Skip to main content

So moet julle dan bid

MATTEUS 6:5-15

5 “En wanneer julle bid, moenie wees soos die skynheiliges nie, want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat hulle deur die mense gesien kan word. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het hulle beloning ontvang.

6 Maar wanneer jy bid, gaan in jou kamer in en sluit jou deur en bid privaat tot jou Vader; en jou Vader wat dinge sien wat privaat is, sal jou beloon.

7 En wanneer julle bid, moenie baie woorde gebruik soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle oor hulle baie woorde verhoor sal word.

8 Moet dan nie soos hulle wees nie, want julle Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra.

9 So moet julle dan bid:

Ons Vader in die hemel,

laat u Naam geheilig word.

10 Laat u koninkryk kom.

Laat u wil op die aarde geskied,

soos in die hemel.

11 Gee ons vandag die brood

wat ons nodig het.

12 En vergewe ons ons sondes,

soos ons ook dié vergewe het

wat teen ons sondig.

13 En laat ons nie in versoeking kom nie,

maar verlos ons van die bose. (‘n Aantal minder goeie manuskripte het ook nog want aan U behoort die koningskap en die krag en die heerlikheid vir altyd. Amen)

14 Want as julle mense hulle oortredings vergewe, sal julle Vader in die hemel julle ook vergewe.

15 Maar as julle mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredings ook nie vergewe nie.”

Teks en konteks

6:5 Dieselfde as wat vir liefdadigheid geld, geld ook vir die gebede. Jesus wys nie openbare gebede af nie. Dit was net dat die skynheiliges die sinagoges en die straathoeke uitgekies het vir vertoon. Daarom hierdie voorskrif. Gebed is nie ‘n vertoning vir mense nie, maar ‘n eerlike toenadering tot God.

6:6 Jesus raai sy volgelinge aan om eerder na hulle binneste kamer (tameion) te gaan. Dit was waarskynlik die binneste kamer in die Joodse huise wat as pakplek gedien het en nie vensters gehad het nie.  Hulle moet die deur toemaak en daar in die verborgenheid tot die Vader bid, want God weet immers wat hulle nodig het en sal hulle privaat gebede beloon. Hulle kan staatmaak op God se alwetendheid in gebed.

6:7-8 Jesus skryf ook voor dat hulle nie met woorde moet mors soos die heidene nie, want God weet wat hulle nodig het nog voordat hulle vra.  Weereens word God se alwetendheid as ‘n gerusstelling en aanmoediging tot gebed gebruik.

Dan leer Jesus hulle hoe om te bid. Let op hoe die gebed met God begin: met lofprysing, met verlange vir die koninkryk, en met ‘n aanvaarding van wat God begeer. Dit is eers dan wat die gebed fokus op ons behoeftes aan kos, vergifnis en beskerming.

6:9 Die eerste bede begin met die erkenning van God se Vaderskap wat tot die heiliging van sy Naam moet lei. Ons vertroue is op Hom gerig. Hy sal immers veel eerder antwoord as wat aardse pa’s dit sou doen. Dit is ook ‘n gebed dat God se eer bó alles sal staan; dat daar ontsag vir Hom sal wees oor die hele aarde; dat mense Hom sal ken soos Hy waarlik is; dat almal God sal heilig, roem en prys in al sy werke.

6:10 Die tweede bede fokus op sy koninkryk wat moet kom, beide in terme van sy heerskappy in die wêreld as in sy kinders se lewe. Dit is ‘n versugting dat dinge op aarde reggestel sal word soos God dit van die begin af bedoel het (Rom 8:26) en dat almal hulle al hoe meer sal onderwerp aan sy koningsheerskappy. God moet alles en in almal wees.

Die derde bede fokus daarom op sy wil wat op aarde moet geskied presies net soos Hy dit in die hemel besluit het  (vgl. Openb. 4-5); dat mense hulle sonder teëpratery aan God se wil sal onderwerp, want sy wil alleen is goed. Dit beteken natuurlik dat ‘n mens jou eie wil prysgee soos Jesus in Getsemane gebid het: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Matt. 26:39,42).

6:11 Die vierde bede: “Gee ons vandag die brood wat ons nodig het,” kan op verskillende maniere verstaan word. Dit wentel om die verskillende betekenisse wat die Griekse byvoeglike naamwoord “epiousio”, wat normaalweg as “daaglikse” vertaal word, kan inhou.

  • Epiousio kan as “daaglikse” brood verstaan word: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Dit is die normale manier waarop dit verstaan word, en maak sin in die lig van ander uitsprake van die Here wat sê dat ons ons nie oor die dag van môre moet bekommer nie. Dit is ook soos die manna wat net vir die dag wat dit gegee is, vars gebly het, behalwe op Vrydae wat dit ook tot die Saterdae gehou het.
  • Epiousio kan ook “bestaan” beteken. Dan kan ons vertaal: “Gee ons vandag ons bestaansbrood.” Dit maak eweneens sin dat dit gaan oor die kos wat ons nodig het om van te lewe. Dit is soos Peterson dit dinamies vertaal: “Keep us alive with three square meals.”
  • Epiousio kan ook “die volgende dag” beteken. Dan kan ons vertaal: “Gee ons vandag ons brood vir môre.” Dit maak ook sin as ‘n mens dit in die aand bid met die oog op die volgende dag.
  • Epiousio kan ook “toekoms” beteken. Dan kan ons vertaal: “Gee ons vandag ons brood vir/van die toekoms.” Dit maak vir baie geleerdes sin, want dit beteken dat ons eintlik bid dat God se beloftes vir die toekoms vandag waar sal word.

Die keuse is joune! Wat maak vir jou die meeste sin?

Ons erken met hierdie gebed dat God die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons inspanning en werk nie kan slaag sonder God se gawes en seën nie. Ons stel daarom ons vertroue in Hom en sy voorsiening alleen en nie in enige menslike voorsiening nie.

6:12 Die vyfde bede se laaste deel is eintlik in die verlede tyd geskrywe. Ons bid dus dat God ons sal vergewe, soos ons ons skuldenaars vergewe “het”, d.w.s. reeds in die verlede vergewe het. Dit is nogal belangrik in die lig van die waarskuwing in die volgende verse dat God met ons sal maak, soos ons met ander doen, spesifiek in terme van vergifnis. Die Griekse woord opheilēma  wat met “sonde” vertaal is, dra die betekenis van morele skuld oor.

6:13 Die sesde bede: “Laat ons nie in versoeking kom nie”, kan ook vertaal word as: “Lei ons nie in (‘n tyd van) toetsing nie” wat retories verstaan kan word as “laat ons nie sondig nie”. Dit maak vir my baie sin, want God kan niemand versoek nie, en die gebed gaan mos eintlik oor die feit dat ons van God vra om ons digby Hom te hou, sodat ons nie afdwaal deur ons sonde nie.

Die frase: “Verlos ons van die Bose,” is ‘n beter vertaling as: “Bewaar ons van die Bose”. Dit gaan oor die verlange dat God finaal met die Bose sal klaarspeel. Die Bose (ponerou) kan ook onpersoonlik verstaan word, maar verpersoonliking maak vir my hier beter sin weens die bepaalde lidwoord wat daarmee saam gebruik word. Dit is ook hoe dit gebruik word in Matt. 5:39.

Die byvoeging “Want aan U behoort …” wat soms in later manuskripte voorkom, is waarskynlik liturgies bygevoeg, en kom uit ‘n aanhaling uit die OT, 1 Kronieke 29:11.

6:14-15 Daarby lewer Jesus dan ‘n stukkie ekstra kommentaar op die vyfde bede waarmee Hy daaraan ‘n belangrike prominensie verleen: As julle vergeef, sal die hemelse Vader julle ook vergeef; as julle egter nie vergeef nie, sal die Vader julle ook nie vergeef nie.  Dit versterk die idee van hoofstuk 5 dat ons lewe daarop gefokus moet wees om van vyande vriende te maak – geseënd is die vredemakers.

Boodskap en betekenis

Matteus gee hierdie ses aspekte van Jesus se Ons Vader gebed weer wat as omvattende model vir ons “binneste kamer” gebed kan dien.  Dit is ‘n raamwerk wat regtig as ‘n omvattende raamwerk vir ons eie gebede kan dien.

Drie daarvan het met God self te make:

  1. Laat u Naam geheilig word;
  2. Laat u koninkryk kom;
  3. Laat u wil geskied – op die aarde soos in die hemel.

Drie daarvan het met onsself te make:

  1. Gee ons vandag ons daaglikse brood;
  2. Vergeef ons ons sondes – omdat ons ook hulle vergeef het wat teenoor ons gesondig het;
  3. Laat ons nie in versoeking kom nie – maar verlos ons van die Bose.

Leer dié gebed uit jou kop uit in ‘n vertaling wat jy verkies, en bid dit gereeld.

Hier is ‘n pragtige voorbeeld uit The Message (Peterson):

Our Father in heaven,

Reveal who you are.

Set the world right;

Do what’s best—

as above, so below.

Keep us alive with three square meals.

Keep us forgiven with you and forgiving others.

Keep us safe from ourselves and the Devil.

You’re in charge!

You can do anything you want!

You’re ablaze in beauty!

Yes. Yes. Yes.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar