Skip to main content

Psalm 27:7-14

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid leer ons in die tweede deel van die Psalm om nie net God se aangesig te soek nie, maar ook op sy pad te loop. Dit is immers wat die Here van Hom vra. Hy bid daarom vir gebedsverhoring terwyl hy alles in die stryd werp om die Here te bly dien. Hy vra ook dat die Here hom op ‘n gelyk pad sal lei, sodat sy vyande nie oor hom kan seëvier nie.

Bid die Psalm

“Luister tog na my as ek roep, Here. Wees genadig, verhoor my gebed! U het vir my hart gesê: “Kom en dien My.” Ek antwoord: “Here, ek kom U dien.” Moenie U vir my verberg nie, of u dienaar in toorn verwerp nie. U was nog altyd my helper. Moenie my nou verlaat nie; moenie my in die steek laat nie, God van my verlossing! Selfs al sou my pa en ma my verlaat, die Here sal my styf vashou. Leer my hoe om te lewe, Here. Lei my op ’n gelyke pad, want my vyande wag my in. Moenie my oorgee in die hande van my vyande nie. Hulle bring vals getuies teen my en hulle blaas geweld aan teen my. Tog is ek daarvan oortuig: Die Here se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes. Vertrou op die Here! Wees sterk en skep moed! Ja, vertrou op die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Let op dat vorige gebedsverhorings wat Dawid ervaar het hom die vrymoedigheid gee om met oorgawe en verwagting weer daarvoor te vra: “U was nog altyd my helper”. Dit gee Dawid ook die vertroue om met ’n moedige en gewillige hart te wag op die Here se uitkoms. En van God te vra om hom verder sy wil te leer sodat hy staande kan bly in die aanslae teen hom. Hierdie oproep om te vertrou, om sterk te wees en goeie moed te behou, en steeds te vertrou, is ’n belangrike deel van ’n mens se geestelike lewe. Dit is ‘n ingesteldheid wat jou kan dra in verskillende kontekste. “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!” Want, Dawid is ‘n getuie daarvan dat ons soos hy God se goedheid hier “in die land van die lewendes” sal sien.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar