Skip to main content

Psalm 21:9-14

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die verhoring van sy gebede om oorwinning maak Dawid vol vertroue dat God ook in die toekoms sy vyande sal verdelg, soos dit in die tweede deel van die Psalm uitgespel word. Let op Dawid sy gebed dat die vyande verdelg word nie net doen om homself en sy nageslag te beveilig nie, maar om die eer van die Here te beskerm. Dit is nog ’n belangrike rede waarom die vloek- en wraak-gedagtes so skerp geteken word in die Psalm – God se eer is bo alles belangrik (soos ons ook in die laaste deel van Psalm 18 gesien het).

Bid die Psalm

“U hand sal al u vyande tref. U sterke hand sal al u haters vernietig. U sal hulle vernietig soos in ’n oond die oomblik wanneer U verskyn. Die Here sal hulle in sy toorn verslind, soos vuur sal Hy hulle verteer. U sal hulle kinders van die aarde af uitwis, hulle nageslag uit die mensheid verwyder. Al sou hulle teen U in opstand kom, hulle bose planne sal nie slaag nie. Want U sal hulle laat omdraai en vlug wanneer U pyle op hulle rig. Verhef U in u mag, Here. Ons wil U prys en oor u grootheid sing.” NLV

Boodskap en betekenis

Opstand teen God is nooit ‘n goeie idee nie. Geen bose plan kan God se planne fnuik nie. Daarvoor is God te magtig. En daarop kan ons in elke situasie in ons lewe staat maak. Maar, dit gaan oor God se grootheid, nie ons eie nie. Ons lewens moet God se eer bó alles stel. Dink na oor die wyse waarop God geëer word in jou lewe en gebede. Sy eer is belangriker as joune in die konflikte wat jy ervaar.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar