Die Psalms is ’n indrukwekkende versameling van geestelike gebede en liedere. Dit is ‘n “boek van lofliedere” soos die Hebreeuse titel Tehillîm dit stel (in Grieks Psalmoi). Dit sing in Psalm 1 van die vreugde om in God se teenwoordigheid soos ’n boom te floreer, en eindig met ’n oproep in Psalm 150 dat alles wat asem haal die Here moet prys. Die mens en die skepping vind sy doel en bestemming in die lewe saam met God. Aan die een kant beleef ons sin in gehoorsaamheid aan God (Ps. 1) en aan die ander kant in die uitbundige lof aan God (Ps. 150).
Die Psalmboek bevat 150 Psalms wat ’n wye verskeidenheid van situasies in die geestelike lewe reflekteer. Dit is die mees praktiese boek in die Bybel, omdat dit ons leer hoe om te bid, hoe om te leef, en hoe om God te loof. Op die koop toe help die Psalms ons op onvergelyklike wyse met die emosies wat ons oor die hele spektrum van die lewe ervaar. Dit spreek nie net ons intellek aan (kognitief), of leer ons hoe om gehoorsaam te wees nie (konatief). Dit help ons ook om emosioneel gesond voor God te lewe (affektief).
Die Psalms help ons om dieper met God om te gaan, en dit met die woorde wat Hyself vir ons gegee het om te gebruik. Die Psalms help ons om van ‘n oor-God gesprek na ‘n met-God gesprek te beweeg. Die Psalms sal jou keer om in ’n oppervlakkige en vervelige manier van bid te verval, en jou gemeenskap met God verdiep om nie net jou eie emosies en gedagtes nie, maar ook die ervarings van die hele lewe in te sluit in jou lewe voor en met God.
Dit is waarom die NT ons steeds leer om op lofliedere en ook meer spesifiek op die Psalms te fokus. Dit sien ons alreeds in een van die belangrike opdragte van Jakobus aan individuele gelowiges – die broer van Jesus in moontlik die eerste NT brief – wat is om te sing, veral lofliedere (Jak 5:13). Paulus dring daarby ook spesifiek daarop aan dat gelowiges in hulle samekomste die Psalms moet sing, saam met die ander liedere, soos Jesus natuurlik ook met sy dissipels gedoen het (Matt. 26:30).
In 1 Korintiërs 14:26 sê Paulus dit behoort die normale ding te wees in die gemeente: “Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ’n bydrae om te lewer: ’n psalm, ’n onderwysing, ’n openbaring, ’n ongewone taal of klank, ’n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop”.
In Kolossense 3:16 sê Paulus: “Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing”. In Efesiërs 5:19 herhaal Paulus dit: “en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here”.
Hierdie lering sluit aan by die ou tradisie om drie keer ‘n dag te bid en die Here te loof, soos ons reeds by Daniël agtergekom het (Dan 6:11 – trouens sommige het sewe keer ‘n dag gebid, vgl. Ps. 119:164). Die Joodse tradisie het hieruit ontwikkel om in die oggend, middag en aand vaste gebedstye te hê, soos die dissipels ook gewoond was om te doen (Hand. 3:1).
Die eerste Christelike Onderrig naas die Bybel, die Didage (Lering van die Twaalf Apostels), het daarom ook riglyne vir sulke gereelde gebedstye bevat. Die Ons Vader is in dié riglyne uitgelig om drie keer ‘n dag gebid te word, veral in ‘n persoonlike en familie konteks.
Hieruit het die vroeë kerk ‘n gebedsgewoonte ontwikkel, onder andere in die Agpia, Breviary of Hours, wat veral die Psalms deur die dag op ‘n gestruktureerde wyse gebid het. Die Lutherane, Anglikane en Metodiste het eie weergawes na die Hervorming die lig laat sien.
Ek sluit hierby aan, maar op ‘n meer eenvoudige manier. Ek verdeel die Psalms in ongeveer 6-10 verse per dag dat daar genoeg vir ongeveer ‘n jaar se gebede is. Ons lees en bid dit saam met die Ons Vader en die Joodse lofprysing waarmee hulle gebede tradisioneel afgesluit is uit Deuteronomium 4:39. Die doel is om gemeenskap met God op ‘n deurlopende wyse deur die dag te beoefen.
Ek stuur hierdie dagprogram in een WhatsApp en een webbydrae (bybelskool.com) per dag wat ‘n oggendgebed, middaggebed en aandgebed bevat.
Ek plaas ook telkens die teks van die Psalms uit die NLV vir jou gerief. Ek doen dit met erkenning aan CUM wat goedgunstiglik verlof daartoe verleen het. Die Ons Vader is my eie vertaling.
Skakel nou in:
Ons begin reeds môre die 22ste Desember 2025 net na die reeks oor die Geboorte en Kinderjare van Jesus vandag klaarmaak.
Onlangse kommentaar