Skip to main content

Psalm 52

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is ’n unieke Psalm waarin die boodskap eintlik op ’n vyand van Dawid, Doëg, gemik is, ’n soort stryd Psalm wat nie maklik inpas in die normale kategorisering van Psalms in lof en klag nie. Lees in 1 Samuel 21-22 meer oor Doëg wat Agimeleg en 85 priesters van die heiligdom by Nob uitgewis het, omdat hulle vir Dawid ondersteun het, omdat Doëg ’n geswore ondersteuner van Saul was. Daar sit ook waarskynlik meer agter dié persoonlike stryd, want Doëg was ’n Edomiet, afstammeling van Esau. Die konflik tussen Esau en Jakob (Dawid se voorvader) wreek hom dus ook op ’n manier in die stryd tussen Doëg en Dawid. Die Psalm kan in drie dele verdeel word: 1) Die slegte dade van Doëg word veroordeel – vers 3-6;  2) Die vernietiging wat God oor hom gaan bring, word verwelkom – vers 7-9.  In baie skerp taal word God se optrede geskets.  Basies word die ruimte wat God vir Doëg gegee het om te woon, weggeneem en sy lewe beëindig; 3) Die sorg en goedheid van God word verheerlik – vers 10-11.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Gedig van Dawid, met verwysing na die keer toe Doëg die Edomiet gekom het en vir Saul vertel het: Dawid is in die huis van Agimelek. Hoekom spog jy met jou boosheid, man van mag? God se troue liefde is mos sonder einde! Jy beplan verwoesting. Jou tong is skerp soos ’n skeermes; jy is ’n bewerker van bedrog. Jy verkies boosheid bo goedheid en leuens bo die waarheid. Sela Jy geniet woorde wat vernietig, en met jou tong bedrieg jy! Maar God sal jou vir altyd neergooi. Hy sal jou gryp, jou uit jou woning wegsleep en jou ruk uit die land van die lewendes. Sela Die regverdiges sal dit sien en met eerbied vervul word. Hulle sal lag en sê: “Kyk wat gebeur met die man wat nie by God geskuil het nie: Hy het eerder op sy rykdom vertrou, en deur verwoesting sterk geword.” Maar ek is soos ’n olyfboom wat geil groei in die huis van God. Ek vertrou op God se goedheid so lank as wat ek lewe. Ek sal U altyd loof, o God, vir wat U gedoen het. Ek sal op u Naam hoop, want hulle wat aan U getrou is, weet dat U goed is.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm herinner dus elkeen van ons wat onder die gemeenheid van ander moes deurloop, dat die laaste sê oor enigiemand se lewe van God af kom. God se sorg en goedheid hou ’n mens in stand selfs wanneer dit lyk asof die boosheid wil-wil seëvier. Gebruik hierdie Psalm as jy in ‘n konflik met ‘n wrede en magtige persoon gewikkel is. Jy kan die indeling van die Psalm in jou gebed soos volg gebruik: 1) ‘n Eerlike worsteling met wat gebeur (het); 2) ‘n Oorgee van die persoon aan God se optrede; 3) ‘n Lofprysing van God vir sy sorg en goedheid.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar