Skip to main content

Psalm 7:11-18

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid bid verder op grond van God se karakter – Hy is ‘n beskermer van die opregtes – en vra dat Hy nie net sal help nie, maar ook die skuldiges sal straf. Daarby vra Dawid dat die Here dit in die publiek sal bevestig; dat die skuldiges self in die diep gat sal val wat hulle vir Dawid gegrawe het.

Bid die Psalm

“God is my skild, Hy wat opregtes van hart verlos. God is ’n regverdige regter; God oordeel bose mense daagliks. As iemand nie berou het nie, maak Hy sy swaard skerp. Hy span sy boog en hou dit gereed. Hy het dodelike wapens voorberei en sy vurige pyle is gereed. Hy wat swanger is van sonde, wat verwagtend is van onheil, gee geboorte aan leuens. Hy grawe ’n gat om ander te vang, maar val dan self daarin. Sy boosheid tref homself, sy geweld kom neer op sy eie kop. Ek wil die Here dank omdat Hy regverdig is. Die Naam van die allerhoogste Here wil ek besing.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierdie tipe gebed is vir sommige ‘n probleem vanweë die geweld wat daarin opgeneem is en dat God boonop as die Een geskets word wat wraak neem. Let eerstens op dat Dawid nie hier vir persoonlike wraak vra nie, maar eerder dat God dinge sal regstel. Let tweedens op dat wraak van God se kant af ook in die NT onderstreep word, soos Paulus Deuteronomium 32:35 in Romeine 12:19-20 aanhaal. Bid dus hierdie Psalm deur van eie wraakgedagtes afstand te neem, en die uitkoms van jou lewe ook in die konflikte daarvan aan die Here oor te laat.  Dank Hom dat Hy regverdig is.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deuteronomium 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar