Skip to main content

Psalm 105:12-23

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalmis fokus vervolgens op die tyd van die aartsvaders tot en met hulle verblyf en uiteindelike verdrukking in Egipte.

Bid die Psalm

“Toe hulle maar min was, ’n klein groepie mense en vreemdelinge in die land, het hulle rondgetrek tussen die volke, van een koninkryk na die ander. Hy het nie toegelaat dat hulle verdruk word nie. Ter wille van hulle, het Hy konings gewaarsku: “Moenie my gesalfdes aanraak, en my profete kwaad aandoen nie.” Hy het ’n hongersnood oor die land gebring, en hulle kosvoorrade laat opraak. Hy het iemand vooruitgestuur: Josef, wat verkoop is as slaaf. Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ’n ysterhalsband gesit tot sy woord waar geword het, en die Here se woord hom reg bewys het. Toe het Farao hom vrygelaat; die heerser oor volke het hom bevry. Hy het hom aangestel oor sy huis, met gesag oor al sy eiendomme. Hy kon aan sy beamptes bevele gee, en sy hoofamptenare wysheid leer. Toe het Israel na Egipte toe gekom. Jakob het as vreemdeling in die land Egipte gaan woon.” NLV

Boodskap en betekenis

Let op die beskrywing in vers 15 van die voorvaders as gesalfdes en profete (Abraham word direk só genoem in Gen. 20:7). Gesalfdes is mense wat bewus is van God se roeping. Profete is mense wat bewus is van God se wil. Die Psalmis verwys hier waarskynlik na die twee verhale van Abraham en Isak, in Genesis 20 en 26 onderskeidelik, waar God se hulp en beskerming in hulle interaksies met Abimelek, die Filistynse koning van Gerar, vertel word. Die verhale het die aartsvaders se status as gesalfdes en profete vir die Psalmis bevestig, sowel as dat hulle mense was wat deur God beskerm is. Lees gerus hoe God deur ’n droom (Gen. 20) en ’n “Godsvalligheid” (Gen. 26) dié twee aartsvaders beskerm het spesifiek in terme van hulle vroue, Sara en Rebekka, wat natuurlik ook beteken het dat hulle nageslag beskerm is. Die Psalmis fokus vervolgens op die verhaal van Josef se gevangenskap in Egipte wat deur God begenadig is om ’n verlossing vir sy mense in Egipte te bewerk. God se werk word in vers 19–22 beklemtoon in die waarmaak van Josef se woorde. Dit verwys na Josef se uitleg van sy drome in Kanaän (Gen. 37) en in die tronk (Gen. 40), sowel as dié van Farao (Gen. 41), soos die Here dit vir hom gegee het. Hierdie proses het egter ingesluit dat Josef deur ’n tyd van toetsing moes gaan totdat die woord van die Here uitgekom het. Dit het sy verwerping deur sy broers, sy verknegting in die huis van Potifar, sy versoeking deur Potifar se vrou, sy verdrukking in die tronk, en uiteindelik ook sy lyding onder die wispelturigheid van mense ingesluit: “Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.” (Gen. 40:23). God het egter Josef se woorde telkens bewaarheid, met die gevolg dat die koning hom losgelaat en oor Egipte en daarmee eintlik oor die hele wêreld van sy tyd aangestel het (vers 20–22).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar