Skip to main content

Psalm 137

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie Psalm is ‘n roerende herinnering aan die pyn en ontworteling van die ballingskap. Die Psalmis is waarskynlik in Jerusalem ná die terugkeer uit ballingskap en skryf die Psalm om die geloofsgemeenskap te help om die verlede te verwerk, sowel as om die nuwe situasie in Jerusalem te omarm en skouer aan die wiel te sit om die geloofsgemeenskap te herbou. Die Psalm is daarom meer as ‘n klag oor die verlede. Dit gebruik die herinnering aan die pyn as die basis vir ‘n nuwe verbintenis in die hede en sluit twee bedes aan God in om reg en geregtigheid te laat geskied ten opsigte van beide Edom, wat hulle in die steek gelaat het, en Babel, wat hulle weggevoer het in ballingskap. Dit leer ons dat die verlede, selfs in die grusame pyn wat dit vir ‘n mens kan inhou, hetsy weens persoonlike skuld of weens omstandighede buite jou beheer, steeds die basis kan bly om in die hede jouself aan God te verbind en van Hom ‘n herstelde toekoms af te bid. Aan God se liefde is daar immers geen einde nie, soos Psalm 136 so oorvloedig beklemtoon het.

Bid die Psalm

“By die riviere van Babel het ons gesit en gehuil wanneer ons aan Sion dink. Ons het ons liere daar aan die wilgerbome opgehang. Dié wat ons weggevoer het, het ons gevra om ’n lied te sing. Ons verdrukkers het gesê ons moet ’n vreugdelied sing: “Sing vir ons ’n Sionslied!” Maar hoe kan ons in ’n vreemde land ’n lied van die Here sing? As ek jou vergeet, Jerusalem, laat my regterhand dan uitdroog. As ek nie meer aan jou dink nie, as Jerusalem nie my grootste vreugde is nie, mag my tong kleef aan my verhemelte. Onthou tog die Edomiete, Here, en wat hulle gedoen het toe Jerusalem ingeneem is. Hulle het geskreeu: “Slaan plat! Slaan plat tot op die fondamente!” Babel, jy is gedoem tot verwoesting. Geseënd is die een wat jou vergeld vir wat jy aan ons gedoen het. Geseënd is hý wat jou babatjies neem en hulle teen ’n klip verpletter!” NLV

Boodskap en betekenis

In Esegiël het ons gesien dat die ballinge van tyd tot tyd vergader het by die kanale wat vanuit die Eufraat en die Tigris die stad van water voorsien het (vgl. Eseg. 1-3). Daar het hulle in hulle verdrukking as weggevoerde slawe gesit en dink aan die plek vanwaar die Here hulle weggevoer het. Die versoeke tot Sionsliedere deur hulle oorwinnaars het tot hulle pyn bygedra. Hulle het nie kans gesien om in hulle leed te sing nie, en het hulle liere aan die wilgerbome opgehang as simboliek van hulle hartseer en pyn. Tóg beteken dit nie dat hulle Jerusalem vergeet het nie. Nie toe nie, en ook nie nou nie. Inteendeel. Hulle verbintenis aan Jerusalem bly onverdund lojaal. Hulle is bereid om selfs verdere fisiese leed aangedoen te word – ‘n lam regterhand wat hulle onbekwaam sal maak om vir hulle self te sorg, en ‘n tong wat aan die verhemelte vaskleef wat hulle stom sal maak om hulle self hoorbaar te maak – as hulle sou durf waag om van Jerusalem te vergeet. Die plek van God se teenwoordigheid op aarde bly hulle grootste vreugde, dié plek, en dié God, waaraan hulle hulleself verbind. Maar dié verbintenis aan die Here laat hulle ook vrymoedigheid neem om Hom om reg en geregtigheid te vra. Die smart wat Edom (Jakob, die stamvader van Israel, en Esau, die stamvader van Edom, was broers) hulle aangedoen het met die wegvoering in ballingskap roep by hulle die gebed om vergelding op (vgl. veral die profeet Obadja vir meer detail hieroor, waar ek ook verwys na Jeremia en Esegiël se perspektiewe). Die Edomiete se houding van “breek af, breek af” moet die Here se optrede teenoor hulle bepaal. Op dieselfde wyse vra die Psalmis dat die Here sal optree teenoor die Babiloniërs wat fisies die stad afgebreek en hulle in ballingskap weggevoer het. Op grusame wyse word die vergelding wat gevra word, uitgespel, selfs teenoor die kinders wat teen ‘n rotswand verpletter moet word. Let op dat die Psalmis nie vra dat hulle dit persoonlik moet uitvoer nie, maar dat die Here daarvoor sal sorg. Wat ons hier in gedagte moet hou, is dat dié gebede om vergelding ‘n belangrike manier was (en is) om die emosies wat steeds lewendig was vir die teruggekeerde ballinge te hanteer. Wat vir ons as kinders van die Here egter belangrik is, is om te weet dat vergelding in die NT aan die Here behoort. Van ons word gevra om nie te vervloek nie, maar te seën (Luk. 9:54) en selfs ons vyande lief te hê (Matt. 5:44). Die Here wil van vyande vriende maak, ook deur ons optrede en opoffering. Maar, die helder woord is steeds dat God uiteindelik reg en geregtigheid sal laat geskied. Dit is ook sy belofte aan ons. Soos Paulus aan die Romeine skrywe: 17Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. 18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” wsê die Here. 20“As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” 21Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie. (Rom. 12:17-21).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

w Vgl. Deut. 32:35

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar