Skip to main content

Psalm 99

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 99 is een van die prima aanbidding Psalms. Twee keer loop die beskrywing van God se wese en werk uit op ’n gelykluidende oproep om God te aanbid: “Loof die Here ons God! Aanbid Hom by sy voete, want Hy is heilig!” (vers 5 en 9). Dit is dan ook die indeling van die Psalm: vers 1–5 en vers 6–9. Die Psalmis teken in die eerste deel ’n prentjie van God wat regeer vanaf die Allerheiligste deel van die tempel in Sion. Die Psalmis sê: “Hy troon oor die gerubs” (vers 1). Dit dui aan die eenkant op die twee gerubs (hemelse wesens soos die engele en die serafs) van goudbeslag wat op die deksel van die verbondsark in die Allerheiligste van die tabernakel, die tent van ontmoeting, aangebring is (vgl. Eks. 25:18). Dit is die plek vanwaar God met Moses gepraat het op hulle reis deur die woestyn (Num. 7:89), en waar die hoëpriester Aäron (en ander later) een keer ’n jaar versoening vir die sondes van die volk gedoen het (Lev. 16). God is egter nie net in Sion nie. Dit is maar net sy “voetbank” (vgl. 1 Kron. 28:2 waar Dawid juis van die verbondsark “as rusplek vir die voete van ons God” praat; vgl. ook Ps. 132:7). Hy is ook: “hoog verhewe bokant al die volke.” Daarom kan die Psalmis alle mense oproep om sy groot en gevreesde Naam te prys: “U is heilig.” Die fokus van die Psalmis skuif na drie gebedshelde van weleer, Moses, Aäron en Samuel wat sy Naam aangeroep het en ervaar het dat Hy hulle gebed geantwoord het (interessant, al drie word priesters genoem, want hulle was natuurlik almal uit die stam van Levi). Samuel verbind homself interessant genoeg ook aan Moses en Aäron wat ’n aanduiding is dat hy sy lewe op dié van Moses en Aäron geskoei het (1 Sam. 12:6). In die vertaling staan daar dat Hy die gebed verhoor het, maar eintlik staan daar net dat Hy geantwoord het. Ons dink te maklik dat verhoring ’n ja–antwoord is. Dit is nie wat die drie se ervaring was nie. God het altyd geantwoord, maar soms ook nee geantwoord, soos wat ons eksplisiet van Moses (Eks. 32), en Samuel (1 Sam. 16) lees.

Bid die Psalm

“Die Here is koning! Laat die nasies bewe! Hy sit op die gerubs! Laat die hele aarde bewe! Groot is die Here in Sion, hoog verhewe bokant al die volke. Hulle moet u Naam verheerlik; dis groot en ontsagwekkend. Heilig is Hy! U is die magtige koning wat die reg liefhet. U het opregtheid gevestig, en reg en geregtigheid in Jakob. Loof die Here ons God! Aanbid Hom by sy voete, want Hy is heilig! Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel het sy Naam aangeroep. Hulle het die Here om hulp geroep en Hy het hulle gebed verhoor. In ’n wolkkolom het Hy gepraat, en sy bevele en voorskrifte wat Hy gegee het, het hulle gehoorsaam. Here ons God, U het hulle geantwoord. U was vir hulle ’n God wat vergewe, maar ook Een wat hulle oortredings straf. Loof die Here ons God! Dien Hom op sy heilige berg, want die Here ons God is heilig!” NLV

Die boodskap van die Psalm

Psalm 99 roep ons op om God te aanbid. Daar is twee redes daarvoor. Eerstens is God die Heilige Heerser wat oor alles troon. Tweedens is God die een wat gebede beantwoord. Dit pas ons dus om aan die eenkant Hom met ontsag te aanbid. Terselfdertyd nooi Hy ons aan die ander kant uit om soos Moses, Aäron en Samuel met Hom in gesprek te tree oor alles in ons lewe. Hy sal antwoord. Daarop kan ons vertrou. Maar, dit sluit in dat Hy soewerein bly in die tipe antwoord wat Hy gee. Trouens, die Here waarsku vir Jeremia op ’n punt in sy eie worsteling met die Here, dat selfs al was Moses en Samuel in gesprek met Hom oor die situasie van die volk net voor die ballingskap, sou Hy nie van sy plan afwyk nie (Jer. 15:1). God se besluit is soewerein. En ’n nee–antwoord is ook ’n Goddelike antwoord. Laat ons dit nooit vergeet nie. Wat ons ook moet raaksien van dié drie gebedshelde, is dat hulle God se bepalings nagekom het, die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het. Gehoorsaamheid is belangriker as gebedsverhoring. ’n Les wat ons weer ter harte kan neem in ons eie worstelinge met die Here oor allerlei. Let ook op dat die antwoord op hulle gebede ingesluit het dat God hulle vergewe het, en soms ook hulle sondes gestraf het – al drie het dit ervaar: Moses kon nie die Beloofde Land in nie (Num. 16), Aäron ook nie (Num. 12; 16) en Samuel is deur die Here tereggewys oor sy hartseer oor Saul (1 Sam. 16). God se dissipline was dus werksaam in hulle lewe. Die Psalmis gebruik dus dié drie gebedshelde se lewens om ons op te roep om dié God te aanbid, sy leiding in ons lewens te aanvaar, want Hy is heilig!

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda