Skip to main content

Numeri 6 – Die impak van geloftes aan en die seën van die Here

Hoofstuk 6 gee aandag aan twee belangrike geestelike instellings in Israel: die gelofte van die Nasireërs en die seën van die priesters.  Die gelofte het te make met absolute toewyding aan die Here.  Die seën het te make met die omvattende sorg van die Here vir sy mense.

Die gelofte van die nasireër was ‘n spesifieke verbintenis van iemand aan die Here, man of vrou, om ‘n spesifieke uitkoms van die Here af te smeek in gebed en deur gedrag.  Gewone mense kon dit dus doen.  Dit kon ook tot ‘n permanente verbintenis lei waar iemand afgesonder is vir ‘n lewensroeping, soos bv. die geval was met Simson as rigter en Samuel as profeet – Num. 6:1-21.

Die Aäronitiese seën was die Here se verbintenis aan die volk dat Hy vir hulle sou sorg met die omvattende beskerming, genade en vrede van sy teenwoordigheid, wat verhoring van gebede en geloftes sou insluit – Num. 6:22-27.

Die gelofte van die Nasireërs – Num. 6:1-21

Mans en vrouens (vgl. Num. 30:3-16) kon die gelofte van die Nasireërs aflê.  Dit was gemik op absolute toewyding aan die Here asook om sy wil in ‘n spesifieke situasie te soek, of uit te voer.  Dit kon spesifiek wees, vir ‘n tydperk wat deur die persoon self gekies is (gewoonlik vir ‘n periode van dertig dae volgens die Joodse Mishna), óf dit kon permanent wees, ‘n lewensroeping soos in die geval van Samuel en Simson.

Die verpligtinge tydens die gelofte het hierdie vier dinge ingesluit:

  1. Geen wingerdprodukte is geëet of gedrink nie (gegis of ongegis);
  2. Geen bier is gedrink nie (gegis van gort);
  3. Hulle hare of baard is ongeskeer gelaat;
  4. Geen kontak met ‘n dooie liggaam is toegelaat nie, selfs nie dié van naby familie nie.

Daar was reëls vir die hervatting van die gelofte as die persoon verontreinig is deur kontak met ‘n lyk, alhoewel geen “afslag” gegee is vir die vorige dae van die gelofte nie.  Twee duiwe as brandoffer en sondeoffer was nodig, sowel as ‘n skuldoffer van ‘n jaaroud lam vir die oortreding.

Die tydperk van ‘n spesifieke gelofte is afgesluit met ‘n ritueel van vyf offers (vgl. ook Num. 15:3,8) waarnatoe familie en gaste genooi kon word, om te deel in die vreugde (Deut. 12:18):

  1. ‘n brandoffer (vir versoening van hulle algemene sondigheid) wat heeltemal verbrand is;
  2. ‘n sondeoffer (vir konkrete sondes waarvoor restitusie nie nodig was nie) wat heeltemal verbrand is;
  3. ‘n maaltydoffer (vir die bevestiging van die verbond met God) waarvan die priesters ‘n deel gekry het, maar die res vir die familie en gaste was;
  4. ‘n graanoffer (vir die viering van die gemeenskap met God) waarvan die priesters ‘n groot deel gekry het;
  5. ‘n drankoffer (een liter wyn) wat gewoonlik met die Fees van die weke – Pinksterfees – geassosieer is, maar hier heel gepas die afsluiting van hulle onthouding van wyn ingelui het! “Daarna is die persoon vry om wyn te drink”!

Die skuldoffer was egter hier nie nodig nie, omdat dit net vir gevalle bedoel was waar restitusie vir een of ander spesifieke oortreding nodig was.

Die man se hare en baard is hierna geskeer (‘n vrou s’n waarskynlik nie) en omdat die hare heilig was, d.w.s. afgesonder aan die Here, verbrand.  Interessant genoeg, weet ons uit latere Joodse gebruike, dat die gemeenskap kon instaan vir dié offers, veral omdat dit ‘n groot uitgawe was.  Só belangrik was die vervulling van geloftes gereken.

‘n Mens moes ook nie traag wees om die offers te bring nie (Deut. 23:21; Pred. 5:3) of offers van ongewenste oorsprong, bv. van prostitusie (Deut. 23:18), of verminkte diere (Mal. 1:14), vir die Here bring nie.  Dit het jou sy gramskap op die hals gehaal.

Spesifieke geloftes

Regdeur die OT is daar voorbeelde van spesifieke geloftes, gekoppel aan ‘n tydperk, wat waarskynlik hiermee verband gehou het, hoewel moontlik nie met al die detail van die Nasireër voorskrifte nie.  Op hierdie woestynreis self is daar ‘n gelofte wat die hele Israel afgelê het in ‘n oorlog teen die Kanaänitiese koning Arad in die Suidland met hulle stede as banoffers (Num. 21:1-3).

Dawid het gereeld geloftes afgelê en betaal.  Toe hy omsingel was van vyande (Ps. 22:26).  Toe hy deur die Filistyne in Gat gevange geneem is (Ps. 56:13).  Om die waarheid te sê, toe hy eenkeer ver in die vreemde was, het hy belowe dat as die Here hom genadig is, sal sy hele lewe uit daaglikse geloftes aan die Here bestaan (Ps. 61:6,9)!

Dawid verbind die betaal van geloftes sterk aan gebedsverhoring (Ps. 65:2; 66:13) wat in die geloofsgemeenskap as sigbare getuienis van God se sorg moes dien: “My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk.” (Ps. 116:18).  En die Psalmdigter, Asaf, moedig die volk sterk aan om hulle geloftes as deel van hulle liturgiese lof aan Hom in die gemeente na te kom (Ps. 50:14).

Permanente geloftes

Simson en Samuel was duidelik lewenslange Nasireërs.  Hoewel Simson gemengde welslae gehad het in sy lewe as nasireër en rigter staan Samuel uit as die nasireër en profeet by uitstek.

In die geval van Simson het die Engel van die Here aan Manoag se vrou ‘n opdrag gegee dat die seun wat God haar in antwoord op haar gebede sou gee, Simson, ‘n nasireër moes wees.  Daarom moes sy ook nie wyn of bier drink nie of iets onreins eet nie, in elk geval goeie raad in ‘n swangerskap (Rigt. 13:2-5)!  Lees meer oor Simson in my preek oor Rigters 13.

Nadat Simson in Delila se strik getrap het deur sy nasireërskap te verbreek met die afsny van sy hare, is sy oë uitgesteek en is hy in Gasa in die tronk gegooi.  Simson het egter daar sy nasireërgelofte met God hernuwe en God het aan hom die krag gegee om die stutpilare van die Dagontempel in Gasa op homself en die duisende feesgangers in die banketsaal om te trek (Rigt. 16:23–31).  Hyself word dus die offer aan God om die “gelofte van sy lewe” te vervul.  Soos Jesus ook later met sy dood sou doen om die Satan en sy werk te oorwin.

In die geval van Hanna het sy belowe dat, as sy ’n seun sou hê – moontlik met die verhaal van Simson as getuienis uit die verlede – sy hom aan die Here sou toewy.  Soos die Spreuke 31 vrou ook gedoen het en sy waarsku juis haar seun teen drank (Spr. 31:2)!  Samuel sou God sy lewe lank dien, het Hanna gesê, en sy hare sou nie afgesny word nie. Hanna het dus in werklikheid belowe dat haar seun ’n nasireër sou wees soos Simson (1 Samuel 1:11).  En watter impak het Samuel nie op die volk gehad nie!  Hy was die nasireër par excellence!

Die verbreking van die nasireër geloftes bring God se oordeel oor die volk

Dit is duidelik dat die nasireër geloftes eintlik ‘n teken was aan die volk dat hulle hele lewe aan die Here toegewyd moes wees.  Daarom dat die profete onder andere na hulle gebreke in dié verband verwys in die oordeel oor die volk.

Amos het in agste eeu v.C. die noordryk, Israel, onder andere ernstig verkwalik, omdat hulle in die pad gaan staan het van mense, wat hulleself aan die Here afgesonder het deur die nasireërgelofte.  Hulle wou dit waarskynlik doen om na God te luister, maar is verhinder en verlei deur die volk: “Ek het van julle seuns as profete laat optree en van julle jongmanne as nasireërs.  Is dit nie so nie, Israeliete? vra die Here.”  Maar hulle het: “die nasireërs laat wyn drink en die profete belet om as profete op te tree.” (Amos 2:11-12).

En die Here het twee eeue later in die sesde eeu v.C. deur Jeremia aangekondig dat Hy nie meer sou luister na mense wat hulle as nasireërs aan Hom wy nie, want sy besluit om oordeel te bring oor die suidryk, Juda, was onafwendbaar: “Sê vir hulle hulle is ’n nasie wat ongehoorsaam is aan die Here hulle God en wat hulle nie laat leer nie. Waarheid het verdwyn, dit word nie meer by hulle gehoor nie. Sny af die hare wat jy as nasireër laat groei het en gooi dit weg, sing op die heuwels ’n klaaglied, want die Here het die volk wat sy toorn laat ontbrand het, verwerp en verstoot.” (Jer. 7:28-29).

Tragies!

Geloftes in die NT

‘n Mens moet dié woord Nasarener wat vir Jesus gebruik word onderskei van die woord Nasireër, soos dit in die OT die geval was met Simson en Samuel. Jesus het nie volgens die Nasireër-eed geleef nie.  Hy het sy hare geskeer, en wyn gedrink. Hoewel Hy natuurlik in alle ander opsigte toegewyd aan die Here gelewe het.  Lees meer in Matteus 2:19-23 daaroor.  Johannes die Doper het egter waarskynlik as nasireër geleef (Luk. 1:15).

Ons lees wel dat Paulus ‘n gelofte afgelê het en sy hare aan die einde daarvan geskeer het (Hand 18:18).  Hy was ook betrokke om saam met ander ‘n reinigingshandeling te ondergaan as afsluiting van hulle gelofte, waar hy waarskynlik vir die koste daarvan ingestaan het (Hand 21:20-26).

Die Aäronitiese seën – Num. 6:22-27

Hierdie Aäronitiese seën was ‘n permanente opdrag aan die priesters in die liturgie (Deut. 10:18).  Ook Dawid (2 Sam. 6:18) en Salomo (1 Kon. 8:14, 55) het die seën gebruik as deel van hulle posisie as konings.  Dit is selfs gebruik wanneer daar een of ander geskil of aanklag uitgesorteer moes word (Deut. 21:5).

Dit was dus bedoel vir die gereelde, normale gebede en aanbidding sowel as die ongereelde, abnormale situasies waarin die volk hulle van tyd tot tyd in hulle verhouding met mekaar sou bevind.

Die seën is in die vorm van ‘n goed uitgewerkte gedig waarvan die eerste reël uit drie, die tweede reël uit vyf, en die derde reël uit sewe Hebreeuse woorde bestaan. In Afrikaans lui dit, meer direk vertaal, as volg:

Die Here seën jou en beskerm jou.

Die Here se gesig skyn oor jou en Hy is jou genadig.

Die Here lig sy gesig op oor jou en Hy gee aan jou vrede.

Hierin het die priesters as God se verteenwoordigers opgetree.  Dit was Hyself wat hierdeur sy seën uitgedeel het.  Daardeur is die Naam van die Here op die Israeliete “gelê”.  Dit het beteken dat die Here self hulle geseën het.  En sy seën was driedelig:

  1. Hy belowe om hulle te beskerm (vgl. Ps. 31:17; 121:3-5, 7-8!).
  2. Hy belowe om hulle genadig of toegeneë te wees (vgl. Ps. 4:2; 51:3; 57:2; 119:135; 123:3) – ‘n metafoor wat die prentjie van: “the beaming face of a parent for his beloved” by ons moet wakker maak (NET Bible).
  3. Hy belowe om aan hulle vrede te gee (vgl. Ps. 85:9,11; 122:6-8).

Die elemente van hierdie seën is telkens as begronding gebruik vir die persoonlike oproepe aan die Here, sowel as die gebede in die gemeente, dat God hulle sal seën soos Hy belowe het: “Verskyn tog tot my redding, red my deur u onfeilbare liefde.” (Ps. 31:17).

Johannes gebruik in die NT elemente van die Aäronitiese seën en koppel dit aan Jesus se vrede wat Hy vir ons belowe vóór sy kruisiging (Joh. 14:27; 16:33) en ná sy opstanding (Joh. 20:19).  Johannes verbind elemente daarvan ook aan Jesus se wederkoms en God se teenwoordigheid in die nuwe hemel en aarde: “die Here God sal hulle verlig” (Openb. 22:5).

‘n Mens kan elemente hiervan ook herken in Paulus se Trinitariese seën in die bekende seëngroet aan die einde van sy tweede brief aan die Korinte: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.” (2 Kor. 13:13).

Boodskap

Hierdie gedeelte het ryk toepassings in ons praktiese geestelike lewe.  Ek wys net op twee.

1.  Aan die een kant wys die nasireërgelofte ons op die impak wat ‘n lewe van toewyding aan die Here kan hê, selfs deur dit in breë trekke na te volg, soos Paulus dit onder andere gedoen het. In elk geval sal ons ten minste onsself aan Paulus se oproep aan die Romeine kan verbind:

En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Rom. 12:1-2).

2.  Aan die ander kant wys die Aäronitiese seën vir ons drie wesenlike kenmerke van God uit: dat Hy beskerm, dat Hy genadig is, en dat Hy vrede gee. Soos Paulus dit as ‘n oproep tot gebed uitdruk in sy brief aan die Filippense: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Fil. 4:4-7).

Ons kan verwag dat God dié seën oor ons sal uitstort.  Aan Hom, en aan Hom alleen, behoort ons lojaliteit en toewyding.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar