Skip to main content

Rigters 10

Tola en Jaïr lei Israel vir 45 jaar maar die Here raak onwillig om te red

Teks en konteks

Die volgende drie hoofstukke beskryf vir ons eers twee kleiner rigters, Tola en Jaïr. Daarna word die verhaal van die groot rigter Jefta in al sy kleur en geur vertel. Die laaste hoofstuk sluit met die verhaal van drie kleiner rigters, Ibsan, Elon en Abdon. Vir die eerste keer sien ons dat die siklus van verval en verlossing die Here se geduld begin beproef … Hy begin onwillig raak om te red sonder dat die volk in ‘n volhoubare verhouding met Hom bevestig word.

Tola hou die naam van Issaskar hoog

Na Abimelek het Tola na vore gekom om die Israeliete te red. Hy was uit Issaskar en was vir 23 jaar lank ‘n rigter van Israel. Geen ander detail is oor hom bekend nie.

Jaïr verwerf vir hom ‘n naam met sy 30 seuns en hulle tentdorpe

Na Tola het Jaïr uit Gilead (die halwe stam Manasse oos van die Jordaan) na vore gekom wat 22 jaar lank ‘n rigter van Israel was. Oor hom is daar meer bekend. Hy het 30 seuns gehad en elkeen van hulle het op ’n jong donkie gery, voorspoedige vername mense. Hulle het ook 30 dorpe besit wat met die skrywe van die boek steeds die tentdorpe van Jaïr genoem is, soos die geval was met van hulle voorsate (Num 32:41; Deut 3:14; Jos 13:30). Meer as dit is nie oor hom bekend uit die boek Rigters nie.

Die Here raak onwillig om in te tree om die volk van hulle afvalligheid te red

Die werk van Tola vanuit Issaskar en dié van Jaïr vanuit Manasse het wel betekenis gehad vir die Israeliete, maar waarskynlik op ‘n meer lokale skaal. Dit kon nie voorkom dat die Israeliete oor hulle hele gebied in hulle ou gewoontes verval om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie.

Hierdie keer het hulle nie net die Baäls en die Astartes vereer nie, maar ook ‘n hele reeks van vyf ander: die gode van Sidon, dié van die Arameërs, dié van die Moabiete, dié van die Ammoniete en ook dié van die Filistyne. Sewe gode of godedomme in totaal. Hulle was op ‘n groot skaal ontrou aan die Here. Trouens, hulle het nie eers meer voorgegee dat hulle Hom dien nie.

Uiteraard het die Here vir hulle kwaad geword en hulle dié keer oorgegee in die mag van die Filistyne en die Ammoniete, maar hierdie keer nie in die hoop dat hulle tot inkeer sou kom nie. Nee, Hy het onwillig begin raak om die herhaalde afvalligheid om te keer. Terloops, die verhaal van die Filistyne sal natuurlik met die verhaal van Simson verder aangeraak word. Dit kan wees dat die verhaal van Jefta en Simson moontlik gelyklopend afgespeel het.

Die Ammoniete (NAV het verkeerdelik Amoriete) verdruk daarom die Israeliete in Gilead vir 18 jaar, presies die plek waar Jaïr vroeër moedig probeer het om hulle invloed teë te staan. Die Ammoniete het selfs die Jordaan oorgesteek en teen Juda, Benjamin en Efraim gaan oorlog maak en die hele Israel swaar laat ly.

Uiteindelik het die verdrukking só groot geword dat die Israeliete verenig het in hulle verootmoediging voor die Here in skuldbelydenis: “Ons het teen U gesondig. Ons was ontrou aan ons God en ons het die Baäls gedien.

Anders as die vorige kere het die Here egter dié keer nie so maklik bes gegee en eenvoudig tot ‘n reddingsaksie oorgegaan nie. Hy het hulle herinner aan die groot aantal kere – ook sewe in totaal wat ooreenkom met die aantal gode of godedomme wat hulle aanbid het – wat Hy al sedert die tyd van hulle slawerny in Egipte ingegryp het: die Egiptenaars, die Amoriete, die Ammoniete, die Filistyne, die mense van Sidon, Amalek en Maon (waarskynlik ‘n skrywersfout vir Midian – Maon kom eers later voor in die geskiedenis: 1 Kron 4:41; 2 Kron 20:1; 26:7).

Hierdie keer moes hulle maar self sien en kom klaar met die gode wat hulle gekies het: “Laat hulle julle red noudat julle swaarkry.”

Dit het die gewenste uitwerking, want Israel het besef dat hulle regtig te ver gegaan het dié keer, en vra dat die Here moet doen wat Hy goed vind, as Hy maar net dié keer tog weer sal luister na hulle smeekgebed: “Ons het gesondig! Doen U met ons wat goed is in u oë, maar red ons tog net vandag!”

Hulle het egter meer gedoen as maar net praat en begin om die ander gode tussen hulle uit te verwyder. En met die diens van die Here aan die herstel, het die Here ook geluister en hulle lot weer ‘n keer verander en: “’n end gemaak aan hulle swaarkry.”

Met die dreigende gevaar van die Ammoniete wat in Gilead kamp opgeslaan het, het Israel verenig en in Mispa kamp opgeslaan. Die vraag was net wie sou hulle in dié oorlog aanvoer. Dié man moes die leier van al Gilead se mense word …

Die tafel was gedek vir die verhaal van Jefta.

Boodskap en betekenis

Genade het sy beperkinge. Waar herhaaldelik oortree word en die verlossing wat God gee, versmaai word, kan dit blyk dat die genade onbenut bly in iemand se lewe. Nie asof die genade nie genoegsaam is van God se kant af nie, maar deur die ongeloof en ongehoorsaamheid van die mens se kant af versaak en verwerp word.

En soos Hebreërs 6 ons waarsku, dit is onmoontlik: “om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Hebr 6:4-6).

Die Hebreërskrywer gebruik die metafoor van: “die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking—die einde daarvan is verbranding.” (Hebr 6:7-8).

Hy is egter duidelik daaroor dat hy van beter oortuig is van die gemeente in Rome vir wie hy skryf: “Maar, geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge oortuig, dinge wat saamhang met die saligheid, al spreek ons ook so.” (Hebr 6:9).

Sonde het gevolge, en een daarvan is dat ‘n mens so gewoond raak daaraan dat dit later nie eers meer raakgesien word as sonde nie. En die gevaar is dat ‘n mens so ver wegdwaal van die waarheid dat die pad terug daarheen amper ‘n saak van onmoontlikheid word. Soos dit die geval met Judas was.

Daarom dat dieselfde Hebreërskrywer ons aanmoedig om uiteraard self te let op ons leer en lewe, maar ook sorg te dra dat daar nie ‘n gees van afvalligheid rondom ons in mense posvat dat dit vir hulle later onmoontlik raak om die pad terug te vind nie. ‘n Verskriklike gedagte, maar iets wat ons vanuit die verhale uit Rigters en die soortgelyke verhale uit Hebreërs ter harte moet neem.

Paulus het verraai en verlate gevoel deur Demas wat die teenswoordige wêreld lief gekry het (2 Tim 4:10) nadat hy nog saam met Paulus die brief aan die gemeente van Kolossense en Filemon help skrywe het (Kol 4:14; Fil 24). En ‘n mens onthou die skade wat Himeneus en Alexander hom aangedoen het met hulle laster en bose dade (1 Tim 2:20; 2 Tim 4:14).

God se genade word in geloof en bekering ontvang en lei tot getrouheid en gehoorsaamheid, so sê ons Dordtse voorvaders. Genade kom tot sy volle verwerkliking in jou lewe deur die bekering wat God skenk, soos die Dordtse Leerreëls dit so mooi stel (DL 1.1.15). Dit sluit: “die ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ensovoorts (2 Kor 13:5)” in (DL 1.1.12).

Waar hierdie geloof, die vrees van God, die droefheid oor die sonde, die honger en dors na die geregtigheid afwesig is, het die genade nog nie sy volle doel met ‘n persoon bereik nie en moet aan Hom vasgegryp word totdat die sekerheid opdaag (DL 5.1.9).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda