Skip to main content

Beplanning – Bid die Psalms 2026

Ek nooi jou uit om in 2026 die Psalms daagliks saam met my te bid.

Daarmee sluit ons aan by gelowiges deur die eeue wat gereeld met die Here gemeenskap in gebed geniet het. Ons lees van Daniël wat ‘n vaste gebedstyd drie keer ‘n dag gehandhaaf het (Dan. 6:11). Ons lees van die dissipels wat ná Pinksterdag steeds vaste gebedstye gehandhaaf het (Hand 3:1).  Ook die vroeë kerk van die eerste eeue van ons jaartelling het drie gebedstye gehandhaaf waarin die Ons Vader ook ‘n prominente rol gespeel het (Didage – die Lering van die Twaalf Apostels).

Kies vir jou drie tye in die oggend, middag en aand op ‘n plek waar jy vrymoedig kan bid.

Vir die oggendgebed sluit my bydrae die teks van die Ons Vader, ‘n Psalm of ‘n gedeelte van ‘n Psalm in, wat jy kan bid. Ek gee ook kort opmerkings oor die teks en konteks, sowel as die boodskap en betekenis van die Psalm, sodat jy daaroor kan nadink. Ek gee ook telkens ‘n Lofprysing.

Vir die middag- en aandgebed kan jy my opmerkings ignoreer, en net fokus daarop om die Ons Vader, die Psalm, en ‘n Lofprysing te bid, sodat die fokus sterk op gemeenskap met God kan wees. Ek plaas die teks van die Psalms uit die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) met erkenning aan CUM wat verlof verleen het. Die Ons Vader is my eie vertaling.

Skakel nou in:

Ons begin reeds die 22ste Desember 2025 net na die reeks oor die Geboorte en Kinderjare van Jesus klaarmaak.

Inleiding – Bid die Psalms 2026

Die Psalms is ’n indrukwekkende versameling van geestelike gebede en liedere. Dit is ‘n “boek van lofliedere” soos die Hebreeuse titel Tehillîm dit stel (in Grieks Psalmoi). Dit sing in Psalm 1 van die vreugde om in God se teenwoordigheid soos ’n boom te floreer, en eindig met ’n oproep in Psalm 150 dat alles wat asem haal die Here moet prys. Die mens en die skepping vind sy doel en bestemming in die lewe saam met God. Aan die een kant beleef ons sin in gehoorsaamheid aan God (Ps. 1) en aan die ander kant in die uitbundige lof aan God (Ps. 150).

Die Psalmboek bevat 150 Psalms wat ’n wye verskeidenheid van situasies in die geestelike lewe reflekteer. Dit is die mees praktiese boek in die Bybel, omdat dit ons leer hoe om te bid, hoe om te leef, en hoe om God te loof. Op die koop toe help die Psalms ons op onvergelyklike wyse met die emosies wat ons oor die hele spektrum van die lewe ervaar. Dit spreek nie net ons intellek aan (kognitief), of leer ons hoe om gehoorsaam te wees nie (konatief). Dit help ons ook om emosioneel gesond voor God te lewe (affektief).

Die Psalms help ons om dieper met God om te gaan, en dit met die woorde wat Hyself vir ons gegee het om te gebruik. Die Psalms help ons om van ‘n oor-God gesprek na ‘n met-God gesprek te beweeg. Die Psalms sal jou keer om in ’n oppervlakkige en vervelige manier van bid te verval, en jou gemeenskap met God verdiep om nie net jou eie emosies en gedagtes nie, maar ook die ervarings van die hele lewe in te sluit in jou lewe voor en met God.

Dit is waarom die NT ons steeds leer om op lofliedere en ook meer spesifiek op die Psalms te fokus. Dit sien ons alreeds in een van die belangrike opdragte van Jakobus aan individuele gelowiges – die broer van Jesus in moontlik die eerste NT brief – wat is om te sing, veral lofliedere (Jak 5:13). Paulus dring daarby ook spesifiek daarop aan dat gelowiges in hulle samekomste die Psalms moet sing, saam met die ander liedere, soos Jesus natuurlik ook met sy dissipels gedoen het (Matt. 26:30).

In 1 Korintiërs 14:26 sê Paulus dit behoort die normale ding te wees in die gemeente: “Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ’n bydrae om te lewer: ’n psalm, ’n onderwysing, ’n openbaring, ’n ongewone taal of klank, ’n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop”.

In Kolossense 3:16 sê Paulus: “Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing”. In Efesiërs 5:19 herhaal Paulus dit: “en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here”.

Hierdie lering sluit aan by die ou tradisie om drie keer ‘n dag te bid en die Here te loof, soos ons reeds by Daniël agtergekom het (Dan 6:11 – trouens sommige het sewe keer ‘n dag gebid, vgl. Ps. 119:164). Die Joodse tradisie het hieruit ontwikkel om in die oggend, middag en aand vaste gebedstye te hê, soos die dissipels ook gewoond was om te doen (Hand. 3:1).

Die eerste Christelike Onderrig naas die Bybel, die Didage (Lering van die Twaalf Apostels), het daarom ook riglyne vir sulke gereelde gebedstye bevat. Die Ons Vader is in dié riglyne uitgelig om drie keer ‘n dag gebid te word, veral in ‘n persoonlike en familie konteks.

Hieruit het die vroeë kerk ‘n gebedsgewoonte ontwikkel, onder andere in die Agpia, Breviary of Hours, wat veral die Psalms deur die dag op ‘n gestruktureerde wyse gebid het. Die Lutherane, Anglikane en Metodiste het eie weergawes na die Hervorming die lig laat sien.

Ek sluit hierby aan, maar op ‘n meer eenvoudige manier. Ek verdeel die Psalms in ongeveer 6-10 verse per dag dat daar genoeg vir ongeveer ‘n jaar se gebede is. Ons lees en bid dit saam met die Ons Vader en die Joodse lofprysing waarmee hulle gebede tradisioneel afgesluit is uit Deuteronomium 4:39. Die doel is om gemeenskap met God op ‘n deurlopende wyse deur die dag te beoefen.

Ek stuur hierdie dagprogram in een WhatsApp en een webbydrae (bybelskool.com) per dag wat ‘n oggendgebed, middaggebed en aandgebed bevat.

Ek plaas ook telkens die teks van die Psalms uit die NLV vir jou gerief. Ek doen dit met erkenning aan CUM wat goedgunstiglik verlof daartoe verleen het. Die Ons Vader is my eie vertaling.

Skakel nou in:

Ons begin reeds môre die 22ste Desember 2025 net na die reeks oor die Geboorte en Kinderjare van Jesus vandag klaarmaak.

Psalm 1

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 1 lei die hele Psalmboek in. Twee groepe mense word hier gekontrasteer wat telkens in die res van die Psalmboek genoem sal word: die regverdiges en die goddeloses. In wese is dit die kern van die Psalms (en die Bybel) se boodskap: 1) Die sin van die lewe word in die regte verhouding met God gevind – regverdiges. 2) Dit is dwaas om sonder God te probeer lewe – goddeloses. Let op hoe die Psalm die impak uitspel wat regverdiges en goddeloses se onderskeie lewenstyle op hulle ervarings en bestemming het. Die pad wat jy kies in hierdie lewe het gevolge. Dit laat ’n mens dink aan Jesus se tipering van twee paaie in Matt 7:13–14. Die een is ’n poort na die verderf, die ander die poort na die lewe.

Bid die Psalm

“Gelukkig is die mens wat nie loop volgens die raad van goddeloses, of staan op die pad van sondaars, of sit in die vergadering van spotters nie. Hy vind egter vreugde in die gebooie van die Here en oordink sy voorskrifte dag en nag. Hy is soos ’n boom geplant langs waterstrome, wat vrugte dra op die regte tyd. Sy blare verwelk nie; in alles wat hy doen, is hy voorspoedig. Maar dit geld nie vir die goddeloses nie. Hulle is soos kaf wat die wind verstrooi. Daarom sal goddeloses nie voortbestaan in die oordeel, of sondaars in die geselskap van regverdiges nie. Want die Here waak oor die pad van die gelowiges; maar die paaie van die goddeloses lei tot ondergang.” NLV

Boodskap en betekenis

Psalm 1 help jou om oor die bron van jou lewe te besin. Die metafoor van die boom by die waterstroom spel die primêre plek uit wat die Woord in jou lewe moet hê. Die Here lei jou daardeur op die regte pad, soos Jeremia ook later sal skryf (Jer. 17:7-8). Die saligsprekings van Jesus  sluit nou by hierdie boodskap aan: “Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is, want Hy sal hulle hartsverlange bevredig… Gelukkig is dié wie se harte volkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien.” (Matt. 5:6, 8 – NLV). Dink hieroor na en verbind jou daaraan om die Psalms as die basis van jou gebede vir hierdie jaar te gebruik.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Psalm 2:1-6

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 2 word deur Lukas aan Dawid toegeskryf in Handelinge 4:25. Hy haal ook daaruit aan, en noem dit die tweede Psalm (Hand. 13:33). Die Psalm is soos Psalm 1 ook ’n inleiding tot die hele Psalmboek wat fokus op God se heerskappy oor alles en almal, veral die nasies en hulle konings. Psalm 1 en 2 is daarom die fondament waarop die hele Psalmboek gebou is. Waar Psalm 1 ons help om te verstaan dat vreugde en voorspoed by die Here en in sy gemeenskap te vinde is, help Psalm 2 ons om te verstaan dat hierdie God almagtig is. Hy is aktief op die wêreldtoneel van volke, nasies, konings en leiers.

Bid die Psalm

“Hoekom gaan die nasies so tekere, en bedink die volke nuttelose planne? Die konings van die aarde het saamgesweer; die heersers span saam teen die Here en sy gesalfde. Hulle sê: “Laat ons hulle kettings stukkend breek, onsself bevry van hulle slawebande.” Maar Hy wat vanuit die hemel heers, lag oor hulle. Die Here spot met hulle. In sy toorn praat Hy met hulle, en in sy woede verskrik Hy hulle: “Ek het hom op Sion, my heilige berg, as my koning aangestel.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm gee jou die moed om God te vertrou om in die wispelturigheid van die (internasionale) politieke wêreld van ons gemeenskappe rigting te bring, en by Hom skuiling te soek, beide in jou persoonlike lewe as in die publieke deel daarvan. Dit het die eerste gemeente goed verstaan en op grond van Psalm 2:1-2 in hulle gebed gevra: “dat ons, u diensknegte, u woord met waagmoed sal verkondig. Steek u hand uit en bewerk genesing, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” (Hand. 4:29-30 NLV). Na die gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle kon God se boodskap onverskrokke verkondig. Dink hieroor na en bid dat die Here sy mag ook in jou eie omstandighede deur sy Gees sal bevestig.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

Psalm 2:7-12

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 2 vervolg in twee dele. Die gesalfde koning eien eerstens sy status en erfenis as God se seun toe. Hy waarsku tweedens die konings en regeerders van die aarde om die Here met ontsag te dien.

Bid die Psalm

“Ek wil vertel van die Here se besluit. Hy het vir my gesê: “Jy is my seun. Vandag het Ek jou Pa geword. Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsie, die einde van die aarde as jou besitting. Met ’n ysterstaf sal jy hulle stukkend slaan, soos ’n kleipot hulle verpletter.” Wees nou verstandig, o konings! Wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Dien die Here met eerbied en juig oor Hom met bewing. Onderwerp julle aan God sodat Hy nie toornig word en jy op die pad omkom nie. Want sy toorn ontvlam gou, maar daar is vreugde vir almal wat by Hom skuil.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie Psalm word die meeste in die NT aangehaal. Dit is die Psalm wat die duidelikste skakel tussen God se werk in Dawid en God se werk in Jesus gevorm het. Dit is hierdie Psalm wat agter die identifikasie lê van Jesus as die Seun van Dawid, die Een wat God se koninkryk laat kom (Mark. 1:14-15), wat nie net die Messias is nie (Luk. 9:20), maar ook die Seun van God (Joh. 1:34) die Een wat uit die dood opgestaan het (Hand. 13:32-34), en die totale beheer oor die nasies ontvang het (Openb. 2:27; 12:5; 19:15). Gebruik hierdie deel van Psalm 2 as jou gebed vir die nasies. Bid dat hulle tot insig en inkeer sal kom van hulle dwase opstand teen die Here. Hy is in beheer.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda