Skip to main content

Psalm 89:20-38

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Etan wy in die tweede deel van die Psalm uit oor al die beloftes wat die Here aan Dawid gemaak het, van die bystand aan ’n dapper jong man wat gelei het tot die salwing as koning tot die ondersteuning in die talle oorloë waarin hy betrokke was.  Daarin was God se trou en liefde by hom.  Deur God se krag het hy oorwin. Trouens, Hy sal sorg dat Dawid Hom aanbid, en vir Hom sal sê: “U is my Vader, my God, die rots van my redding.” Een van die min plekke in die OT waar van God as Vader gepraat word. Let ook op dat daar God se beloftes ‘n opvolger “vir altyd” bepaal!

Bid die Psalm

“Voorheen het U deur ’n visioen met hulle wat aan U getrou is, gepraat en gesê: “Ek het hulp verleen aan ’n krygsman. Uit die gewone mense het Ek die uitverkore een verhef. Ek het my dienskneg Dawid gevind. Met heilige olie het Ek hom gesalf. Met my hand sal Ek hom ondersteun, met my arm sal Ek hom sterk maak. Vyande sal hom nie onderwerp nie, goddeloses sal hom nie verdruk nie. Ek sal sy vyande voor hom verpletter en sy haters verslaan. My trou en liefde sal met hom wees, en deur my Naam sal hy oorwin. Ek sal sy mag uitbrei tot by die see, en tot by die riviere. Hy sal vir My sê: ‘U is my Vader, my God, die rots van my redding.’ Ek sal hom my eersgeborene maak, die magtigste koning op aarde. Ek sal vir altyd aan hom my trou betoon; my verbond met hom vas laat staan. Ek sal ’n opvolger vir altyd bepaal; sy troon sal wees sonder einde, so lank as wat die hemel bestaan. Maar as sy seuns my gebooie nalaat en nie in my weë wandel nie, as hulle nie my bepalings navolg, nie my bevele gehoorsaam nie, dan sal Ek hulle eiesinnigheid straf, hulle oortredings swaar bestraf. Maar my liefde vir hom sal nooit ophou nie, en my trou aan hom sal Ek nie wegneem nie. Ek sal my verbond nie verbreek nie, en wat Ek beloof het, nie verander nie. Ek het by my heiligheid ’n eed afgelê, en my belofte aan Dawid sal Ek nie verbreek nie. Sy nakomelinge sal altyd daar wees, en sy troon sal blywend wees soos die son. Soos die maan is dit daar vir altyd, ’n getroue getuie in die lug!” Sela” NLV

Boodskap en betekenis

God se verbond met Dawid staan vas.  Dawid sal God aanroep as Vader en God sal hom eerste stel.  Vir altyd sal God sy trou handhaaf teenoor hom, want God se verbond met hom staan vas.  Dit sluit in dat hy ‘n opvolger sal hê wie se troon vir altyd sal wees, trouens solank as wat daar ’n hemel is. Wat ‘n vergesig belofte, is dit nie! Tog beteken dit nie dat die menslike nasate van Dawid hiermee ’n blanko tjek kry tot seën onafhanklik van hulle gehoorsaamheid aan die Here nie. Nee Etan is ook duidelik daaroor dat as sy seuns nie handel volgens God se woord nie, nie lewe volgens sy bepalinge nie, sy voorskrifte verontagsaam, sy gebooie nie nakom nie, sal Hy hulle straf. “Maar my liefde vir hom sal nooit ophou nie, en my trou aan hom sal Ek nie wegneem nie.”  God se verbond sal nie verbreek word nie. God se beloftes sal nie teruggehou word nie – spesifiek die beloftes van ’n nageslag om op sy troon te sit.  En die permanensie daarvan word aan die bestaan van die son en die maan sowel as die hemel gekoppel. Iets wat ons weet in Jesus, die Seun van Dawid, vervul is. In Lukas 1:32–33 is die engel se woorde aan Maria: “Die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee … en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” Ook Paulus verbind Jesus aan die Dawidiese beloftes (Hand. 13:22-23, 34; vgl. ook Hebr. 1:5-6). Ook Johannes verwys na Jesus as die heerser oor die konings van die aarde (Openb. 1:5).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar