As jy kyk na ‘n vrou om haar te begeer, het jy reeds in jou hart egbreuk gepleeg
MATTEUS 5:27-30
27 “Julle het gehoor dat gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ (Eks. 20:14; Deut. 5:18)
28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer alreeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.
29 As jou regteroog jou laat sondig, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af, want dit is vir jou beter dat een van jou ledemate verlore gaan en jou hele liggaam nie in die hel gegooi word nie.
30 En as jou regterhand jou laat sondig, kap dit af en gooi dit weg van jou af, want dit is beter vir jou dat een van jou ledemate verlore gaan en jou hele liggaam nie in die hel gegooi word nie.”
Teks en konteks
Jesus begin met ‘n verwysing na die sewende gebod in vers 27, maar hanteer, in vers 28-30, seksuele begeertes eintlik as ‘n voorbeeld van oortredings van die tiende gebod, vóór Hy in vers 31 vv. meer spesifiek by die sewende gebod uitkom.
5:27 Die tweede teenstelling is dus met die sewende gebod (Eks. 20:14; Deut. 5:18) oor egbreuk (moicheia – d.w.s. seks met ‘n vrou wat met iemand anders getroud is), maar hierna as ‘n voorbeeld uitgespel in terme van die tiende gebod oor begeertes.
5:28 Jesus brei hierdie gebod oor seks met ‘n ander man se vrou uit na die koestering van enige seksuele gedagtes oor enige vrou (gunaika), selfs ongetroudes. As jy kyk na ‘n vrou en haar begeer (epithumeō – “wellustig kyk” – vgl. 2 Pet. 2:14), het jy reeds in jou hart met haar egbreuk gepleeg. Die koestering van wellustige gedagte is dus alreeds ‘n oortreding van die wet.
5:29-30 Jesus gebruik twee radikale metafore om die dissipels aan te spoor om hierdie tipe “egbreuk van die hart” ten alle koste te vermy. As jou regteroog, wat jou juis van struikeling moes bewaar, jou egter laat sondig, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af. Dieselfde geld jou regterhand wat moontlik op selfbevrediging dui.
Kap dit af en gooi dit weg “van jou af”. Dit is beter dat ‘n deel van jou vermink word as dat jou hele liggaam, d.w.s. jyself, verteer word in die helse vuur.
Die uitruk van die regteroog en die afkap van die regterhand is hiperbolies bedoel, nie letterlik nie. Maar, die krasheid van die metafore dra op geen onseker wyse die erns van Jesus se bedoeling oor. Die koestering van wellus in jou gedagtes is alreeds die probleem, nie eers die fisiese daad nie. Kinders van die koninkryk hou selfs hulle gedagtes rein, nie net hulle gedrag nie!
Boodskap en betekenis
Jesus veroordeel uiteraard hiermee nie ons natuurlike belangstelling in die teenoorgestelde geslag of selfs ons gesonde seksuele behoeftes nie. Wat Hy hier veroordeel, is die ongewensde gedagtes en fantasieë wat ons koester oor ander. Dit is die koestering van die gedagtes wat reeds in wese sondig is, selfs voordat ons nog daarop met die daad reageer.
Slegte en sondige gedagtes kom immers uit die hart en maak ons van binne onrein, vóórdat ons nog van buite deur ons slegte gedrag onrein raak (Matt. 15:1-20; Mrk. 7:14-23).
Trouens, dié toepassing van die tiende gebod dui op enige verkeerde en sondige gedagte wat ons sou koester. Die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 113 verduidelik dit so:
“Die tiende gebod vra van ons dat selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God nooit in ons hart mag opkom nie. Ons moet altyd en hartgrondig vyande van alle sonde wees en ’n begeerte tot alle geregtigheid hê.”
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
- ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25 - September 12, 2026
- Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12 - September 13, 2026
- Josef-hulle vlug van Betlehem na Egipte - September 14, 2026
- Herodes die Grote pleeg kindermoord - September 15, 2026
- Die Engel van die Here praat in ‘n droom met Josef om terug te keer na Israel - September 16, 2026
- Josef word gewaarsku in ‘n droom om nie in Judea nie, maar in Galilea in Nasaret te gaan woon - September 17, 2026
- Johannes die Doper preek in die woestyn van Judea en kondig die doop van bekering aan - September 18, 2026
- Johannes die Doper waarsku die Fariseërs en Sadduseërs om die vrug van bekering te dra - September 19, 2026
- Jesus word deur Johannes gedoop en met die Gees vervul by die Jordaan - September 20, 2026
- Jesus word deur die Satan versoek in die woestyn van Judea - September 21, 2026
- Jesus gaan woon in Kapernaum en preek in Galilea dat die koninkryk van God naby gekom het - September 22, 2026
- Jesus roep sy dissipels as vissers van mense langs die See van Galilea - September 23, 2026
- Jesus verkondig die evangelie van die koninkryk en groot skares uit Galilea, Sirië, Dekapolis, Jerusalem, Judea en oorkant die Jordaan volg Hom - September 24, 2026
- Geseënd is dié wat weet hoe nodig hulle God het om hulle karakter te vorm - September 25, 2026
- Julle is die sout vir die aarde - September 26, 2026
- Julle is die lig vir die wêreld - September 27, 2026
- Jesus verbreek nie die wet nie, maar vervul dit - September 28, 2026
- Maak vrede as iemand iets teen jou het: jy mag nie moord pleeg nie - September 29, 2026
- As jy kyk na ‘n vrou om haar te begeer, het jy reeds in jou hart egbreuk gepleeg - September 30, 2026
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
originalblizzard19aaa84c56
Baaie insiggewend dat dit gevleg is met10 gebod en hand en oog.