Skip to main content

Psalm 18:26-36

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid gee in die vierde deel van Psalm 18 ‘n pragtige beskrywing van God se getrouheid vir almal wat Hom dien – getrou teenoor die getroues; opreg teenoor die opregtes; rein teenoor die reines. Maar God verwerp dié wat huigel (vers 26–28). Dawid gaan oor tot ’n verdere loflied aan hierdie onvergelykbare God wat sy dienaar, Dawid, beskerm en laat oorwin deur die lig wat Hy gee. Die Here laat sy duisternis opklaar (vers 29).

Bid die Psalm

“Vir die getroues is U getrou; vir die opregtes is U opreg. Vir dié wat rein is, is U rein, vir dié wat vals is, is U vals. U red hulle wat nederig is, maar die hoogmoediges verneder U. U laat my lamp skyn, Here my God. U verlig my duisternis. Met U loop ek ’n leër storm; met my God spring ek oor ’n muur. God se pad is volmaak. Die Here se woorde is betroubaar. Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Want wie anders as die Here is God? Wie anders as God is ’n rots? God rus my toe met krag; Hy maak my pad veilig. Hy maak my voete soos dié van ’n wildsbok, op hoë plekke laat Hy my veilig staan. Hy oefen my hande vir die geveg, my arms om ’n bronsboog te trek. U redding is vir my ’n skild. U regterhand ondersteun my; u hulp maak my sterk.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie beskrywings van hoe God aktief is in ons lewe, word baie keer gebruik as versterking in die geloofstryd: “met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (vers 30). Want wie is God behalwe die Here!? Sy weë is volmaak, selfs al gaan dit deur die konflik van vyandskap en oorlog. Dawid brei uit hoe God hom gehelp het om sy vyande te agtervolg, in te haal en uit te wis. God leer sy hande hoe om oorlog te maak. Hy stel hom in staat om selfs ‘n koperboog te span! Dawid leer ons hier om sterk te staan in die geloofstryd. Die weg van die Here is volmaak, selfs al gaan dit deur donker dieptes. Hy sterk ons in die stryd. Hy waarborg die oorwinning. Sing (of neurie) gerus die “koortjie” wat op vers 34 gebaseer is: “Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan.”

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar