Skip to main content

Jesus vertel die gelykenis van die mosterdsaad

Die gelykenis van die mosterdsaad kom in al drie Sinoptiese Evangelies voor. Markus (4:30-32) beklemtoon die verbasende kontras tussen die klein begin en die groot eindresultaat, terwyl Lukas (13:18-19) die fokus plaas op die ruimte wat die volgroeide boom vir ander skep. Matteus verbind albei temas en gebruik die beeld om die klein begin, groeiende invloed en wêreldwye omvang van die koninkryk van die hemele te beskryf. Die fokus is op die geduld wat die dissipels aan die dag moet lê met die wyse waarop die koninkryk kom. Dit begin klein en ontwikkel stadig, maar dra uiteindelik groot vrug en bereik die hele wêreld weens die deurdringende goddelike aard daarvan.

MATTEUS 13:31-32

31 Hy het vir hulle ’n ander gelykenis vertel en gesê: “Die koninkryk van die hemele is soos die saad van ’n mosterdplant wat ’n man geneem en in sy saailand gesaai het.

32 Dit is die kleinste van alle sade, maar wanneer dit gegroei het, is dit groter as die tuinplante en word ’n boom, sodat voëls van die lug kom en in sy takke nes maak.”

Teks en konteks

Twee sake kan jou help om hierdie gelykenis beter in konteks te plaas.

Die eerste is dat die mosterdplant baie bekend was in daardie tyd. Trouens, die mosterdplant waarvan Jesus hier praat, was inheems en het op talle plekke langs die kuslyn gegroei. Jesus is juis besig om hierdie gelykenisse by die See van Galilea te vertel (Matt. 13:1) wat beteken dat die gelykenis aansluit by iets wat die skares in hulle omgewing kon sien.

Die tweede is dat die mosterdsaad in die Joodse mondelinge tradisie spreekwoordelik gebruik is om iets as werklik klein te identifiseer. So lees ons dit in die Joodse Mishna (samevatting van al die Joodse mondelingse tradisies wat die wet prakties uitgelê het). Jesus sluit dus hier by die Joodse mondelinge tradisie aan om iets oor die krag van die koninkryk te sê.

13:31 Jesus lê vir hulle die koninkryk van die hemele uit deur van ‘n man te praat wat die saad van ‘n mosterdplant geneem en in sy saailand gesaai het. Dit is ‘n plant wat hulle ook rondom hulle kon sien groei.

13:32 Hy maak dan sy punt deur die mosterdsaad as die kleinste van alle sade (wat in ‘n tuin geplant word) te beskryf, maar soveel potensiaal het dat dit groter as die ander tuinplante word, trouens ‘n boom (een soort word tot sewe meter hoog), sodat die voëls van die lug in sy takke kan nes maak.

Jesus illustreer daarmee die krag van die koninkryk. Dit raak nie net ‘n groot boom nie, maar verskaf skuiling vir die voëls van die lug. Dit is waarskynlik ‘n metafoor vir die nasies wat deel van die koninkryk van God sal word.

Jesus sluit hiermee waarskynlik by die soortgelyke gelykenis van die profeet Esegiël aan. Esegiël het die Messiaanse koninkryk met ‘n sedertakkie vergelyk wat God beloof het om te plant en tot ‘n groot seder te laat groei waarin al die voëls sal woon, d.w.s. wat ‘n universele impak sal hê. (Eseg 17:22-24; vgl. ook Eseg 31 en Dan. 4 vir soortgelyke metafore).

Jesus sal die beeld van die mosterdsaad ook later net ná sy verheerliking op die berg gebruik om die krag van geloof te illustreer (Matt. 17:19-20). Hy spreek daar sy dissipels aan oor hulle gebrek aan geloof nadat hulle ‘n maansiek kind nie kon genees nie. Selfs die geringste vorm van geloof, selfs so klein soos ‘n mosterdsaad, sal die grootste hindernis kan oorkom, leer Jesus hulle daar. Niks sal dan vir hulle onmoontlik wees nie. Hulle sal berge kan versit.

Boodskap en betekenis

Hierdie gelykenis is ryk aan betekenis. Dit praat oor die krag van die koninkryk van God. Dit praat oor die universele betekenis wat dit in die wêreld sal hê. Dit moedig ons aan om God te vertrou dat Hy hierdie krag ook in ons omgewing sal laat grondvat.

Hier is ‘n verhaal om jou te motiveer om God hiervoor te vertrou.

Die koms van die koninkryk in Nigerië

Die NG Kerk se verbintenis met Nigerië kom van die sendingbeweging vanaf 1907. Dr Karl Kümm van SUM (Sudan United Mission) het Suid-Afrika op versoek van dr Andrew Murray besoek. Dit het gelei tot die finalejaar teologiestudent, George Botha, en ’n verpleegster, CM Cilliers, wat die roeping na Nigerië aanvaar het.

George het eers ses maande mediese opleiding in London ontvang en saam met nog ’n sendeling Vincent Hosking het hulle in 1908 na Nigerië vertrek. CM Cilliers het in 1909 by hulle aangesluit.

Hulle het aanvanklik in Mbula gewerk en later na Salatu (Saaiutu) getrek om die evangelie aan die mense van Tivland te verkondig. Talle sendelinge het die volgende vyftig jaar daar gewerk en veral Bybelskole en Sondagskole ontwikkel. Die ortografie van die Tiv-taal as geskrewe taal is ook deur die sendelinge ontwikkel en die huidige amptelike Bybelvertaling in Tiv is in 1964 voltooi.

Dit was ’n uitdaging, want daar is bv nie woorde vir Bybelterme soos “liefde”, “aanbidding”, en “heilig” in die Tiv-taal nie. Hulle het uiteindelik besluit om “liefde” te vertaal met ’n omskrywing: “goed vir jou hart”, doishima in Tiv. Dit het daarna die woord vir liefde geword wat in Bybelvertalings gebruik is. “Heilig” is weer vertaal met “spierwit”!

Hoewel die sendingwerk moeilik was en stadig gevorder het – net 25 bekeerlinge in die eerste 25 jaar van sendingwerk – het uit hierdie sendingwerk twee kerke ontwikkel wat vandag ongeveer drie miljoen lidmate gesamentlik bedien.

Die eerste kerk wat geplant is, was die NKST (Nongu u Kristu u i Ser u sha Tar). Dit staan vandag bekend as die Universele Gereformeerde Christelike Kerk. Hulle hoofkantoor is in Mkar-Gboko in die staat Benue met gemeentes wat regoor Nigerië en ook buite hulle grense strek. Hulle het meer as ‘n miljoen lidmate in 360 gevestigde gemeentes, en 4 134 ander kerkies. Hulle bedryf 9 hospitale en 352 gesondheidsentrums, sowel as 500 laerskole en 53 hoërskole. Hulle bedryf ook sewe tersiêre inrigtings wat op teologie en gesondheid fokus. In 2005 het hulle ook die universiteit Mkar begin.

Die tweede kerk wat geplant is, is die Evangelical Reformed Church of Christ. Hulle word veral in die oostelike provinsies van die state Kwara, Niger, Suid Zaria, Suidelike Plato en Akwa Ibon gevind. Hulle lidmaatgetalle het baie gegroei die afgelope twee dekades en daar is vandag ongeveer een en ‘n halfmiljoen lidmate in honderde gemeentes.

Daar is nog drie ander kerke wat hulle ontstaan na hierdie werk herlei – voorwaar ‘n voorbeeld van die krag van die koninkryk. Dit is regtig soos ‘n mosterdsaad wat ‘n boom word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Matteus-leesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar