Skip to main content

Psalm 118:19-29

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Na die jubeling buite die tempel is die gebed van die volk dan: “Maak die tempelpoort vir my oop: ek wil ingaan en die Here loof.” Van dié ervaring van gebedsverhoring moet die wêreld, maar veral ook die geloofsgemeenskap kennis neem. Die Psalm werk dan heel onverwags met die metafoor van die: “klip wat deur die bouers afgekeur is,” maar: “juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.” Die Psalmis bedoel daarmee dat hulle eintlik soos die afgekeurde klip was in hulle eie ervaring, en selfs in die oë van hulle vyande. Deur die Here se ingrype voel hulle nou asof hulle van hulle posisie van vernedering verhoog is tot die mees prominente plek in die tempel van die Here, die belangrikste klip in die gebou (vgl. Jes. 28:16 vir ‘n soortgelyke gedagte, en Jer. 51:26 vir die teenoorgestelde boodskap aan Babel).

Bid die Psalm

“Maak oop vir my die poorte van regverdigheid, dan sal ek ingaan en die Here loof. Dit is die poort na die Here; die regverdiges gaan hier in. Ek prys U omdat U my verhoor het en my redder geword het. Die klip wat die bouers afgekeur het, het nou die sluitsteen geword. Dit is die werk van die Here, en wonderlik vir ons om te aanskou. Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees. Here, red ons tog, Here, gee ons tog voorspoed. Geseënd is die een wat kom in die Naam van die Here. Ons seën julle uit die tempel van die Here. Die Here is God, Hy laat sy lig oor ons skyn. Begin die optog, wuif die takke! Stapel dit op tot by die horings van die altaar. U is my God, en ek wil U prys! My God, ek sal U hemelhoog prys! Wees dankbaar teenoor die Here, want Hy is goed! Sy goedheid duur vir altyd!” NLV

Boodskap en betekenis

Die boodskap van die belangrikste klip vind op ‘n besondere manier in die NT weerklank in Paulus (Rom. 9:33; 10:11) en Petrus (1 Pet. 2:6) se onderrig oor Jesus as die fondament, die hoekklip, van die Christelike kerk. Soos Jesus verneder is aan die kruis (soos ‘n “weggooi-klip”), is Hy verhoog deur sy hemelvaart. En is Hy nou die hoeksteen, die belangrikste klip in die gebou wat God besig is om te voltooi, die hemelse Jerusalem. Dit is daarom een van die belangrikste en wonderlikste boodskappe wat die OT en NT geloofsgemeenskap aan mekaar bind. Wat hulle verwag het, dít is vervul in Jesus en vorm die basis vanwaar af ons as gelowiges leef. Daarom: “Begin die optog, wuif die takke!” Alle gelowiges van alle tye vind vreugde in dié werklikheid. Nog dieper, dit is dan ook uit dié hoek wat ons die skare se woorde met die intog in Jerusalem moet hoor as hulle die woorde uit Psalm 118:26 gebruik: “Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” soos Matteus dit vir ons vertel (Matt. 21:9). Psalm 118:27 maak dan net soveel meer sin: “Begin die fees! Wuif met takke!” Hoewel die Jode se lofprysing nie lank gehou het nie, omdat hulle nie rekening gehou het daarmee dat Jesus se verheerliking sy kruisdood ingesluit het nie, het die boodskap van die Psalm steeds deur die opstanding in vervulling gegaan toe Jesus die dood oorwin het. Psalm 118 het ook in die lewe van die Engelse filosoof, teoloog, vertaler, prediker en Hervormer: John Wycliffe (1329-1384) vervulling gekry. John het ‘n passie gehad om alle mense die Bybel in hulle eie taal te laat lees. Sy vyande in die kerk het egter niks daarvan gehou nie, en wou hê dat net die geleerdes die Bybel in Latyn en die oorspronklike tale lees. Hulle het hom selfs verbied om te preek. Op 52 jarige ouderdom het hy as ‘n baie siek man afgetree. Toe sy vyande selfs op sy siekbed hom geteister het met die idee dat hy sy “sonde moet bely” om die Bybel vir alle mense toeganklik te maak – kan jy dít glo! – het vers 17 van Psalm 118 hom te binne geskiet, en het hy dit vir hulle aangehaal: “Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.” Net daar en dan het John besluit om die hele Bybel in Engels te vertaal. Dit het hom drie jaar geneem en hy het dit voltooi net voor hy op 55 jarige ouderdom oorlede is. Sy passie vir die Woord het ander geïnspireer om dieselfde te doen. Die Tsjeg Johannes Hus (1369-1415) het ‘n proses begin om die hele Bybel in Boheems te vertaal en Maarten Luther (1483-1546) het daarop voortgebou en self die hele Bybel in Duits vertaal. Dat jy dus die Bybel in jou eie taal in jou hand kan hou, is te danke aan die visie en passie van hierdie Hervormers. En Psalm 118:17 was die inspirasie wat die Here in die lewe van John Wycliffe gebruik het om sy lewenswerk te voltooi. Trouens, die hele idee van ‘n Bybel in jou eie taal, kom tot ‘n groot mate van sy visie af! Luister hier na die majestueuse melodie van Psalm 118, geskryf in 1545 deur Guillaume Franc in Straatsburg ‘n jaar voor Luther se dood (gespeel deur Dick Sanderman).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar