Josua 5:2-12 – Die Godsvolk word bevestig deur die besnydenis en die viering van die paasfees

Let op hoe die Here die hele Israel se geestelike verbintenis aan Hom al hoe stewiger maak.

  1. In die eerste plek was daar die belofte van God se teenwoordigheid saam met die opdrag om nougeset volgens sy Woord op te tree (Jos 1).
  2. In die tweede plek het die verkenners die volk laat moed skep met die verhaal van Ragab dat daar alreeds mense in Kanaän was wat, soos hulle, die Here gedien het, en deur Hom beskerm is (Jos 2).
  3. In die derde plek het die Here die absolute gehoorsaamheid aan sy begeleiding onderstreep met die verbondsark wat die voortou in die volk se Intog moet neem. In gelid daarmee het die reiniging van die hele volk gevolg om hulle voor te berei vir die tog deur die Jordaan. Dit is gevolg deur die wonder van die opdamming van die rivier gebeur sodat hulle droogvoets kon deurtrek (Jos 3-4).

Dit word nou deur drie ander geestelike insette in hulle lewens gevolg, die bevestiging van die volk se inlywing in die verbond met God deur die besnydenis (Jos 5:2-9), die hou van die eerste Paasfees in Kanaän as teken van hulle voortgaande inblywing in die verbond (Jos 5:10-12) en laastens die openbaring van die bonatuurlike leëraanvoerder van die Here (Jos 5:13-15) wat ons as deel van die oorlog teen Jerigo gaan lees.

Dit is immers ‘n “Heilige Oorlog” waarin die geestelike verbintenis aan God die praktiese gehoorsaamheid aan en uitvoering van sy opdragte bepaal.

Die “Heuwel van besnydenis” by Gilgal – Josua 5:2-9

Josua kry die opdrag om klipmesse (van vuurklip) te maak en al die Israeliete te besny. Die klipmesse bring onmiddellik die soortgelyke handeling van Sippora in herinnering wat haar seun Gersom se voorhuid afgesny het om die gramskap van die Here oor Moses (of oor Gersom – die teks is dubbelsinnig) af te weer. Lees meer in my bydrae oor Eksodus 4.

Dit verkondig aan ons dat die besnydenis regtig ‘n fundamentele vereiste vir die volk van God was. Daarom moes die laksheid van die eerste geslag Israeliete in die woestyn met die besnydenis van hulle kinders reggestel word. Geen wonder dat dié geslag ook op ander punte die Here nie kon navolg nie, want hulle het die mees basiese vereiste om deel van hierdie volk te wees, nie nagekom nie.

Die tweede geslag het dus as onbesnedenes die land betree.  Hulle word nou net ná die Intog in die beloofde land opgeroep om dit reg te stel. Anders sou hulle nie aan die “Heilige Oorlog” kon deelneem nie. “Daar moet weer ‘n besnydenis wees”, sê die Here.  En ‘n volkswye besnydenis volg.

Daarmee het die Here die Israeliete bevry van “die smaad wat van Egipte se tyd af op julle rus.”  Letterlik staan daar dat die smaad van Egipte “weggerol” is van hulle, ‘n woord wat ook die stam (gll) vir die naam Gilgal (gilgāl) vorm.

Gilgal word daarmee ook hulle basis. As heilige plek vir Israel speel dit ‘n rol in Samuel se bediening (1 Sam 7:16) en word Saul se koningskap daar bevestig (1 Sam  11:14).  Ná Jerusalem as die plek van God uitgekies is, het dit ‘n sinkretistiese plek geword waar onder andere tempelprostitusie hoogty gevier het (Hos 4:15; Amos 4:4).

Die eerste paasfees in die land Kanaän – Josua 5:10-12

Net hierna word die eerste paasfees in die land Kanaän gevier waarmee die bevryding uit Egipte herdenk is. Omdat hulle die ongesuurde brood en gebraaide koring van die opbrengs van die land kon gebruik, het die manna weggebly, want dit was nie meer nodig vir dié wondervoorsiening van die Here nie. Hulle was in die land van melk en heuning.

View all posts in this series

Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d