Skip to main content

Psalm 32

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 32 besing in die eerste deel van die Psalm die geluk van een wat vergifnis ontvang het, want om te swyg oor jou sonde tap jou kragte soos in ’n uitmergelende hittegolf. Dawid besing in die tweede deel ook die beskerming wat God verleen aan een wat vroom lewe sowel as die leiding wat Hy gee aan enigeen wat die Here daarvoor vertrou.

Bid die Psalm

“’n Dawidslied. Geseënd is die mens wie se opstand vergewe is, wie se oortredings afgeskryf is. Geseënd is die mens wie se sonde die Here nie toereken nie, in wie se lewe daar geen bedrog is nie! Toe ek oor my sonde stilgebly het, het my liggaam gekwyn van ellende, het ek die hele dag lank gekreun. Dag en nag was u hand swaar op my. My krag het verdwyn soos water in somerhitte. Sela Maar ek het my oortredings bely, my sonde nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Ek bely my opstand teen die Here.” En my sonde en oortredings het U vergewe. Sela Daarom moet al die vromes U aanbid in tye van nood. Die groot vloedwaters sal dié mens beslis nie oorval nie. U is vir my ’n skuilplek. U beskerm my teen teëspoed. U omring my met liedere van redding. Sela Die Here sê: “Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees. Moenie redeloos wees soos ’n perd of muil wat met stang en toom beheer moet word nie.” Baie leed tref die goddeloses, maar onfeilbare liefde omring húlle wat op die Here vertrou. Daarom, wees bly in die Here en juig, regverdiges! Roep uit van vreugde, julle almal wat opreg is!” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid skets in die eerste deel van die Psalm op diepsinnige manier dat sondebelydenis en vergifnis ’n mens regtig gelukkig maak. As jy ervaar dat die boek van jou lewe skoongemaak word van alles wat skadelik en skandelik is, dan lewe jy eers regtig! Dit is waarom die wegsteek of ontkenning van sonde so destruktief is. Sondebelydenis maak jou egter vry en bring jou binneste tot bedaring. Vergifnis gee almal die vrymoedigheid om God as skuilplek op te soek en te ervaar. Maar, sondebelydenis is nie al nie. God wil ons in die tweede deel van die Psalm leer watter pad ons moet inslaan. Maar dan moet ons Hom vertrou en ons in Hom verbly, en nie soos ’n steekse perd in ’n verkeerde rigting beur, omdat ons dink Hy weet nie wat Hy doen nie. Vir dié wat ja sê vir só ’n lewe, ervaar dat God hulle met sy liefde omvou! En dit is die aanleiding tot ’n lewe van lof aan God in die byeenkoms van die regverdiges.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar