Skip to main content

Psalm 52

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is ’n unieke Psalm waarin die boodskap eintlik op ’n vyand van Dawid, Doëg, gemik is, ’n soort stryd Psalm wat nie maklik inpas in die normale kategorisering van Psalms in lof en klag nie. Lees in 1 Samuel 21-22 meer oor Doëg wat Agimeleg en 85 priesters van die heiligdom by Nob uitgewis het, omdat hulle vir Dawid ondersteun het, omdat Doëg ’n geswore ondersteuner van Saul was. Daar sit ook waarskynlik meer agter dié persoonlike stryd, want Doëg was ’n Edomiet, afstammeling van Esau. Die konflik tussen Esau en Jakob (Dawid se voorvader) wreek hom dus ook op ’n manier in die stryd tussen Doëg en Dawid. Die Psalm kan in drie dele verdeel word: 1) Die slegte dade van Doëg word veroordeel – vers 3-6;  2) Die vernietiging wat God oor hom gaan bring, word verwelkom – vers 7-9.  In baie skerp taal word God se optrede geskets.  Basies word die ruimte wat God vir Doëg gegee het om te woon, weggeneem en sy lewe beëindig; 3) Die sorg en goedheid van God word verheerlik – vers 10-11.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Gedig van Dawid, met verwysing na die keer toe Doëg die Edomiet gekom het en vir Saul vertel het: Dawid is in die huis van Agimelek. Hoekom spog jy met jou boosheid, man van mag? God se troue liefde is mos sonder einde! Jy beplan verwoesting. Jou tong is skerp soos ’n skeermes; jy is ’n bewerker van bedrog. Jy verkies boosheid bo goedheid en leuens bo die waarheid. Sela Jy geniet woorde wat vernietig, en met jou tong bedrieg jy! Maar God sal jou vir altyd neergooi. Hy sal jou gryp, jou uit jou woning wegsleep en jou ruk uit die land van die lewendes. Sela Die regverdiges sal dit sien en met eerbied vervul word. Hulle sal lag en sê: “Kyk wat gebeur met die man wat nie by God geskuil het nie: Hy het eerder op sy rykdom vertrou, en deur verwoesting sterk geword.” Maar ek is soos ’n olyfboom wat geil groei in die huis van God. Ek vertrou op God se goedheid so lank as wat ek lewe. Ek sal U altyd loof, o God, vir wat U gedoen het. Ek sal op u Naam hoop, want hulle wat aan U getrou is, weet dat U goed is.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm herinner dus elkeen van ons wat onder die gemeenheid van ander moes deurloop, dat die laaste sê oor enigiemand se lewe van God af kom. God se sorg en goedheid hou ’n mens in stand selfs wanneer dit lyk asof die boosheid wil-wil seëvier. Gebruik hierdie Psalm as jy in ‘n konflik met ‘n wrede en magtige persoon gewikkel is. Jy kan die indeling van die Psalm in jou gebed soos volg gebruik: 1) ‘n Eerlike worsteling met wat gebeur (het); 2) ‘n Oorgee van die persoon aan God se optrede; 3) ‘n Lofprysing van God vir sy sorg en goedheid.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.