Skip to main content

Psalm 10:1-13

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid vervolg sy gebed in Psalm 10 en vra dat God Homself sal openbaar as die Een wat teenwoordig is waar hulpelose deur kwaadwilliges en boosdoeners oorrompel word. Dat Hy sorg sal dra dat bose mense gevang sal word in die planne wat hulle vir ander bedink. Hulle het geen plek vir God in hulle gedagtes nie. Daarom vra Dawid dat God sal optree teen die goddeloses en nie die hulpeloses sal vergeet nie.

Bid die Psalm

“Here, waarom staan U so ver weg? Hoekom verberg U Uself in tye van nood? Bose mense vol verwaandheid vervolg die ellendiges. Laat hulle gevang word in die planne wat hulle vir ander bedink. Want die goddelose spog met sy bose begeertes; hy seën die inhaliges en vervloek die Here. Hierdie bose mens is te trots om God te soek. In al sy beplannings is daar geen plek vir God nie. Hy is suksesvol in alles wat hy doen. U oordele is vir hom buite sig. Minagtend lag hy oor al sy vyande. Hy sê vir homself: “Geen onheil sal my ooit tref nie! Geslag na geslag sal ek vry wees van rampe!” Sy mond is vol vervloeking, leuens en geweld, onheil en boosheid is op sy tong. Hy lê in ’n hinderlaag by die dorpe om mense in die geheim te vermoor, hy bly op die uitkyk na onskuldige slagoffers. Hy lê doodstil in ’n hinderlaag soos ’n leeu in sy lêplek, hy wag in die hinderlaag om hulpeloses aan te val. Hy vang die ellendiges en trek hulle met sy net. Die hulpelose is oorrompel en stort ineen; hy val onder die aanslag van die kwaadwilliges. Hy wat kwaad doen, sê vir homself: “God het vergeet, Hy kyk tog nie en sal dit nooit raaksien nie!” Staan op, Here! Tree op teen die goddeloses, o God! Moenie die hulpeloses vergeet nie! Hoekom verag die goddelose vir God en sê by homself: “Hy sal tog nie rekenskap eis nie”?” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid bid dat die Here die goddelose gedagtegang sal ontbloot wat dink dat God nie rekenskap eis nie; wat dink dat die Here sonde nie raaksien nie. Daarom bid hy dat die Here sy mag sal toon deur die hulpeloses te red van die goddelose. Dink in jou eie omgewing aan mense wat uitgebuit word, en bid vir dieselfde optrede van God se kant af. Wees ook bedag daarop om jou eie sonde voor die Here te bely, want Paulus gebruik dele van hierdie en ander Psalms om die skuld van die hele wêreld voor God te bevestig en ons attent te maak daarop dat ons net in Christus verlossing van ons sonde sal kry (vgl. Ps. 10:7 wat in Rom. 3:14 as deel van sy betoog gebruik word dat alle mense sondaars is).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar