Skip to main content

Psalm 17:10-15

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die keersy van die gebed om beskerming is Dawid se gebed van God se wraak vir die goddelose. Sy gebed is skerp en vol wraak. Hy bid dit selfs af op die goddelose se kinders en kleinkinders. Die geweld van die gebed vir die verwoesting van die arrogante opstandige goddelose is wel waarskynlik metafories, maar steeds erg! Dit is militêre taal, gekoppel aan die herinnering van die oorwinning oor Farao in die Uittog (vgl. Eks. 15).

Bid die Psalm

“Hulle het opstandig geword. Hulle praatjies is verwaand. Hulle spoor my op en omsingel my, hulle is gereed om my neer te gooi op die grond. Hulle is soos honger leeus, gretig om my te verskeur, soos jong leeus wat wegkruip en wag vir hulle kans. Staan op, Here! Weerstaan hulle en bring hulle op hulle knieë! Red my van bose mense met u swaard! Red my met u magtige hand, Here, van mense van hierdie wêreld wat hulle loon in hierdie lewe kry. Mag hulle die volle straf ontvang, hulle kinders nog meer as dit erf, en ook hulle kleinkinders. Maar omdat ek reg gedoen het, sal ek U sien. Wanneer ek wakker word, sal ek tevrede wees in u teenwoordigheid.” NLV

Boodskap en betekenis

Let tog op dat Dawid se hoop lê in wat God kan doen, nie in sy eie planne of in die toeval van die oomblik nie. Dit is nie asof hy self die kinders en kleinkinders wil uitwis nie. Vers 15 se verwysing na die wakker word uit die slaap, kan moontlik ‘n versluierde verwysing na die wakker word uit die dood se slaap wees, waar Dawid rekening hou met die feit dat niks God se teenwoordigheid kan troef nie, selfs nie die dood nie. Ons kom soms in situasies van erge leed aan die hand van ander mense. Bring jou ervarings voor die Here, wees eerlik, en bring dan jouself tot rus in die Here se teenwoordigheid. Hy sal intree vir jou. Hy sal jou vyande hanteer.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar