Skip to main content

Psalm 99

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 99 is een van die prima aanbidding Psalms. Twee keer loop die beskrywing van God se wese en werk uit op ’n gelykluidende oproep om God te aanbid: “Loof die Here ons God! Aanbid Hom by sy voete, want Hy is heilig!” (vers 5 en 9). Dit is dan ook die indeling van die Psalm: vers 1–5 en vers 6–9. Die Psalmis teken in die eerste deel ’n prentjie van God wat regeer vanaf die Allerheiligste deel van die tempel in Sion. Die Psalmis sê: “Hy troon oor die gerubs” (vers 1). Dit dui aan die eenkant op die twee gerubs (hemelse wesens soos die engele en die serafs) van goudbeslag wat op die deksel van die verbondsark in die Allerheiligste van die tabernakel, die tent van ontmoeting, aangebring is (vgl. Eks. 25:18). Dit is die plek vanwaar God met Moses gepraat het op hulle reis deur die woestyn (Num. 7:89), en waar die hoëpriester Aäron (en ander later) een keer ’n jaar versoening vir die sondes van die volk gedoen het (Lev. 16). God is egter nie net in Sion nie. Dit is maar net sy “voetbank” (vgl. 1 Kron. 28:2 waar Dawid juis van die verbondsark “as rusplek vir die voete van ons God” praat; vgl. ook Ps. 132:7). Hy is ook: “hoog verhewe bokant al die volke.” Daarom kan die Psalmis alle mense oproep om sy groot en gevreesde Naam te prys: “U is heilig.” Die fokus van die Psalmis skuif na drie gebedshelde van weleer, Moses, Aäron en Samuel wat sy Naam aangeroep het en ervaar het dat Hy hulle gebed geantwoord het (interessant, al drie word priesters genoem, want hulle was natuurlik almal uit die stam van Levi). Samuel verbind homself interessant genoeg ook aan Moses en Aäron wat ’n aanduiding is dat hy sy lewe op dié van Moses en Aäron geskoei het (1 Sam. 12:6). In die vertaling staan daar dat Hy die gebed verhoor het, maar eintlik staan daar net dat Hy geantwoord het. Ons dink te maklik dat verhoring ’n ja–antwoord is. Dit is nie wat die drie se ervaring was nie. God het altyd geantwoord, maar soms ook nee geantwoord, soos wat ons eksplisiet van Moses (Eks. 32), en Samuel (1 Sam. 16) lees.

Bid die Psalm

“Die Here is koning! Laat die nasies bewe! Hy sit op die gerubs! Laat die hele aarde bewe! Groot is die Here in Sion, hoog verhewe bokant al die volke. Hulle moet u Naam verheerlik; dis groot en ontsagwekkend. Heilig is Hy! U is die magtige koning wat die reg liefhet. U het opregtheid gevestig, en reg en geregtigheid in Jakob. Loof die Here ons God! Aanbid Hom by sy voete, want Hy is heilig! Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel het sy Naam aangeroep. Hulle het die Here om hulp geroep en Hy het hulle gebed verhoor. In ’n wolkkolom het Hy gepraat, en sy bevele en voorskrifte wat Hy gegee het, het hulle gehoorsaam. Here ons God, U het hulle geantwoord. U was vir hulle ’n God wat vergewe, maar ook Een wat hulle oortredings straf. Loof die Here ons God! Dien Hom op sy heilige berg, want die Here ons God is heilig!” NLV

Die boodskap van die Psalm

Psalm 99 roep ons op om God te aanbid. Daar is twee redes daarvoor. Eerstens is God die Heilige Heerser wat oor alles troon. Tweedens is God die een wat gebede beantwoord. Dit pas ons dus om aan die eenkant Hom met ontsag te aanbid. Terselfdertyd nooi Hy ons aan die ander kant uit om soos Moses, Aäron en Samuel met Hom in gesprek te tree oor alles in ons lewe. Hy sal antwoord. Daarop kan ons vertrou. Maar, dit sluit in dat Hy soewerein bly in die tipe antwoord wat Hy gee. Trouens, die Here waarsku vir Jeremia op ’n punt in sy eie worsteling met die Here, dat selfs al was Moses en Samuel in gesprek met Hom oor die situasie van die volk net voor die ballingskap, sou Hy nie van sy plan afwyk nie (Jer. 15:1). God se besluit is soewerein. En ’n nee–antwoord is ook ’n Goddelike antwoord. Laat ons dit nooit vergeet nie. Wat ons ook moet raaksien van dié drie gebedshelde, is dat hulle God se bepalings nagekom het, die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het. Gehoorsaamheid is belangriker as gebedsverhoring. ’n Les wat ons weer ter harte kan neem in ons eie worstelinge met die Here oor allerlei. Let ook op dat die antwoord op hulle gebede ingesluit het dat God hulle vergewe het, en soms ook hulle sondes gestraf het – al drie het dit ervaar: Moses kon nie die Beloofde Land in nie (Num. 16), Aäron ook nie (Num. 12; 16) en Samuel is deur die Here tereggewys oor sy hartseer oor Saul (1 Sam. 16). God se dissipline was dus werksaam in hulle lewe. Die Psalmis gebruik dus dié drie gebedshelde se lewens om ons op te roep om dié God te aanbid, sy leiding in ons lewens te aanvaar, want Hy is heilig!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar