Skip to main content

Psalm 30:7-13

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid gebruik sy ervaring van God se redding in die tweede deel van die Psalm om ons aan te moedig om die Here getrou te bly dien, want Hy is ‘n God wat lewenslank goed is. Hy is egter ook eerlik daaroor dat hy sy vertroue in God se onwankelbaarheid eintlik maklik verkondig het – toe dit nog goed gegaan het met hom. Die toets het egter gekom – hetsy deur sy eie toedoen of deur ander s’n of deur siekte – toe dit nie goed gegaan het met hom nie, en hy die ervaring gehad het dat God sy teenwoordigheid aan hom onttrek het. Dit het sy vertroue op God tot die uiterste getoets.

Bid die Psalm

“Toe ek voorspoedig was, het ek gesê: “Niks sal my ooit beweeg nie!” U goedheid, Here, was vir my soos ’n stewige berg. Maar toe U van my af wegdraai, was ek verskrik. Ek het na U geroep, Here. Ek het by U, Here, gepleit om genade: “Wat sal dit U baat as ek sterf, as ek wegsak in die graf? Kan my stof U loof in die doderyk? Kan my stof u trou daar verkondig? Luister, Here, en wees my genadig. Help my tog, Here!” U het my droefheid verander in ’n dans van vreugde. U het my rouklere weggeneem en my met vreugde geklee. Daarom sal ek sing tot u eer en nie swyg nie. Here my God, ek sal U dank vir altyd.” NLV

Boodskap en betekenis

Dawid verklaar hier dat hy nie kan stilbly nie, want die Here het sy hulpgeroep gehoor en hom genadig gewees, en sy vertroue bevestig. Hy kan nie stilbly nie, want God het nie stil gebly nie! Het jy ook sulke verhale wat jy kan oproep tot jou eie versterking, en miskien met ander kan deel tot hulle versterking?

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar