Skip to main content

Psalm 94:1-11

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 94 was voorgeskryf om deur die Leviete op Woensdae met die daaglikse brandoffer gesing te word. Die Psalm is bedoel as ‘n versekering en bemoediging vir die geloofsgemeenskap wat smag na reg en geregtigheid op aarde. Die Psalm kan in vier dele opgedeel word: 1) Belydenis oor God se Regterskap as appèl dat Hy moet optree – vers 1–7; 2) Appèl op die onverstandiges en dwase – vers 8–11; 3) Bemoediging van dié wat op God se woord bly vertrou – vers 12–15; 4) Gebed dat God teen korrupte regters sal optree– vers 16–23. Ons lees dit oor 2 dae.

Bid die Psalm

“God wat onreg oordeel, Here, God van oordeel, vertoon tog Uself! Kom, Regter van die aarde! Vergeld die hoogmoediges volgens wat hulle verdien. Hoe lank, Here, sal die goddeloses, hoe lank sal die goddeloses seëvier? Hulle borrel oor met astrante woorde; al die boosdoeners spog daarmee. Hulle vertrap u volk, Here, en verdruk dié wat aan U behoort. Weduwees en vreemdelinge bring hulle om die lewe, en weeskinders maak hulle dood. Hulle sê: “Die Here sien dit nie; die God van Jakob bemerk dit nie.” Dink weer, julle onnoseles! Wanneer word julle wys, dwase? Is Hy wat die ore gemaak het, doof? Is Hy wat die oë gevorm het, blind? Sou Hy wat die nasies straf, dan nie straf nie? Sou Hy wat onderrig, aan kennis ontbreek? Die Here ken mense se gedagtes, Hy weet dat dit niks werd is nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm begin met die belydenis oor en appèl op God: “God wat onreg oordeel, Here, God van oordeel, vertoon tog Uself! Kom, Regter van die aarde!” Daarin lê die boodskap en krag van die Psalm. Dit is omdat God die reg oor die hele aarde het as Skepper, dat Hy vir die handhawing van die reg oor die hele aarde gevra kan word. Dié gebed maak dus staat op die uitvoering van God se regsheerskappy oor alles wat leef en beef. Die Psalm is daarom gemik téén dié mense wat God se reg dwarsboom, dié wat hulle teen Hom verhef en vir die weerloses in die samelewing: die weduwees, vreemdelinge, en weeskinders (vaderloses). Dit is mense wat óf hulle versorgingsisteem verloor het – weduwees en weeskinders – óf dié wat inkommers is en sukkel om deel van die gemeenskap te word – vreemdelinge (weens politieke of ekonomiese redes – lees wat Lev. 19:34 daaroor te sê het). Let ook op die solidariteit na beide kante toe. Dié weerloses skaar hulle by die volk van God en die Psalmis reken hulle as deel van die volk van God. Belangrik!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar