Inleiding – Die verhaal van die geboorte en kinderjare van Jesus
Die Nuwe Testament begin met die verhaal van die geboorte en kinderjare van Jesus Christus. Die historiese werklikheid daarvan word in die eerste eeu van ons jaartelling begrond deur veral die evangelies van Lukas en Matteus. Markus konsentreer eerder op die openbare bediening van Jesus en laat die verhale van Jesus se geboorte en kinderjare uit.
Lukas en Matteus bevestig met hierdie verhale die betroubaarheid van die verhaal van Jesus se menswording. Jesus na sy menslike gestalte is in Nasaret gebore uit die maagd Maria, uit die geslag van Juda, as vervulling van die belofte aan Abraham, die Messias van die wêreld.
Dit is egter nie al nie. Jesus se verhaal word in die vierde evangelie Johannes nog vroeër begrond. In God se tyd, die ewige werklikheid. Voordat alles gemaak is, voordat daar selfs iets soos tyd was. “In die begin …” (Joh 1:1). Daarmee skakel Johannes sy evangelie direk aan die eerste verse van die Bybel in Genesis 1: “In die begin …” (Gen 1:1). Jesus in sy goddelike gestalte was dus van altyd af daar.
Om die res van die boodskap van die evangelies te verstaan, trouens van die Nuwe Testament self, moet ‘n mens dus van meet af rekening hou met die verhale van Jesus se geboorte en sy kinderjare. Dit verskaf die fondament vir alles wat die Nuwe Testament verder oor Jesus openbaar. Hy is die Seun van die mens, sowel as die Seun van God.
Om die werklikheid van Jesus se geboorte te bevestig, vertel die evangelie van Lukas agt verhale. Daarmee word die geboorte van beide Johannes die Doper as Jesus van Nasaret in konteks geplaas. Lukas brei ook uit oor die effek van hierdie boodskap op die eerste gehoor, die herders.
Matteus weer vertel net een verhaal rondom Jesus se geboorte voordat hy vyf verhale van Jesus se kinderjare vertel. Soos Lukas anker hy egter daarmee Jesus in beide die wêreldgeskiedenis en die verhaal van die Joodse volk. Daar is ook twee geslagsregisters wat hierdie twee wêrelde verbind. Lukas verbind Jesus aan die menslike geslag. Matteus verbind Jesus aan die Joodse geslag.
Dit is ook duidelik dat die verhale van hierdie twee skrywers van ooggetuies af kom wat die betroubaarheid daarvan beklemtoon. Die onderlinge nuanse verskille beklemtoon die egtheid van die onderskeie perspektiewe op Jesus.
Met hierdie boek wat die onderskeie verhale kronologies aanbied, kan jy dus jou instudeer in die begin van die storielyn van Jesus sodat jy ‘n waardering vir die res van sy boodskap kan kry.
Daar is 22 perikope wat jy deur die loop van vier weke kan deurlees. Byvoorbeeld elke dag van die vier weke van Advent vanaf Sondag 30 November tot net voor Kersfees Donderdag 25 Desember in 2025.
- Registreer by Bybelskool.com as jy die bydraes daagliks via e-pos wil ontvang
- Registreer by hierdie skakel as jy die bydraes daagliks via Whatsapp wil ontvang
- Laai die boek af in pdf formaat as jy dit op jou rekenaar wil lees
Môre is daar nog ‘n bydrae oor hoe ons die Skrifgedeeltes gaan lees. Sondag is die eerste verhaal uit die Bybel.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Jesus se geboorte en kinderjare

Onlangse kommentaar