Skip to main content

Psalm 31:8-14

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid bars uit in lof in die tweede deel van die Psalm oor God se troue liefde. Hy loof God dat Hy in die verlede nie onverskillig gestaan het teenoor sy ellende nie; dat hy telkens die bedreiginge van sy lewe raakgesien het en hom ‘n veilige staanplek teenoor die bedreiginge van sy vyande gegee het. Maar, dit is net die inleiding tot sy klag dat hy weer in die nood is en weereens God se ingrype soek. Dit gaan regtig sleg met hom. Sy oë gee in van verdriet. Sy liggaam teer uit van ellende. Hy voel soos iemand wat lankal dood en vergete is. Hy is soos ‘n ding wat daarbuite lê en vergaan. Die dreigemente hou net nie op nie. Sy vyande span van alle kante af saam en smee planne om sy lewe te neem.

Bid die Psalm

“Ek wil juig en bly wees oor u troue liefde, want U het my ellende gesien, U weet van al my benoudhede. U het my nie oorgegee in die mag van vyande nie, maar my ’n veilige staanplek gegee. Here, wees my genadig, want ek is in nood. My trane verdof my oë. My siel en liggaam kwyn weg. Ek sterf van verdriet; droefheid verkort my lewe. Ellende het my kragte uitgeput; ek kwyn weg van binne af. Al my vyande het my geminag, my bure het my verag, vir vriende was ek ’n verskrikking. Op straat draai hulle weg van my. Ek word vergeet asof ek dood is, soos ’n ding wat vergaan. Ek hoor baie fluisteringe oor my, en daar is angs van alle kante. My vyande span saam teen my; hulle maak planne om my dood te maak.” NLV

Boodskap en betekenis

Ons kan moed skep uit Dawid se roerende gebed dat hy “wegkwyn van binne af”, dat hy geword het soos ’n dooie, “’n ding wat vergaan.” Want, hy kan aan God vashou ten spyte van sy ellende, die lewensbedreiging, die vyande, sy nood, sy verdriet, sy kommer, sy swaarkry, en sy uitgeteerde liggaam. Ons kla baie keer eers voordat ons die Here loof, soos dit natuurlik ook talle kere in die Psalms gedoen word. Maar, soms is dit nodig om soos hier te begin by die lof – veral as dit regtig sleg gaan – en eers onsself te herinner aan wat God in die verlede gedoen het, voor ons ons klag in al sy detail voor die Here bring. Terwyl ons aan die Here bly vasklou.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar