Skip to main content

Psalm 67

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 67 is ook ‘n Psalm vir die nasies. Dit onderstreep die feit dat God mense seën om tot ’n seën te wees vir ander, sodat hulle Hom kan eer.  Let op hoe die gebed in vers 2-3 albei kante insluit: “Mag God ons genadig wees… sodat u werke bekend kan word oor die aarde.”  God se seën is bedoel om Sy teenwoordigheid op aarde bekend te stel en as ’n teken daarvan te dien, soos die vorige Psalm dit ook in terme van gebedsverhoring uitgespel het. Die opgewonde verwagting van God se ingrype en verbintenis om daarvan te vertel, lei tot ’n verdere dubbel-herhaalde gebed (vers 4 en 6) dat dié dade van God mag lei daartoe dat alle nasies Hom sal loof. Die spits daarvan is: “Laat die nasies bly wees en sing van vreugde, want met billikheid regeer U die volke!” (vers 5).

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Met snarespel. ’n Psalm. ’n Lied. Mag God ons genadig wees en ons seën. Mag sy goedheid oor ons skyn Sela sodat u werke bekend kan word oor die aarde, u reddende krag onder al die nasies. Mag die volke U prys, o God, mag al die nasies U loof. Laat die nasies bly wees en sing van vreugde, want met billikheid regeer U die volke en lei U die nasies op die aarde. Sela Mag die volke U prys, o God. Mag al die volke U loof. Die aarde het oeste gelewer. God, ons God, sal ons seën. God sal ons seën, en mense oor die hele aarde sal Hom dien.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie is ’n Psalm wat in ’n neutedop saamvat wat God se doel is met alle nasies. God seën mense om tot ’n seën te wees vir ander, sodat hulle Hom kan eer. Die Psalm eindig met lof vir die wyse waarop God ook in die land sy seën laat blyk met die oes op die regte tyd. Maar selfs dít is bedoel as getuienis van God se teenwoordigheid vir die mense op die hele aarde! Jesus sluit ook by dié gedagtegang aan in sy Bergrede, maar neem dit nog ’n stappie verder: “Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word;  seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word.  As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.” (Matt. 6:27-31).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar