Skip to main content

Psalm 74:12-23

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In drie treffende gedeeltes herinner Asaf in die tweede deel van die Psalm God aan Wie Hy werklik is.  Daarmee steek die Psalmis die hoop aan dat die Here miskien van gedagte sal verander as Hy dink aan sy sorg (vers 12-17), sy verbond (vers 18-21) en sy verbintenis aan Homself (vers 22-23). God sorg immers vir alles en vir almal soos Hy helder gedemonstreer het in sy skeppingsmag en verlossingsdade deur die eeue.  Hy is van altyd af die Psalmis se koning, die een aan wie die dag en die nag behoort, wat die seisoene vasgestel het en in beheer bly van alle aardse onstuimigheid en mag. God se verbond is verder tog met sy mense al is hulle onderdruk, magteloos, en behoeftig in hulle verstrooiing na die donker plekke van die wêreld.  Die vyand wat met God spot en sy Naam belaster kan tog nie die oorhand kry oor dié mense met wie God in ’n verhouding getree het nie?  Hy noem die volk God se “duiwe” wat nie aan die wilde diere oorgegee moet word nie.  Die Psalmis doen ‘n beroep op God om sy mense in hulle nood raak te sien en hulle te help sodat hulle Hom weer kan prys. Die diepste oproep op God is egter sy verbintenis aan Homself, die verbintenis wat Hy het om sy Naam te beskerm teen die gespot van dwase.  Die Psalmis maak staat op God se sin vir regverdigheid: “Laat geld tog u reg.”  Dwase (barbare) sowel as God se teëstanders en vyande kan tog nie God se aandag ontglip nie!

Bid die Psalm

“U, o God, is van lankal af my koning, U bring redding op die aarde. Deur u krag het U die see verdeel, die koppe van seemonsters in die water vermorsel. Die koppe van die Leviatan het U verpletter. U het hom as kos vir die woestyndiere gegee. U laat fonteine en strome vloei, en standhoudende riviere opdroog. Selfs dag en nag behoort aan U; U het die son en maan gemaak. U het die grense van die aarde bepaal, somer en winter het U gemaak. Dink tog, o Here, hoe die vyand U bespot, hoe ’n dwase volk u Naam belaster. Moenie die lewe van u duiwe aan wilde diere gee nie. Moenie u verdrukte volk vir altyd vergeet nie. Kyk tog na u verbond, want tot in die donkerste hoekies is die aarde vol geweld! Moenie dat die verdrukte in skande omdraai nie. Laat die behoeftiges en armes u Naam liewer prys. Staan op, o God, en verdedig u saak. Onthou hoe dwase mense U die hele dag beskuldig. Vergeet nie die geraas van u vyande, die lawaai van u teenstanders wat voortdurend opgaan nie.” NLV

Betekenis en boodskap

Eerder dus as om die hoop op God te laat vaar, doen die Psalmis in hierdie tweede deel van die Psalm die enigste ding wat hy kan. Hy herinner God aan sy mag soos Hy geïllustreer het oor die monsters van die voortyd. Hy herinner God aan sy karakter as die Versorger van alles wat lewe. Hy herinner God aan die feit dat Hy in verhouding getree het met dié volk wat nou verwoesting gesmaak het. En as die toppunt van sy rede aan God, herinner Hy God aan Wie Hy in Homself is, ’n God wat op die reg gefokus is.  Sy hoop is dat God getrou aan Homself sal bly, dat Hy sy reg sal laat geld – redding vir sy mense en vergelding vir sy teenstanders. Die Psalmis herinner ons daarmee aan die feit dat ons nie moet wegdraai van God as ons seerkry nie, selfs nie as ons seerkry omdat ons dit verdien nie. Ons moet altyd weer ons hoop op God plaas, Hom herinner aan sy sorg, sy verbond en sy verbintenis aan die reg.  Daarmee moet ons nie ophou nie: “Staan op, o God, en verdedig u saak.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar