in Eks. 17, en dit tweede in Num. 20 (vgl. Ps. 95:8) – vers 32-33);

En vier gevalle van die volk se sonde en opstand in die land Kanaän word genoem:

  1. Hulle het nie die ander volke uitgeroei nie (vgl. die opdrag in Num. 33:52; Deut. 7:16, 24 en die verskeie verhale in Josua waar dit nie nagekom is nie, bv. Jos. 9; 15:63) – vers 34;
  2. Hulle het met die heidene vermeng (vgl. die opdrag in Deut. 7) – vers 35;
  3. Hulle het die afgode van die heidene begin dien – vers 36;
  4. Hulle het hulle seuns en dogters aan veldduiwels (demone) geoffer wat die land besoedel het (vgl. Jer. 19) – vers 37-38;

Dit het God só ’n weersin in hulle laat kry dat Hy die volk aan die heidene oorgegee het, sodat hulle weer verdruk is deur hulle vyande.  Omdat hulle die heidennasies se lewenspraktyke aangehang het eerder as God se riglyne, het Hy hulle met die nasies self gestraf.

Die Psalmis is egter ook glashelder daaroor dat God hulle telkens weer gered het.  Hoekom?  En hierin lê die evangelie van die Psalm.  Die Psalmis gee vernaamlik vier redes waarom God sy volk telkens gered het ten spyte van hulle sonde en opstand:

  1. Ter wille van die eer van sy Naam – vers 8;
  2. Ter wille van Moses omdat hy vir hulle in die bres getree het – vers 23;
  3. Ter wille van Pinehas wat die skuldiges gestraf het, en God oorreed het om die plaag te laat ophou – vers 30-31;
  4. Ter wille van die volk self het Hy aan sy verbond met hulle gedink en in sy groot liefde hulle genadig gewees, al het hulle dit nie verdien nie – vers 45.

Die Here het dus nooit sy troue liefde laat vaar nie.  Hy het telkens weer ingegryp en ’n verandering gebring, ter wille van Homself, ter wille van leiers wat intree, en ter wille van die mense self wat aan Hom behoort.

3.  SMEEKGEBED: Verlos ons nou weer, Here ons God – vers 47–48

In dié verstommende genadige ingrype van die Here in die verlede, ten spyte van die volk se sonde en opstand en God se weersin in die volk, lê daarom die volk wat nou weer in ballingskap is se hoop opgesluit, sowel as natuurlik die Psalmis se eie hoop op verlossing.  Dit word sy gebed: “Red ons, Here, ons God, maak ons bymekaar tussen al die volke uit, dat ons u heilige Naam kan loof en ons in u lof kan verheug.” (vers 47).

Die Psalm sluit af met ’n dubbele lofprysing.  Die eerste een sluit die Psalm af.  Die laaste een sluit die 4de Psalmboek af: “Prys die Here!” (vers 48).

Psalm 106:47–48 in 1 Kronieke 16

Laastens: Ons tref twee verse van Psalm 106 ook aan in 1 Kron. 16 waar dit as ’n keurspel van lofliedere – saam met die hele Psalm 96 en vyftien verse uit Psalm 105 – gebruik word in die feesviering met die tuiskoms van die ark in Jerusalem in die tyd van Dawid.  ‘n Keurspel uit die drie Psalms word gebruik (in die volgorde: Ps. 105:1–15; 96:1–13; 106:47–48) met die titel “Loof die Here”.  Psalm 106 se bydrae fokus op die gebed dat God sy belofte van ’n terugkeer uit ballingskap sal vervul.

Lees hier meer wat ek vroeër daaroor geskryf het: 1 Kronieke 16-17 – Dawid vier die tuiskoms van die ark en ontvang omvattende seën van God.

Boodskap van die Psalm

God se troue liefde is vir ewig.  Dit sien ons in die verhaal van die opstaan en val, opstaan en val van die volk van Israel.  Telkens red die Here hulle weer.  Hoekom?  Want Hy is fundamenteel goed.  En Hy wys dit deur sy troue liefde.  God se troue liefde is daarom die basis vir ons eie vertroue op God.  In sy troue liefde sien ons God se goedheid en motiveer dit ons om ten spyte van watter situasie ons ons ook al in mag bevind, ons Hom om uitkoms kan nader.

Dit is die diep boodskap van die evangelie soos die Reformasie dit onder andere geformuleer het: uit genade alleen (Sola Gratia).  Daarby kom natuurlik ook die ander solas: deur geloof alleen (Sola Fide), deur die Skrif alleen (Sola Scriptura), deur Christus alleen (Solus Christus), en aan God alleen al die eer (Soli Deo Gloria).

Maar in hierdie Psalm staan die genade voorop, God se guns ten spyte van sonde en opstand.  Dit is op God se genade wat ons onsself kan verlaat, dié Een wat ewig is en goed, en dit wys in sy troue liefde.

“U het ons verlos, Here ons God.  Prys die Here!”


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms