Skip to main content

Psalm 123

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm gebruik die metafoor van ‘n huishouding waar daar ‘n eienaar en eienares is saam met slawe (meervoud) en slavinne (eintlik enkelvoud: “slawedogter”, want daar was waarskynlik minder vroulike slawe as manlikes) en plaas die geloofsgemeenskap in die skoene van hierdie slawe. Hulle is volledig afhanklik van die genade van hulle eienaars. Hulle oë is gerig op die geringste beweging van die hand van hulle eienaars om bv. vir hulle kos te gee of in ander behoeftes te voorsien. Só is ons ook totaal afhanklik van die genade van die Here, ons God, wat in die hemel heers.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Ek kyk op na U, U wat in die hemel woon. Soos oë van slawe gerig is op die hand van hulle meester, soos die oë van ’n slawedogter gerig is op die hand van haar werkgeefster, so is ons oë gerig op die Here ons God totdat Hy genadig is oor ons. Wees genadig oor ons, Here, wees ons genadig, want ons het baie veragting verduur. Ons het baie spot verduur van hoogmoediges, en veragting van die hooghartiges.

Boodskap en betekenis

Dit is die geloof wat die pelgrims voor mekaar bely het terwyl hulle deur die veld gestap het onder die blote hemel op pad na Jerusalem. Dit is hierdie erkenning waarin hulle almal hulle hoop vind in hulle verhouding met die Here. Maar, dit is nie net ‘n belydenis nie. Dit is ook hulle gebed. As ‘n mens weet dat jy van God afhanklik is, soos Jesus in die Bergrede ons ook geleer het, dán verander die kwaliteit van jou gebede. Dán weet jy dat goeie dinge altyd en alleen uit God se hand na jou toe kom. Soos Psalm 145:15-16 later die prentjie van God sal inkleur: “Die oë van almal is op U gerig, en U gee hulle kos op hulle tyd. U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.” Dit is die God wat ons dien! Daarom bid hulle saam – oral op hulle reis, selfs in Jerusalem – dat God se genade oorvloedig sal wees oor hulle, veral waar hulle as gelowiges baie keer uitgelewer is aan mense wat hulle hooghartig minag en selfvoldaan spot. Daarom die gebed: “wees ons genadig, want ons het baie veragting verduur.” Presies waaroor dié spotlag en minagting gegaan het, word nie uitgespel nie, maar dit beteken dat elkeen van ons eintlik ons eie situasie daarin kan lees, soos inderdaad die pelgrims ook kon doen. En let op dat die Psalmis sê dat ons oë op God gerig is totdat Hy ons genadig is. Bely daarom jou afhanklikheid voor die Here en stort jou hart uit voor hom oor dié dinge wat ook jou keel vandag wil laat toetrek. En moenie ophou nie. Die Here sal luister en Hy sal jou deur enigiets dra. Laat jou oë gerig wees op die geringste handbeweging van die Here, ons Here, totdat Hy jou genadig is.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar