Skip to main content

Psalm 35:19-28

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In die vierde deel van die Psalm plaas Dawid sy vertroue volledig in God se optrede om hom te red en vry te spreek van die ongegronde aanklagte of aanvalle teen hom sodat dié wat hulle verbly oor sy ongeluk beskaamd sal staan, en dié wat wil hê dat hy vrygespreek word, bly sal wees. God is regverdig. Dit vorm die basis van sy vertroue. Dawid sluit die Psalm af met sy gebed vir verlossing en oorwinning, waarin hy homself beroep op ’n God wat nie blind of doof is nie. En vra hy dat God nie ver van hom af sal bly nie. Laat dié wat vir sy saak is, bly wees, en dié wat hom leed wil aandoen, teleurgestel word.

Bid die Psalm

“Moenie toelaat dat my verraderlike vyande oor my lekkerkry, of dat hulle wat my sonder rede haat, hulle verlekker oor my leed nie. Hulle praat nie oor vrede nie, maar bedink vals beskuldigings teen onskuldige mense. Hulle rek hulle monde oop teen my en sê: “Aha! Aha! Ons het dit met ons eie oë gesien!” Here, U het alles gesien. Moenie stilbly nie! Here, moenie ver van my af wees nie. Word wakker! Staan op! Kom tot my verdediging! Verdedig my saak, my God en my Here! Gee uitspraak oor my in ooreenstemming met u regverdigheid, Here my God. Moenie dat hulle oor my lekkerkry nie. Moenie dat hulle sê: “Dis net wat ons wou hê!” nie. Moenie dat hulle sê: “Ons het hom vernietig!” nie. Mag hulle wat juig oor my nood, verneder word en in skande kom. Mag hulle wat op my neersien met skaamte en oneer bedek word. Laat hulle wat juig oor my vryspraak, uitroep van vreugde en blydskap. Laat hulle voortdurend sê: “Groot is die Here wat Hom verheug in die vrede van sy dienaar.” Ek sal u geregtigheid verkondig, ek sal U die hele dag lank prys.” NLV

Boodskap en betekenis

Jesus skets in aansluiting van hierdie Psalm die dilemma van gelowiges wat in die wêreld gehaat sal word in terme wat ontleen is aan hierdie Psalm in Johannes 15:25. Waar Dawid egter vir verlossing gevra het, en uitwissing van die vyand, kies Jesus om Homself te offer – en dit is wat Hy van ons ook verwag. Die gebede van vervloeking in die Psalms is deur Jesus getransformeer tot ’n gebed en ’n offer om verandering, selfs vir die vyande. Maar, dit beteken nie dat Jesus nie ook uiteindelik sal oordeel nie, want waar sy genade verwerp word, is daar geen verlossing meer moontlik nie, en sal Hy die teenstanders in oneer dompel en hulle vernietig.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar