Skip to main content

Psalm 131

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm van Dawid bring ons terug aarde toe na die rus wat daar is in die wete dat God daar is vir ons: “van nou af en vir altyd.” Alles hang nie van ons af nie. Inteendeel. Alles hang van God af. Die groot dade en die wonderwerke is sy domein. Nie dat dit altyd so maklik is nie! Ons weet mos daar is altyd dinge wat ons gedagtes vashou en besighou, groot dinge, belangrike dinge, kritiese dinge. Maar, ons weet ook uit ervaring dat dié dinge ons só kan vasvang dat ons óf hoogmoedig en verwaand raak en as’t ware bó ons vermoë met groot dade of wonderwerke probeer besig raak. Óf dat ons só onrustig raak dat ons geen kalmte meer ken nie en selfs in ‘n donker gat van depressie kan wegsink.

Bid die Psalm

“’n Pelgrimslied. Van Dawid. My hart is nie hoogmoedig nie, Here; en my oë is nie trots nie. Ek bemoei my nie met wat vir my te groot of te moeilik is nie. Maar ek het kalmte en rus gekry, soos ’n kindjie by sy moeder rus, so is my gemoed. Israel, hoop op die Here, nou en vir altyd.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalmis herinner ons dus aan twee goed. Een, dat ons ons nie bó ons vermoë hoef te presteer nie. God verwag nie meer van ons as wat ons kan gee nie. Twee, dat God ons hoop is, niemand minder, niemand meer, en niemand anders nie. Daarom die oproep: “Israel, vestig jou hoop op die Here, van nou en vir altyd.” Natuurlik neem die gedagtes nie die kompleksiteit van die lewe weg nie. Dit beteken ook nie dat ons die komplekse vrae van die lewe kan of mag vermy nie. Die Psalm: “pictures the simplicity on the yonder side of complexity, not on this side of complexity” (Shoemaker, aangehaal in Allen se Word kommentaar). Maar vir die antwoorde op die kompleksiteite van die lewe, kan ons God vertrou. Soos ‘n gespeende kindjie by sy ma – gewoonlik só op drie jaar oud – kan ons dus ons gemoed tot kalmte en bedaring bring. Ons kan soos peuters, wat moeg gehardloop is, ons plek inneem by God, soos by ons ma, en op sy werk vertrou as dinge vir ons te veel raak. Die groot dade en die wonderwerke kom in elk geval van Hom af. Nou en vir altyd. Soli Deo Gloria.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar