Skip to main content

Psalm 136

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 136 was waarskynlik bedoel as wisselsang tussen ‘n liturg of tempelkoor en die geloofsgemeenskap in die tempel. Die liturg of koor het die eerste reël van elke vers gesing en die gemeente het geantwoord, telkens met dieselfde frase: “want vir ewig duur sy troue liefde” (2020-vertaling) of soos in die NLV: “Aan sy liefde is geen einde nie.” Dieselfde tipe teologie as in Psalm 135 word ook hier verkondig: God is goed; God is groot in die skepping en in die geskiedenis; God sorg vir sy volk in die gawe van die land sowel as vir almal met sy voorsiening van kos: “wat kos gee aan alles wat leef”. Wat die Psalm egter laat uitstaan is die fokus op die hêsêd van die Here wat 26 keer herhaal word – sy troue liefde. Só word by die geloofsgemeenskap die hart van die Godsbegrip ingeskerp, dat God liefde is, nie net ‘n liefde wat ‘n reaksie is op hulle gehoorsaamheid nie, maar ‘n liefde wat ten spyte van omstandighede voortgaan en hou. Die volk sou hieruit ook kon aflei, al is was dit nog asof deur ‘n spieël in ‘n raaisel, dat God se troue liefde nie net iets is wat vir ewig duur in terme van hulle tydsbegrip nie. Sy troue liefde deurstaan ook die toets van die tyd. Dit verander nie. Dit bly altyd dieselfde. Dit bly waar regdeur die geslagte, en regdeur die geskiedenis. ‘n Mens kan altyd op God se liefde staatmaak. God is immers liefde, soos die NT in Jesus Christus later so helder sou bely (1 Joh. 4:8). ‘n Mens kan die Psalm in drie dele opdeel (God is goed – vers 1-3; God is groot – vers 4-20; God sorg vir sy volk – vers 21-25, met die laaste opsommende lofprysing in vers 26), net soos dit in Ps. 135 die geval is.

Bid die Psalm

“Prys die Here, want Hy is goed! Aan sy liefde is geen einde nie. Prys die God van die gode. Aan sy liefde is geen einde nie. Prys die Heer van die here. Aan sy liefde is geen einde nie. Hy wat alleen magtige dade doen. Aan sy liefde is geen einde nie. Hy wat die hemele met insig gemaak het. Aan sy liefde is geen einde nie. Hy wat die aarde oor die waters uitgesprei het. Aan sy liefde is geen einde nie. Hy het die groot ligte gemaak, Aan sy liefde is geen einde nie. die son om te heers oor die dag, Aan sy liefde is geen einde nie. die maan en die sterre om te heers oor die nag. Aan sy liefde is geen einde nie. Die eerstelinge van Egipte het Hy getref Aan sy liefde is geen einde nie. en Israel onder hulle uitgelei Aan sy liefde is geen einde nie. met ’n sterk hand en uitgestrekte arm. Aan sy liefde is geen einde nie. Hy het die Rietsee oopgekloof Aan sy liefde is geen einde nie. en Israel veilig laat deurtrek, Aan sy liefde is geen einde nie. maar Farao en sy leër in die Rietsee gegooi. Aan sy liefde is geen einde nie. Hy het sy volk deur die woestyn gelei. Aan sy liefde is geen einde nie. Hy het magtige konings uitgeroei, Aan sy liefde is geen einde nie. en magtige konings doodgemaak: Aan sy liefde is geen einde nie. Sihon, die koning van die Amoriete, Aan sy liefde is geen einde nie. en Og, die koning van Basan. Aan sy liefde is geen einde nie. Hy het hulle land as ’n erfdeel gegee, Aan sy liefde is geen einde nie. ’n erfdeel vir Israel, sy dienaar. Aan sy liefde is geen einde nie. Hy het aan ons gedink toe ons moedeloos was Aan sy liefde is geen einde nie. en ons gered van ons vyande. Aan sy liefde is geen einde nie. Hy gee kos aan al wat lewe. Aan sy liefde is geen einde nie. Loof die God van die hemel! Aan sy liefde is geen einde nie.” NLV

Boodskap en betekenis

‘n Mens kan nie anders as om Paulus se fokus op God se liefde in herinnering te roep nie, soos hy so roerend helder in sy brief aan die huisgemeentes van Rome skryf:

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom. 8:35-39). Loof vandag die Here met dié inhoud in gedagte as jy die frase oor en oor in jou gedagtes herhaal: “want vir ewig duur sy troue liefde” (2020-vertaling) of soos in die NLV: “Aan sy liefde is geen einde nie.” Soos Peterson dit vertaal: “His love never quits.” (The Message)

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar