Skip to main content

Josua 15 – Juda kry hulle erfdeel met besondere vermelding van Kaleb en Aksa sy dogter

Nadat Kaleb sy deel ontvang het, word ‘n proses van loting gevolg met lootjies (klippies, stokkies, potskerwe) wat ongesiens getrek is uit ‘n houer. Die houer kon ook geskud word totdat een klippie uitskud. Dit is aanvaar as ‘n beslissing van die Here, omdat dit in sy teenwoordigheid gedoen is.

Hierdie loting is onder andere gebruik vir die aanwys van diere vir die heiligdom (Lev 16:8), vir mense wat skuldig is (Jon 1:7), die uitdeel van werk (1 Kron 26:14), ‘n beslissing van die Here (Spr 18:18) en natuurlik ook grondgebied soos hier. Moses het dié proses reeds vroeër beveel (vgl Num 26). Ons tref dit ook aan in die NT met die keuse tussen twee kandidate om die dissipel Judas te vervang (Hand 1:26).

Die eerste gebied word aan Juda toegeken, die een waaraan die beloftes van leierskap gekoppel is (vgl Gen 47-48). Hulle kry die gebied in die suide van die land. Dit was geografies die grootste gebied met 60 stede waarvan Jerusalem egter eers in die tyd van Dawid onder hulle beheer gekom het. Kyk op die kaart wat ek vroeër gegee het om die grense te kan identifiseer.

Kaleb word weereens uitgesonder in die veldtog wat hy gevoer het teen Hebron en Debir (Kirjat-Sefer) om die belofte van die Here in besit te neem. Dieselfde drie reuse wat hy met die verkenning van die land raak geloop het – Sesai, Agiman en Talmai – het hy nou verdryf uit hulle gebied en dit in besit geneem.

Dat dié veldtog nie net om die mans gegaan het nie, is heel duidelik uit die kosbare kleinood van ‘n verhaal wat van Aksa vertel word. Kaleb het haar belowe aan die man wat Kirjat-Sefer (Debir) verslaan en inneem. Otniël was nie links nie, en het dié aanbod aanvaar en Aksa as bruid gekry in ruil vir sy rol in die oorlog. Haar toekoms binne die stamverband was dus gewaarborg. Sy het ook ‘n man gekry wat later ‘n groot rol as rigter sou speel (Rigt 3).

Aksa was egter ook besonder skerp en vooruitstrewend, en vra onmiddellik vir beter grond van haar pa. Sy wou landbougrond hê en het aangehou by Otniël om nie tevrede te wees met wat haar pa Kaleb vir hom gegee het nie. Sy kry presies wat sy vra, ‘n stuk vrugbare grond met standhoudende water uit ‘n aantal verspreide fonteine, beide in die berge as in die vlaktes.

Die skrywer lys dan die sestig stede wat deel van hierdie stamgebied geword het, maar lewer ook die stukkie kommentaar dat die mense van Juda dit nie kon regkry om die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, te verdryf nie. “Hulle woon vandag nog daar saam met die mense van Juda.

Benewens die feit dat dit wys hoe ‘n moeilike proses die “skoonmaak”-veldtog was, dui die kommentaar ook aan dat die boek gefinaliseer is vóór Dawid uiteindelik ongeveer vier eeue later Jerusalem finaal ingeneem het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Josua


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar