Skip to main content

Psalm 34:16-23

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Let in die derde deel van Psalm 34 op hoe Dawid twee maniere van leef, kontrasteer: die wysheid van die regverdiges wat in God hulle fokus vind, en die dwaasheid van die goddeloses wat in hulleself hulle fokus soek. En sy ervaring is dat die Here sorg vir die regverdiges, maar nie vir die goddeloses nie.

Bid die Psalm

“Die Here waak oor hulle wat reg doen; Hy luister na die geroep om hulp. Maar die Here tree op teen hulle wat kwaad doen en verwyder die herinnering aan hulle op die aarde. Wanneer mense roep om hulp, hoor die Here. Uit al hulle moeilikhede red Hy hulle. Die Here is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is. Die regverdige kan baie rampe ervaar, maar uit elkeen van hulle red die Here hom. Want die Here beskerm selfs elke been. Nie een van hulle sal gebreek word nie. Onheil sal sekerlik die goddeloses inhaal; hulle wat die regverdiges haat, sal veroordeel word. Maar hulle wat die Here dien, sal Hy bevry. Nie een wat by Hom skuil, sal veroordeel word nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op dat die goddeloses se ondergang as die gevolg van hulle eie kwaad beskryf word: “Onheil sal sekerlik die goddeloses inhaal.” (vers 22). Dwaasheid boemerang op hulle! Dit is asof God eintlik sy hand van bewaring terugtrek en hulle aan hulle eie planne oorlaat, wat op rampspoed afstuur. Maar God sorg vir die gebrokenes, en die moedeloses (spiritually crushed!), dié wat na Hom vra en dié wat Hom soek en wat toelaat dat Sy wil hulle lewens bepaal. Let weereens op dat God se teenwoordigheid IN krisisse ervaar word, en dat wysheid beteken om aan die Here vas te klou ten spyte van wat ook al met jou gebeur. Dit is hierdie karakter van God – dat Hy sorg vir gebrokenes en moedeloses – wat ons motiveer om te volhard in ons gebede. Vers 21 het ‘n besondere toepassing in die Nuwe Testament gekry aan die kruis. Johannes gebruik waarskynlik hierdie vers in Joh. 19:26: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar