Skip to main content

Psalm 51:1-11

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 51 is die bekendste van die sogenaamde boetepsalms in die Psalmboek (vgl. Ps. 6; 32; 38; 51; 102; 130; 143).  Dit word gekoppel aan Dawid se reaksie op die profeet Natan se veroordeling van sy owerspel met Batseba en die verraad teen haar man Urija wat tot sy dood gely het (2 Sam. 11-12).  Maar die betekenis hiervan is vir alle tye en in alle situasies waar om vergifnis en herstel gebid word. Let op hoe die hart van die Psalm in die twee kante van dié gebed opgedeel word: 1) Gebed om vergifnis – vers 1-11; 2) Gebed om herstel – vers 12-19. Ons lees vandag die eerste deel, en môre die tweede.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm, toe die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba. Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde. Wis tog my sonde uit, op grond van u barmhartigheid. Was my skoon van my skuld. Reinig my van my sonde. Want ek ken my oortredings en my sonde is gedurig voor my. Teen U, U alleen, het ek gesondig; ek het gedoen wat vir U verkeerd is. Daarom is u uitspraak reg en u oordeel regverdig. Want ek is as sondaar gebore, en was dit toe my ma swanger geword het. Maar U verwag waarheid in die hart. U leer my om wysheid te besit. Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. Gee my tog weer blydskap en vreugde; U het my stukkend gebreek, laat my weer vol vreugde wees. Moenie let op my sondes nie, en wis al my oortredings uit.” NLV

Boodskap en betekenis

Die gebed om vergifnis word in God se troue liefde en groot barmhartigheid begrond. Let op dat sonde ten diepste ’n oortreding teen God en sy wil vir die lewe is, voortgebring uit die diep ingebore sondigheid van die mens. Dawid openbaar hiermee ’n diep stuk wysheid, soos Spreuke 28:13 dit ook het: “Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.”  En dít is waarvoor Dawid vra, dat God in sy genade weer vir hom God se wil diep in sy binneste sal bekend maak, hom opregtheid diep in sy hart sal gee. Soos Peterson in The Message vers 8 vertaal: “Enter me, then; conceive a new, true life.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar