Skip to main content

Psalm 141

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm is ‘n kragtige bevestiging van ons absolute afhanklikheid van die Here om aan Hom getrou te bly. Die enigste betroubare beskerming teen die versoekinge van die hart sowel as teen die verleiding van goddeloses bly die Here self: “Op U, Here, my God aan wie ek behoort, is my oë gerig.” (vers 8). Vanuit dié geestelike fokus kán ons nee sê vir die versoekinge en verleidinge en ons lewens inrig om in die beskerming van God te floreer. Daarom dat die Psalmis in die eerste plek moeite doen om direk met die Here te praat, om die Here om sy teenwoordigheid in alles te smeek: “Kom tog gou na my toe, luister tog na my, ek roep na U.” (vers 1). Maar, dat hy in die tweede plek terselfdertyd hom bereid verklaar om alles in sy vermoë te doen om die geselskap en teregwysing van regverdiges te verwelkom en die geselskap en invloed van goddeloses ten alle koste te vermy (vers 5). Hy vergelyk sy gebed met die wierookoffer wat in die aand met die aansteek van die lampe in die tempel gebrand is (Eks. 30:8) en wat ‘n simbool was van die volk se voortdurende soeke na die teenwoordigheid van die Here. Dit is dus die eerste fokus van sy lewe. Daarin sal hy volhard. Hy vergelyk die uitstrek van sy hande met die graanoffer wat soortgelyk in die aand met die aansteek van die lampe geoffer is, baie keer saam met die wierookoffer (Lev. 2:1). Dit was ‘n offer van fynmeel wat sonder suurdeeg (Lev. 2:11) gebring is en óf as ‘n ringbrood (doughnut) óf as ‘n roosterkoek gebak is (Lev. 2:4).  Dit was dus ‘n simbool van die volk se voortdurende fokus op ‘n heilige lewe in die teenwoordigheid van die Here. Hierdie is dus die tweede fokus van sy lewe, ‘n heilige lewe. Daarin sal hy ook volhard.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. Here, ek roep tot U; maak tog gou! Luister na my wanneer ek na U roep! Aanvaar my gebed soos wierook voor U, en my uitgestrekte hande soos ’n offer in die aand. Sit ’n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê. Bewaar my van verkeerde begeertes wat lei na bose dade, saam met mense wat sonde doen en so saam eet aan hulle lekkernye. Regverdiges kan my slaan in liefde, en my ook teregwys. Dis soos salwing van die kop met olie, wat ek nie sal weier nie. My gebede is gedurig teen boosdoeners gerig. As hulle leiers afgegooi word van ’n krans, dán sal hulle my woorde hoor en weet dit was goed. Soos wanneer een wat ploeg die aarde oopbreek, so verspreid lê ons beendere by die bek van die doderyk. Maar my oë is op U gerig, oppermagtige Here. U is my toevlug; moenie my oorgee aan die dood nie. Bewaar my van die strikke wat hulle vir my gestel het, van die vangnet van hulle wat onreg doen. Laat die goddeloses in hulle eie vangnette val, maar laat my vrykom daarvan.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op hoe die Psalmis die Here vertrou vir:

  • WOORDE: ‘n Wag voor sy mond – vers 3;
  • GEDAGTES: om hom weg te hou van gedagtes oor verkeerde dinge – vers 4.

Let ook op hoe die Psalmis vanuit dié vertroue hom voorneem om sy lewe in God se teenwoordigheid te leef:

  • KONSTRUKTIEWE GEDRAG: dat hy teregwysing van regverdiges in sy lewe verwelkom en dat hy voortdurend sy gebed sal voortsit selfs al gebeur dit te midde van die booshede wat die goddeloses pleeg – vers 5;
  • AFWYSENDE GEDRAG: dat hy nie saam met ander onreg sal doen en aan hulle feeste meedoen nie (letterlik: aan hulle lekkernye proe nie) – vers 4 – en selfs nie hulle gasvryheid aanvaar nie – vers 5.

Vers 5-7 is regtig moeilik om te vertaal. Die laaste deel van vers 5 kan ook positief vertaal word in die betekenis dat die teregwysing van die regverdiges soos olie op sy kop uitgegiet word, en dat hy die nie sal weier nie. Vers 6 kan leedvermakerig vertaal word soos in die 1983-vertaling – “goed so” – of meer positief – “sou hulle nog hoor dat my woorde aangenaam is” – soos in die 202-vertaling. Vers 7 kan dui óf op die goddeloses óf op die regverdiges se verguising. Die belangrike is egter dat die fokus op die Here volgehou word: “Maar op U bly my oë gerig, Here, my Heer – by U skuil ek, moenie my lewe uitgiet nie.” (vers 8 – 2020-vertaling). Dit is Hy alleen wat ‘n mens kan beskerm van die strikke wat daar vir die regverdiges gestel word en wat die onregverdiges in hulle eie strikke kan laat omkom.

Wierookoffers en graanoffers in die NT

Dit is merkwaardig hoe die simboliek van die wierookoffer en die graanoffer ook steeds ‘n rol speel in die NT beskrywing van ons gebede en ons lewens. Die NT gebruik die simboliek van dié wierookoffer op twee maniere.

  1. Aan die een kant gebruik Johannes dit as ‘n simbool van die gebede van gelowiges. Die gebede van die gelowiges word twee keer soos wierook voor die Here deur beide die vier en twintig ouderlinge (Openb. 5:8) en die engel (Openb. 8:3) in die hemel geoffer. Die eerste beskrywing van die gebede is bedoel as lofprysing wat deel is van die uitvoering van God se wêreldagenda. Die tweede beskrywing van die gebede is bedoel om die Here vir regstelling te vra wat die oordele van die sewe trompette van God inlui. Dit is uiteraard net so deel van die uitvoering van God se wêreldagenda.
  2. Aan die ander kant gebruik Paulus dit as ‘n simbool van die lewe van gelowiges. God gebruik die getuienis van ons lewens om die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur te versprei: “Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. Vir dié wat verlore gaan, is dit ’n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit ’n lewensgeur wat lewe wek.” (2 Kor. 2:14-17). Dit is waarom ons met soveel opregtheid in ons verbondenheid aan Christus, die opdrag van God in verantwoordelikheid aan God met alles in ons moet nakom, terwyl ons tegelykertyd ons afhanklikheid van God in ons gebedslewe uitleef.

Die NT gebruik ook die simboliek van die graanofffer en wel as ‘n teken van die liggaamlike offer wat Jesus Christus aan God geoffer het (Hebr. 10:5). In die verlengde van dié beeld, waar gelowiges saam as die liggaam van Christus geteken word (Rom. 12:5; 1 Kor. 12:27), en Paulus baie maak van die feit dat ons fisiese liggame ‘n tempel van die Here is (1 Kor. 6:19), is dit geen wonder dat ons ook opgeroep word om ons liggame te stel: “as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens.” (Rom. 12:1 – OAV).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar