Skip to main content

Psalm 68:25-36

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die derde deel wat in die volgende lesing aan die beurt kom, word God se vestiging van sy heerskappy oor die hele aarde verheerlik met die tempel-heiligdom in Jerusalem op die berg Sion as basis (vers 25-36). Die Psalm teken die feestelikheid van die lof wat aan die Here op die tempelberg gebring word. Daar is sangers, mense wat snaarinstrumente bespeel, meisies wat tamboeryne slaan en kore wat God loof uit al die stamme van Israel. Die vier wat genoem word: Benjamin-Juda en Naftali-Sebulon is die mees suidelike en die mees noordelike stamme van Israel onderskeidelik. Die lof mond uit in ’n gebed dat God sy mag verder sal vertoon vanuit die tempel in Jerusalem deur nie net Egipte, “daardie ondier onder die nasies”, te onderwerp nie, maar Egipte en Ethiopië (Kussiete) se mense te transformeer om God te aanbid deur geskenke en smeekgebede. Maar selfs dít is nog nie genoeg nie. Al die koninkryke van die aarde kom in die visier van Dawid, met die droom dat hulle ’n lied sal aanhef tot eer van God. Let op die skeppingstaal waarin dié droom gegiet is waarmee God se heerskappy oor alles en almal onomwonde gestel word: “Hy het mag oor die wolke!”.

Bid die Psalm

“U feesoptog is in sig, o God, die optog van my God en Koning is op pad na sy heiligdom. Vooraan is die sangers, agter hulle, die musikante. Saam met hulle is jong meisies wat op tamboeryne speel. Prys God in die vergaderings; prys die Here, die bron van Israel. Kyk, Benjamin, die jongste, is die aanvoerder. Dan volg die baie heersers van Juda en die heersers van Sebulon en Naftali. Toon u mag, o God. Toon u krag, o God, soos U dit voorheen vir ons gedoen het. Ter wille van u tempel in Jerusalem sal konings vir U geskenke bring. Bestraf vir Egipte, die ondier tussen die riete, wat soos troppe bulle tussen kalwers ander vertrap ter wille van geld. Verstrooi die nasies wat hulle verheug in oorlog. Uit Egipte kom kosbare geskenke; met uitgestrekte hande bid Kus tot God. Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God. Sing lofsange tot eer van die Here, Sela sing tot eer van Hom wat deur die oeroue hemel ry terwyl sy magtige stem weerklink. Verkondig God se mag, sy majesteit oor Israel, sy mag oor die wolke. God wek ontsag in sy heiligdom. Hy is die God van Israel. Vir sy volk gee Hy mag en sterkte. Laat God verheerlik word.” NLV

Boodskap en betekenis

Daar is baie maniere waarop jy hierdie Psalm kan gebruik om met God te praat. Ek wil twee voorstel. In die eerste plek bevat hierdie Psalm waarskynlik die meeste woorde vir God (6) en beskrywings van God (8) in enige ander Psalm.  Die woorde Jahwe (vers 17,21), Jah (afkorting van Jahwe – vers 5,19), Elôhîm (vers 1 vv), El (afkorting van Elôhîm – vers 20), Adonai (=Here – vers 18), Shaddai (= Almagtige – vers 15). Hy word ook “die een van Sinai” (vers 9), “Hy wat op die wolke ry” (vers 5), “Vader vir weeskinders” (vers 6), “Beskermer van weduwees” (vers 6), “(God) ons hulp” (vers 20), “(God) wat ons red” (vers 21), “Hy wat ry deur die hemele” (vers 34), en “(God) van Israel” (vers 36) genoem.  Die Psalm maak dus ’n punt daarvan om God se omvangryke betekenis vir alles selfs al in die name wat vir Hom gekies word, te beklemtoon. Jy kan dus een (of almal )van hierdie name of beskrywings gebruik om oor die betekenis wat Hy vir jou inhou, na te dink. In die tweede plek kan jy veral hierdie laaste deel van die Psalm gebruik om oor die invloed van God onder die nasies en die koninkryke van die aarde na te dink en dit as jou gebed gebruik dat sy koninkryk sal  kom oor die hele aarde: “Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God. Sing lofsange tot eer van die Here.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar