Skip to main content

Psalm 61

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm gee ’n diep-persoonlike beskrywing van die innerlike geestelike belewenis van iemand wat in alle omstandighede met God ’n pad wil stap.  Dit is waarskynlik ’n gebed van Dawid in die tyd van sy koningskap (vgl. vers 7-8). Die Psalm kan verdeel word in twee dele: 1) die gebed om verlossing in vers 2-5 en 2) die dankgebed vir verlossing in vers 6-9. Vers 7-8 word in die derde persoon geskryf en herinner aan die belofte aan Dawid dat sy koningskap vir ewig sal wees (2 Sam. 7), voordat in vers 9 weer na die eerste persoon teruggekeer word soos in die eerste deel van die Psalm.  Dawid herinner God dus daarmee aan sy beloftes.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Met snarespel. ’n Dawidspsalm. O God, luister na my roepstem en hoor my gebed! Vanaf die einde van die aarde roep ek tot U om hulp, want ek is moedeloos. Lei my na die rots hoër as ek. Waarlik, U is vir my ’n skuilplek, ’n sterk vesting buite bereik van my vyande. Laat my vir altyd in u woning bly, en onder die beskerming van u vleuels skuil! Sela Want U het my geloftes gehoor, o God. U vervul die begeerte van hulle wat u Naam dien. Voeg dae by die lewe van die koning; laat sy lewensjare van geslag tot geslag wees! Mag hy vir altyd voor God regeer. Mag u goedheid en waarheid hom bewaar. Dan sal ek u Naam altyd besing en dag na dag my geloftes betaal.”

Boodskap en betekenis

Koning Dawid is waarskynlik ver weg in die vreemde, baie bewus van die dreigende gevaar van sy vyande.  Hy wanhoop aan sy situasie, soos “moedeloos” in die Hebreeus letterlik lui: “My hart raak swak.” En daar is twee behoeftes wat om voorrang spook in sy gedagtes.  1) Die een behoefte is veiligheid van sy vyande – ’n hoë rotsvesting. Hy vra God vir “’n rots wat hoër sal wees as hyself” – ’n plek wat hy nie uit eie krag kan bereik nie – waar hy veilig sal wees. 2) Die ander behoefte is ’n toevlug by God – ’n blywende tuiste in sy “tent” soos dit in die oorspronklike staan (vers 4-5).  Daarmee kom ‘n mens agter dat veiligheid ten diepste nie in ’n fisiese plek te vinde is nie, maar in die teenwoordigheid van die Here self.  Daar wil Dawid vir ewig bly, ’n blywende tuiste vind.  Hy wil skuil onder God se vleuels (vgl. Ps. 91), waarmee hy verwys na die vlerke van die gerubs in die binneste heiligdom van die tent van die Here (Eks. 37). Let ook op die rol wat geloftes speel en hoe krities belangrik die nakom van die geloftes in vers 9 uitgespel word.  Geloftes is beloftes wat aan God gemaak word in tye van nood en wat in die vorm van brand- (Ps. 66:3) en lofoffers (Ps. 50:4) betaal is.  Dit het dus ’n verbintenis van die bidder ingehou, gekoppel aan God se gebedsantwoorde.  Selfs Paulus het só ’n gelofte gemaak en nagekom (Hand. 18:18 – hy het waarskynlik sy hare laat groei, totdat die [onbekende] gebed verhoor is, en toe sy hare afgesny om sy gelofte na te kom).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar