Bybelskool

Rigters

Die boek Rigters

Soos met die meeste Ou Testament boeke, is die skrywer van die Rigterboek nie vir ons bekend nie.  Wat ons wel weet, is dat die verhale van die Rigterstyd met tyd versamel is, by mekaar gepas en deur ‘n eindredaktor in die tyd na die ballingskap in ‘n boek gefinaliseer is (vgl. 18:30).

Die boek handel oor die tyd na die aanvanklike inname van die land deur Josua en die stryd om te oorleef in die land tussen die nasies wat steeds daar gebly het.  Die boek vertel die verhaal van die wel en wee van die volk tussen ongeveer 1400 en 1050 v.C.

Die tyd van die rigters was ‘n tyd van groot afvalligheid en ongehoorsaamheid aan die Here.  Die volk het telkens weer afvallig geraak van die Here en die omringende nasies se afgode aanbid en by hulle onsedelikheid betrokke geraak.  Die leiers wat die Here gebruik het, was ongelukkig ook nie van dieselfde statuur as ‘n Moses en ‘n Josua nie, wat beteken het dat die verlossing wat die Here deur hulle bewerk het, meesal net vir ‘n tyd was, waarna die volk weer afvallig geraak het.

Een van die redes hiervoor was dat die inname van die land in der waarheid ‘n stadiger proses was as die indruk wat die boek Josua wek.  Waar Josua vertel dat die stamme saamgestaan het om die land te verower, berig Rigters dat elke stam daarvoor verantwoordelik was om die gebied wat aan hom toegeken is, te verower.  Al die stamme het ook nie met ewe veel sukses hulle gebiede verower nie.  Juda het die meeste sukses behaal, die ander stamme was minder suksesvol.

Daarby was die inname ook onvolledig, met ‘n groot aantal Kanaänitiese volkere wat tussen die Israeliete bly voortbestaan het.  Dit het beteken dat daar telkens die versoeking was om deel te neem aan die heidense feeste, waarin veral die onsedelikheid daarvan ‘n impak op die volk en hulle verhouding met die Here gehad het.

Sommige van die Kanaänitiese volke het saamgewerk met die Israeliete, bv. die Keniete (bv. Jael wat vir Sisera gedood het) wat volgens oorlewering familie van hulle was vir Jetro wat van Abraham se vrou Ketura afgestam het.  Moses was getroud met Jetro se dogter, Siporra, dus ‘n Kenitiese vrou.

Die verskillende verhale van dié tyd word kenmerkend in dieselfde patroon gegiet.

  1. Elke verhaal begin met die volk wat afvallig word.
  2. Die Here straf die volk en gee hulle oor aan onderwerping en onderdrukking deur die omringende nasies.
  3. As die volk te swaar begin kry, kom hulle tot inkeer, en roep na die Here om uitkoms.
  4. Dan luister die Here, stuur ‘n leier om hulle uit hulle penarie te red en verlos hulle. Net om daarna maar weer te sien dat die volk afvallig word, gestraf word, roep na die Here en uit genade verlos word.

Die leier wat die Here stuur, was dikwels ‘n onbelangrike (Gideon) of kontroversiële (Ehud en Jael was sluipmoordenaars,  Jefta was ’n huursoldaat) persoon of van twyfelagtige moraliteit (Simson wat nie van vroue af kon wegbly nie).

Aan die een kant wys dit iets van die beskikbare leierskap materiaal, maar aan die ander kant darem ook iets van die genade van die Here wat deur enigiemand kan werk.

Geeneen van hierdie leiers kon egter daarin slaag om Israel in ‘n standvastige lojale verhouding met die Here te plaas nie.  Die boek eindig op ’n noot van wanhoop wanneer daar nie eers meer rigters in Israel te vinde is nie en elkeen begin doen het wat reg is in sy eie oë.   Die verhaal van Rut wat met dié tyd geassosieer is, was hierin ‘n hoopvolle uitsondering.

Daarmee word die tafel gedek vir die behoefte aan en verwagting vir ‘n koning wat met die verhale van Saul en Dawid in vervulling gaan.

Wie was die Rigters?

Sommige geleerdes maak baie van ‘n vermeende verskil tussen die sogenaamde groot rigters (Debora-Barak, Gideon, Simson) en die klein rigters (Tola, Jair).  Hulle beskryf die groot rigters as charismatiese leiers, wat vir hulle taak deur God geroep is, en die kleiner rigters as regters wat die volk met regsuitsprake gedien het.  Die meeste geleerdes dink egter dat die verskil eintlik net daaraan te wyte is dat daar oor sommige rigters meer geskrywe is as oor ander, moontlik omdat hulle meer vir Israel op militêre gebied beteken het.  Debora, ‘n sogenaamde groot charismatiese rigter, het bv. ook regspraak beoefen (Rigt. 4:4-5).

Die woord vir rigter kan as regter of regeerder (leier) verklaar word (so ook in die Mari-tablette en Ugaritiese tekse) wat ‘n idee gee van wat die rigters gedoen het. Hulle is deur die Here geroep om die volk te verlos, hulle het regspraak beoefen, hulle het ‘n rol gespeel by die jaarlikse verbondsvernuwingsfees en eintlik as verbondsmiddelaar opgetree tussen God en die volk.

Weens die charismatiese kant van baie van die rigters kan hierdie tyd as ‘n tyd van helde beskryf word, wat die epiese aard van die verhale verklaar.

Indeling van die boek

Die boek bestaan uit drie dele, soos drie dele van ‘n musiekstuk:

Overture wat die hooftema inlei (1:1-3:6)

In die eerste deel word die tema van die boek ingelei in twee dele, 1) die verloop van die verowering van die land in die suide en noorde van die land en 2) ‘n samevatting van die patroon wat in die res van die boek gevolg sal word: afvalligheid, straf, roep na God, verlossing deur ‘n rigter.

Variasies op die overture (3:7–16:31)

In die tweede deel word die verhale van afvalligheid, straf, roep na die Here en verlossing deur 12 verskillende leiers (wat ooreenstem met die aantal stamme van Israel) in die proses van die verowering van die land vertel:

  • Otniël (3:7-11 – uit Juda teen die Arameërs) – sy storie is ‘n patroon vir die res wat volg.
  • 5 groter rigters:
    • Ehud (3:12-30 – uit Benjamin teen die Moabiete),
    • Debora-Barak (4:1-5:31 – uit Efraim teen die Noordelike koalisie),
    • Gideon (en Abimelek) (6:1-9:57 – uit Benjamin teen die Midianiete en Amalekiete),
    • Jefta (10:6-12:7 – uit Manasse teen die Ammoniete),
    • Simson (13:1-16:31 – uit Dan teen die Filistyne).
      • Die 5 verhale is op konsentriese wyse gerangskik: Ehud en Simson, twee alleenlopers, se verhale begin en eindig die deel. Debora-Barak en Jefta, waarin ‘n vrou en ‘n uitgeworpene die verlossers word, se verhale is die binne-raamwerk van die verhale. En Gideon se verhaal is die hart van hierdie gedeelte, waarmee eintlik ‘n vraag op die tafel gesit word: Wie is Israel se koning? (vgl. Gideon se seun se naam Abimelek wie se naam beteken My pa is koning).
    • 6 kleiner rigters:
      • Samgar (3:31),
      • Tola (10:1-2),
      • Jaïr (10:3-5),
      • Ibsan (12:8-10),
      • Elon (12:11-12),
      • Abdon (12:13-15).

‘n Koda wat die overture illustreer (17:1–21:25)

Die derde deel skets die onverkwiklike situasie van die volk wat in anargie verval het, elkeen na eie goeddunke opgetree het, en wat eers met die koms van die priester-profeet Samuel weer herstel is.  Die verhale sluit in dié verhaal van die afgode van Miga en die Leviet wat by hom gaan bly het, die verhaal van die kaping van hierdie Leviet deur die stam van Dan, die verhaal van die verwoestende gebeure rondom sy byvrou en die Benjaminiete van Gibea wat toe deur die ander Israeliete gestraf is, waarvan die oorblyfsel uiteindelik van vroue voorsien moes word, 400 maagde uit Jabes in Gibea.

Oorsig van belangrike plekke

  1. Bokim – Dit was ’n plek iewers tussen die heiligdomme van Gilgal en Bet-El. Die Engel van die Here het hier aan die volk verskyn (2:1–5) hulle straf aangekondig, wat die volk ernstig laat huil het.  Daarom het dit ‘n simbool geword van die gevolge van Israel se ongehoorsaamheid aan die Here.
  2. Jerigo – Josua het die persoon vervloek wat Jerigo weer probeer opbou (Josua 6:26). Toe die land later onder die stamme verdeel is, is Jerigo aan die stam van Benjamin gegee (Josua 18:21).  Toe Eglon van Moab Israel aangeval het, het hy ook die stad Jerigo verower. In Rigters word na Jerigo as die ‘‘Palmstad’’ verwys (Rigt. 1:16, 3:13). In Deuteronomium 34:3 word verwys na die ‘‘Jerigolaagte’’.  Eglon het moontlik ’n paleis in Jerigo gehad.  Dit is daar waar Ehud, die hotklou uit die stam van Benjamin, hom met ’n swaard wat hy onder sy klere versteek het, doodgesteek het (3:12-30).
  3. Hasor – was vyftien kilometer noord van die See van Galilea geleë. In die tyd van Josua het die koning van Hasor ’n noordelike koalisie met omringende inwoners teen die magte van Israel gevorm. Josua het die stad ingeneem en sy koning doodgemaak (Josua 11:1–15). Ongeveer ’n eeu later, in die tyd van die rigters, het Debora en Barak teen die koning van Hasor opgetrek (Rigt. 4) . Hierdie koning se naam was ook Jabin, soos dié van sy voorgangers.  Jabin van Hasor het die Israeliete vir twintig jaar lank oorheers.  Debora het Barak beveel om teen Sisera, die aanvoerder van Jabin se leër, op te trek.  In die slag van Taänak, tussen die Taborberg en die Kisonspruit, het Israel die oorwinning behaal.
  4. Waarsêershoogte – Hierdie hoogte was in die Jisreëlvlakte geleë. Die Midianiete het hier kom kamp opslaan (7:1).  Die Midianiete het weer begin om die Israeliete se oeste en veekuddes te verwoes en dood te maak. Die volk het die Here om hulp gesmeek en Hy het Gideon gestuur om hulle te verlos. Hy was baie onseker  en vol twyfel, maar het uiteindelik tog die altaar van Baäl in sy tuisdorp gaan afbreek. Dit het ’n opskudding veroorsaak. Daarna het Gideon, vervul met die Gees van God, die Midianiete aangeval waar hulle naby Waarsêershoogte kamp opgeslaan het. Hoewel hy net ’n handjievol manskappe gehad het, het hy die hele leër uitmekaar laat spat (6:1–8:25).
  5. Sigem – Abimelek was die koning van die stad Sigem (9:1–57). Sigem was sowat 60 km noord van die huidige Jerusalem, tussen die Ebalberg en die Gerisimberg geleë.  Josua het al die stamme van Israel by Sigem bymekaar laat kom en opnuut ’n verbond met die Here daar gesluit (Jos 24:1-28).  Sigem was ook een van die asielstede van Israel (Jos 21:21).  Abimelek het die inwoners van Sigem oorreed om hom koning van die stad te maak.  Die inwoners  van Sigem het later teen hom in opstand gekom.  Hy het met sy leër al die mense in die stad doodgemaak, die stad afgebreek en sout daaroor gestrooi.
  6. Ammon –was ’n volk wat eers later op die toneel gekom het. In die tyd van die rigters het hulle begin om hulle gebied uit te brei. Hulle het grond beset wat Israel in Moses se tyd van die Amoriete afgeneem het (Num. 21:21–35).  Die manne van Gilead het onder aanvoering van Jefta die Ammoniete uit hierdie gebied verdryf (Rigt. 11:11-32).  Hierdie gebeure vorm die agtergrond vir die tragedie van Jefta wat sy dogter aan die Here geoffer het.
  7. Sorekvallei – die vallei het oorspronklik aan die stam van Dan behoort. Die beleërde stad Bet-Semes was in die vallei. Die Filistyne het egter die vallei oorgeneem en die Daniete verplig om elders ’n woonplek te gaan soek (Rigt. 18:1–31).  Die Filistynse meisie Delila het in hierdie vallei gewoon.  Dit was sy wat daarin geslaag het om Simson se lewensgeheim uit te vind en die Filistyne hom gevange te laat neem (Rigt. 16:4-22).
  8. Gasa – die stad was 5 kilometer van die kus langs die hoofroete na Egipte geleë. Dit was een van die vyf hoofstede van die Filistyne.  Die Gasastrook bly vandag nog voortdurend in die nuus.  Simson het in sy tyd die stadspoort se deure met kosyne en al uitgeruk (Rigt. 16:3).   Nadat hy in Delila se strik getrap het, is sy oë uitgesteek en hy is in Gasa in die tronk gegooi.  Simson het sy nasireërgelofte met God hernieu en God het aan hom die krag gegee om die stutpilare van die Dagontempel in Gasa op homself en die duisende feesgangers in die banketsaal om te trek (Rigt. 16:23–31).
  9. Dan – was geleë aan die voet van die Hermonberg aan die bopunt van die Hulevallei. Een van die takke van die Jordaanrivier begin hier.  Die stad se naam was oorspronklik Lajis.  Toe die stam van Dan uit die Sorekvallei moes padgee, het hulle hierheen verhuis (Rigt. 18:1–31).  Op pad soontoe het hulle by die huis van Miga in die Efraimsberge aangegaan en sy Leviet en afgodsbeelde met hulle saamgeneem.  Toe hulle by Lajis aankom, het hulle die onskuldige en onbewapende inwoners aangeval en doodgemaak en die stad herdoop tot Dan. Toe Israel in twee gedeel het, het Jerobeam van Israel hier ’n heiligdom opgerig waarin hy ’n goue kalwerbeeld gesit het (1 Kon 12:29).  Dan word dikwels in die Bybel gebruik as aanduiding van die noordelike grens van Israel met Berseba as die suidelike grens.
  10. Gibea – dit was ’n dorp in die heuwels net noord van die huidige Jerusalem. Die stam van Benjamin  het hier gebly.  In die tyd van die rigters het straatboewe van die dorp hulle soos Sodomiete gedra en geëis dat ’n Leviet wat hier oornag het met hulle geslagsomgang moes hê.  Hy het sy vrou vir hulle gegee en hulle het haar die hele nag lank verkrag en mishandel (Rigt. 19:1–28). Dit het gelei tot ’n burgeroorlog tussen die stam van Benjamin en die ander stamme van Israel (Rigt. 19:29-20:48).  Benjamin is in hierdie oorlog bykans heeltemal uitgeroei (Rigt. 21:1-25).  Saul was van die dorp afkomstig en hy het dit sy regeringsetel gemaak nadat hy die eerste koning van Israel geword het.
  11. Mispa – ’n Hele paar plekke in die Bybel staan bekend as Mispa of Mispe (vgl. bv. Jos. 11:3). Die Mispa in Rigters is ’n dorp van Benjamin op die grens met Juda. Samuel het in sy tyd die volk daar bymekaar laat kom (1 Sam. 7:2–12).  In die rigtertyd het die leiers van die volk by Mispa byeengekom om te besluit hoe die slegte inwoners van Gibea gestraf moes word. Die stadsleiers van Gibea het geweier om die skuldiges oor te lewer.  Al die stamme het daarop in ’n geveg betrokke geraak met die inwoners van Gibea en die stam van Benjamin, aangesien die dorp in hulle stamgebied geleë was. Die gevolg van hierdie stryd was tot oneer van Benjamin en al die ander stamme (Rigt. 19:29-21:25).

Riglyne vir die lees

Terwyl julle die boek deurlees, let op vir die volgende aspekte van die verhaal:

  • Die basiese probleem wat die onvolledige inname van die land vir die Israeliete verskaf het: die afgodediens van die Kanaäniete (2:3) word ‘n strik vir die volk waarin hulle telkens trap en hulle ongehoorsaam aan die Here maak. Die laaste deel van die boek wys hoe ruggraatloos die volk word wanneer daar nie ‘n suiwer diens aan God in stand gehou word nie.
  • Die volk se eenheid is telkens in gedrang en kom ironies genoeg eers aan die einde tot sy reg met die noodwendige dissiplinering van Benjamin se wandade. Vergelyk bv. Debora se veroordeling van Reuben se versaking van hulle plig teenoor die res van die volk (Rigt. 5:15-16).
  • Die Here se geduld en verlossing skyn soos ‘n helder lig in die onderskeie verhale deur. Telkens word die Gees van die Here vaardig oor ‘n rigter wat die volk verlos.  Tog is dit interessant dat daar eintlik ‘n totale gebrek van die teenwoordigheid van die Here in die midde van sy volk is, soos die geval was in die woestynverhale en aanvanklik met Josua se verowering.  Israel het in die tyd in chaos verval.  Net God kan die situasie omkeer, soos Hy begin doen het in die tyd van Samuel en Dawid.
  • Dink ook na oor die ooreenkoms wat die Rigtertyd met die post-koloniale geskiedenis van Afrika vertoon – teen 2004 was daar al meer as 60 verskillende suksesvolle militêre oornames in die 40 jaar na die begin van onafhanklikheid van die koloniale owerhede. Die behoefte aan goeie leierskap wat ‘n mens in Rigters aanvoel, is ook iets wat in Afrika nodig is.

Beplanning

Ek beplan om Rigters in die eerste kwartaal 2018 hoofstuk vir hoofstuk deur te lees. Ek begin DV 24 Januarie 2018.

 

     

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie! Ek leer natuurlik ook by die meesters van die eeue. Wonderlik om hierdie werk as ‘n lewensroeping te doen. Ek is my gemeente ewig dankbaar vir die geleentheid wat hulle my gun om ‘n deel van my tyd aan die Bybelskool af te staan.

  • Avatar

    Francois Conradie

    |

    Ds,
    Dankie vir die wonderlike reeks oor Levitikus. Dit is verbasend wat mens agterkom in ‘n Bybelboek geskryf is as jy deur ‘n kundige begelei word.
    Sterkte en seën.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie! ‘n Voorreg om só besig te wees met die Woord.

  • Avatar

    Francois Conradie

    |

    Ds van Wyk,
    U reeks oor Galasiërs is uit die boonste rakke. My verstaan van die vewantskap tussen net geloof, genade, die wet in die Nuwe Testament, sonde , vrygekoop, kindskap ens is op gehelder en dit help my op my pad van heiligmaking.
    Baie dankie
    FConradie , Kempton Park.
    Francois Conradie

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Sonja. Nee, jy het nie die kat aan die stert beet nie. Ek moes my planne aanpas weens Pinkster. Jammer!

  • Avatar

    Sonja Slater

    |

    Môre Ds Chris, Ek was onder die indruk Numeri begin vandag 7 Junie 2017? Of het ek die kat aan die stert beet?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Die kommentaar van Richard Longenecker op Galasiërs lê ‘n helder verband tussen vers 9-10 en vers 1-6: “In particular, it has reference to those matters commanded in 6:1–6: restoring someone entrapped by sin (v 1), bearing the oppressive burdens of others (v 2), and sharing materially with those who teach the gospel message (v 6).

    Hy gaan aan om te sê dat ons roeping is om goed te wees vir almal: “Being thus truly “spiritual people” (οἱ πνευματικοί), the result will be that we will serve one another through love (5:13), restore others entrapped by oppressive burdens (6:1–2), adequately compensate those who have provided instruction (6:6), and generally do good to all people, particularly fellow believers (6:10).

    Ek som vir jou kortliks die argumentasie van Galasiërs 6:1-10 op wat vir jou die laaste twee verse in konteks sal plaas:

      Vers 1 – Help mekaar sagmoedig reg as die sonde een van julle oorval.
      Vers 2 – Dra die laste van sulke mense as ‘n daad van liefde.
      Vers 3 – Moenie jouself beter ag as ander in die proses nie.
      Vers 4 – Sorg dat jyself nie in die sonde val nie, maar in die Gees lewe.
      Vers 5 – Onthou, elkeen sal self verantwoording doen vir sy of haar doen en late.
      Vers 6 – Vergoed dié wat jou onderrig in dié waarhede.
      Vers 7 – Onthou, wat jy saai, sal jy maai.
      Vers 8 – ‘n Lewe in sonde lei tot die ewige dood; ‘n Lewe in die Gees lei tot die ewige lewe.
      Vers 9 – Moenie moeg word om goed te wees vir mekaar in die proses nie.
      Vers 10 – Gebruik elke geleentheid om goed te wees vir almal, veral jou medegelowiges.

    Kyk ook na The Message vir ‘n uitstekende “preek”-styl vertaling daarvan:

     Live creatively, friends. If someone falls into sin, forgivingly restore him, saving your critical comments for yourself. You might be needing forgiveness before the day’s out. Stoop down and reach out to those who are oppressed. Share their burdens, and so complete Christ’s law. If you think you are too good for that, you are badly deceived.
    4–5  Make a careful exploration of who you are and the work you have been given, and then sink yourself into that. Don’t be impressed with yourself. Don’t compare yourself with others. Each of you must take responsibility for doing the creative best you can with your own life.
    6  Be very sure now, you who have been trained to a self-sufficient maturity, that you enter into a generous common life with those who have trained you, sharing all the good things that you have and experience.
    7–8  Don’t be misled: No one makes a fool of God. What a person plants, he will harvest. The person who plants selfishness, ignoring the needs of others—ignoring God!—harvests a crop of weeds. All he’ll have to show for his life is weeds! But the one who plants in response to God, letting God’s Spirit do the growth work in him, harvests a crop of real life, eternal life.
    9–10  So let’s not allow ourselves to get fatigued doing good. At the right time we will harvest a good crop if we don’t give up, or quit. Right now, therefore, every time we get the chance, let us work for the benefit of all, starting with the people closest to us in the community of faith.

  • Avatar

    Alwyn

    |

    Help asseblief As ek dan Gal 6 in konteks moet lees wat is dan die uitleg van verse 9 en 10 van Gal 6 in die konteks van liefde

  • Avatar

    Fanie van Emmenes

    |

    Die genade van God is wonderbaar en onbegryplik groot. Dankie vir die artikel oor die uitverkiesing. My hart se amen daarop.

  • Avatar

    christa marais

    |

    Dankie! Dit bly maar ‘n moeilike ding!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ek verstaan hoe jy hieroor dink, maar my punt was nie om oor die doop teologie as sodanig ‘n uitspraak te maak nie, maar om die idee dat ‘n spesifieke manier van doopbediening naas geloof bepalend is vir jou saligheid, hok te slaan.

  • Avatar

    Marius Snyman

    |

    Chris as ek net die volgende mag noem ek dink nie n mens moet praat van n klein doop en n groot doop nie,dit is mens gemaak en nie bybels nie.
    As ons rerig volgens die skrif wil optree moet ons eerder praat van die bekeringsdoop wat eerder gepas is en ook in lyn met wat gebeur het met gelowiges wat tot bekering gekom het en dan hulle laat doop het met water as teken van hul besluit.Dit was nie n kwessie van klein of groot nie,dit het eerder daaroor gegaan ongeag die ouderdom as jy jou bekeer het tot Jesus Christus het jy die volgende stap geneem en jou laat doop as bewyse.
    Ek dink dit sal hierdie onkunde van klein of groot doop dan uit die weg ruim en al die struwelinge uitskakel
    Mooi dag.
    Marius

  • Avatar

    Johan Barnard

    |

    Hierdie aanhalings weerlê die aanhangers van sogenaamde Geestelik Leiers: “Om maar net te sê, God het so gesê, kan nooit op sy eie bene staan nie. Dit kan nooit op sy eie as ‘n maatstaf dien vir die ware evangelie nie. Daar is nog iets nodig.” “Om regtig te kan glo dat iets van God af kom, het jy meer nodig as jou eie ervaring.”

  • Avatar

    Johan Barnard

    |

    Onderstaande is vir my seker DIE BELANGRIKSTE in ons gereformeerde geloof. Jy het dit so goed verwoord. Baie dankie hiervoor. “As jy vertrou op die wet eerder as op God, bv. as jy die besnydenis of enige ander ding soos bv. vandag die groot of klein doop byvoeg as ‘n merkteken van die evangelie, asof jy nie alleen deur geloof gered word nie, en dit goedpraat, dan het jy met ‘n ander evangelie te make, soos hy in 3 sal argumenteer. Die beginsel van Sola fide (alleen deur geloof) kom dan in gedrang.”

  • Avatar

    Marie

    |

    Sjoe baie dankie vir hierdie Pinkster reeks Chris! Dit is heerlik om die Bybel so deur jou te leer ken-ek kry elke keer iets nuuts hieruit en dit maak elke bydrae so interressant!

%d bloggers like this: