Skip to main content

Wees bly – 1 Petrus 1:3-9

My boodskap vanoggend by NG Kerk Walmer 25 Junie 2023 09:00

Die eerste brief van Petrus

Petrus skryf hierdie eerste brief van hom in die vroeë sestigerjare van die eerste eeu nC uit Rome, aangedui as Babilon in die brief (1 Pet 5:13).

Petrus rig sy brief aan die vreemdelinge van die Diaspora (1 Pet 1:1), die term wat normaalweg gebruik is om Jode buite Palestina aan te dui en wat nou op Christene van toepassing gemaak word. Hulle is vreemdelinge binne die politieke bedeling van die streke waar hulle woon, maar hulle is ook deel van die een volk van God wat verspreid is oor die aarde.

Hy skryf aan die gemeentes van Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1 Pet 1:1). Dit is provinsies in die noorde en weste van wat ons vandag ken as Turkye, interessant genoeg juis dele wat nie deur Paulus op sy sendingreise besoek is nie, toe hy verhinder is deur die Heilige Gees om daar te gaan werk (Hand. 16:6-7).

Dit wil dus lyk of dit juis gebiede was wat Petrus besoek het en waar hy die evangelie verkondig het. Hy praat immers van homself ook as ‘n sendeling na die heidene en verwys daarna as iets wat aan die vroeë kerk bekend was (Hand. 15:7-8).

Wat ons wel weet, is dat die wyse waarop die vyf gebiede genoem word ‘n natuurlike roete van opeenvolgende besoeke sou kon beteken, omdat ‘n mens by een van Pontus se hawens sou kon aandoen in die noordooste, die roete deur Galasië kon volg (die noordelike provinsie – Paulus se brief aan die Galasiërs is waarskynlik aan die suideliker etnies-geografiese streek in Turkye gerig, wat ook Galasië genoem is), dan afswaai meer na die binneland in Kappadosië en die roete verder wes na die provinsie Asië kon volg, en dan weer opswaai na die noordweste in Bitinië om weer die reis per boot na Rome te kon voortsit.

Hoe dit ook al sy, dat Petrus ‘n band met hulle gehad het, is duidelik. Hy skryf dus vir hierdie noordelike deel van Turkye.

Die boodskap van 1 Petrus

En wat is die eerste ding wat Petrus na sy inleiding oor die Drie-enige God in die aanhef van sy brief skryf vir hierdie mense wat verspreid bly en vreemdelinge is in die wêreld? Mense wat swaarkry, wat dinge beleef wat nie lekker is nie, wat dreig om moed te verloor.

“Hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God, die Vader, om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees, en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word.”

Hy skryf oor blydskap. Oor die dinge waarop hulle moet fokus sodat daar ‘n blydskap in hulle kan losbars. Dit is soos Nehemia op ‘n kol vir Israel sê: “The joy of the Lord is your strength.” In die Afrikaans word dit nog beter vertaal: “Die  vreugde van die Here, dit is julle toevlug!” (Neh 8:11)

1 Petrus 1:3-9

Kom ons lees daarvan in hoofstuk 1:3-9:

3Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê 4op ‘n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word – 5ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word.

6Jubel hieroor, al moes julle onlangs vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. 7Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – ‘n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word. 8Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom, en jubel julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap9omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele.

Simon Petrus

Dit is maklik om met Simon Petrus te identifiseer. Hy was ‘n oop en eerlike mens, selfs effens driftig. Hy het alles wat hy gedoen het met passie aangepak. Selfs soms ‘n bietjie oorboord gegaan in sy ywer. Twee keer heel letterlik van die skuit in die see (Matt 14; Joh 21)! Albei kere natuurlik na die Here Jesus toe. Die eerste keer gestap op die water. Die tweede keer geswem na die kant toe om die opgestane Here te ontmoet.

In die proses het hy soms foute gemaak. ‘n Oor afgekap. Jesus moes Malgus se oor genees toe Petrus op ‘n ander manier oorboord gegaan het in die tuin van Getsemane (Joh 18:10).

Soms het Petrus egter bitterlik gehuil oor sy beperkinge. In die tuin toe hy die Here Jesus drie keer verloën het (Joh 18:15-18, 25-27). Die Here Jesus het hom egter telkens weer op sy voete geplaas en op ‘n wonderlike manier gebruik as herderleier in die ontwikkeling van die vroeë kerk (Joh 21:15-19).

Petrus se leierskap en geloofsmoed was uitsonderlike gawes aan die kerk van sy tyd. Hy het op onverskrokke wyse die uitdagings van die groeiende vervolging deur die godsdienstige en politieke instansies die hoof gebied, beide persoonlik in die tronk as publiek namens die kerk voor die Joodse Raad.

Maar, so is hierdie brief van hom ook ‘n geskenk aan ons. Veral omdat dit hierdie belangrike fokus het op die vreugde van die Christelike boodskap.

1. God het ons ‘n lewende hoop gegee

Petrus se eerste fokus is op God self en wat Hy vir hulle gedoen het. Hy het hulle in sy groot liefde raakgesien – in watter toegevalde situasie hulle hulle ook al bevind het – en hulle, soos Hy Jesus uit die dood opgewek het, in Hom ook uit die geestelike dood laat opstaan. Hy het hulle uitverkies volgens die voorkennis van God, die Vader, om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees, en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word.

Maar, dit is nie al nie. Petrus verkondig daarmee dat God daarmee die toekoms oopsluit, sodat hulle en ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis in die hemel wat nooit sal vergaan nie. Met die belofte en verwagting dat daardie erfenis nooit besmet kan word deur enige bose of slegte ding nie, en dit daarby nooit sal verwelk of tot niet sal gaan nie.

Want, God self hou ons erfenis vir ons in die hemel in bewaring. Hy staan in vir die belofte van die ewige lewe en die bewaring daarvan, sodat dit inderdaad vir ewig sal duur.

Petrus weet die opstanding van Jesus Christus uit die dood het hierdie erfenis vir ons verwerf. En Petrus is buite homself van vreugde. Wees bly, sê hy, want julle toekoms is verseker.

Die vreugde oor die ewigheid is die basis van ons hoop – ’n lewende hoop – dat ons hierdie erfenis aan die einde van alles in besit sal neem. Dit is die dryfkrag agter ons volharding in hierdie lewe. Want ons weet die einde is goed.

Soos Stephen Covey gesê het oor ons lewensreis: “begin with the end in mind.” Wel, dit is ons einde. Dit is die einddoel van ons lewe. Die dood het nie die laaste sê oor ons nie. Die ewige lewe het.

As jy swaarkry en sukkel – met siekte of met watter uitdaging ook al, dink ‘n slag oor die ewigheid en laat dit jou hart vrolik maak.

Ons gaan regtig vir ewig in die vreugde van die Here lewe. Dit is waarvoor ons gemaak is. Dit is waarmee ons ons hart bly kan maak. Dit is waarmee ons mekaar kan bly maak.

Niks kan tussen ons en ons eindbestemming kom nie. Dit is afgehandel. Die kontrak is geteken. Dit is joune. Dit kan nooit van jou af weggeneem word nie.

2. God se krag bewaar ons

Maar, dit is nie net die belofte van die ewigheid wat ons vreugde verskaf nie. Dit is ook die krag van God self wat ons bewaar vir die ewigheid wat ons vreugde verskaf. Soos Petrus dit sê: Ons word deur ons geloof “deur die krag van God bewaar vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word.”

Laat hierdie gedagte jou blydskap verdiep. Ons gryp vas aan God, omdat Hy ons gegryp het. Die krag van God – wat Hy aanvanklik in die skepping geïllustreer het, en met die opstanding van die Here Jesus Christus uit die dood bevestig het – dié krag is in jou aan die werk. En dit sal jou bewaar vir die verlossing.

Daar kan niks met jou gebeur wat hierdie doel van God met jou kan dwarsboom nie. Nie siekte of swaarkry of die dood nie. Nie eensaamheid, of gebrek, of verlies nie. Niks nie.

Dit is met hierdie twee bronne van vreugde wat ons die swaarkry moet hanteer. Die blydskap oor die ewigheid. En die blydskap oor God se krag.

3. Swaarkry is vir ‘n kort tydjie en bewys die egtheid van ons geloof

Dan gaan Petrus verder en fokus op die dinge wat ons hartseer kan maak. Hy is baie bewus van al die beproewings waaraan ons blootgestel word. Maar, hy het drie opmerkings daaroor wat ons kan bemoedig.

  1. Die eerste is dat dit vir ‘n kort tydjie is. Veral as ‘n mens dit meet aan die lengte van die ewigheid.

  2. Die tweede is dat beproewings nie doelloos is nie. Dit is die manier waarop God die egtheid van ons geloof vir almal kan wys. Dat ons vertroue op God – wat “baie kosbaarder is as goud” – kan “uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word.”

Waar ons die uitdaging van beproewings aanvaar en getrou bly in vertroue op God, kan almal sien dat God vir ons regtig belangrik is. Kan almal sien dat ons Hom regtig liefhet, en Hom vertrou om alles ten goede te laat meewerk.

  1. Maar, die belangrikste is die derde ding. Petrus roep ons op om te jubel met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap. Hoekom?

“Omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele.”

Dit is die vernaamste perspektief wat ons met ‘n “onuitspreeklike en heerlike blydskap” moet vervul, want dit bewys dat ons reeds verlos is, en dat ons nou al deel het “aan die doel van julle geloof”, naamlik die verlossing van ons siele.

Dit is die doel met swaarkry. Dit wys die egtheid van ons geloof, iets wat baie kosbaar is. Dit wys dat ons geloof eg is, dat dit die moeite werd is. Dit wys dat ons reeds verlos is!

En dit bring eer aan die Here self. Dit wys dat Hy die moeite werd is, selfs al kos dit ons baie beproewings.

Petrus sê, kyk na goud. Mense doen baie moeite om goud mooi te kry. Hulle sit dit in ’n warm vuur om al die vuilgoed weg te brand. Dan is die goud mooi suiwer.

Nou sê hy, met geloof is dit ook so. Swaarkry is soos die vuur wat jou geloof mooi skoon brand.

En hy moedig ons aan om as dit sleg met jou gaan, jy nie verlei sal word om weg te draai van die Here af nie. Want, wanneer Jesus weer kom, sal almal sien hoe lief jy vir die Here was. En sal jou lewe van volharding eer aan Hom gee.

Wat sê dit vir ons?

  1. Ons moet ‘n slag ons geestelike bril opsit en met nuwe waardering kyk na die ewigheid wat vir ons wag. Dit is ‘n werklike hoop. Dit is iets wat ‘n mens met vreugde vul.
  2. Ons moet ‘n slag met nuwe oë kyk ook na die beproewings waardeur ons gaan. Dit suiwer ons geloof. Dit wys vir die wêreld dat ons geloof eg is.
  3. Ons is immers reeds verlos! En dit sal uiteindelik lof en eer aan God bring as almal uiteindelik ons status as God se kinders sal erken.

Ons moet dus soek vir en staatmaak op die krag van God wat ons staande sal hou in ons beproewings.

Die vreugde van die Here – die vreugde wat die Gees gee – is ons toevlug. Dit gee ons krag.

Slotlied 209 (2x): Heer, met my hele hart vers 1

Heer, met my hele hart

kom sing ek ‘n lofsang,

kom ek van u magtige wonders vertel

en van al u reddingsdade.

Heer, met my hele hart

kom sing ek ‘n lofsang.

Ek wil oor U altyd bly en vrolik wees,

ek wil u Naam besing.

Ek wil oor U altyd bly en vrolik wees.

Halleluja!

 


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar