Skip to main content

Psalm 119:9-16

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Waar die Psalmis meer oorhoofs en algemeen oor die waarde van ‘n lewensfokus op die openbaring van God gepraat het in die eerste agt verse, vervolg hy in die tweede deel en spreek spesifiek jongmense aan: “Hoe kan ’n jongmens ’n skoon lewe lei? Deur sy lewe in te rig volgens u woord.” As motivering verwoord hy sy eie gehoorsaamheid aan God se woord. Let op hoe hy aan die een kant sy voorneme om gehoorsaam te wees, uitspreek, maar tog ook die Here vra: “moenie dat ek afdwaal van u gebooie nie.” (Ps. 119:10).

Bid die Psalm

“Hoe kan ’n jongmens ’n skoon lewe lei? Deur sy lewe in te rig volgens u woord. Met my hele hart soek ek U; moenie dat ek afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre sodat ek nie teen U sou sondig nie. Geseënd is U, o Here; leer my u voorskrifte. Die bepalings van u mond het ek met my lippe bekendgemaak. In u voorwaardes het ek my verlustig soos ’n mens bly is oor rykdom. Ek wil oor u bevele nadink en let op u weë. Ek sal my verbly in u voorskrifte en u woord nie vergeet nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Gehoorsaamheid kom dus tot sy volle werking in ons lewe in die kombinasie van God se werk en ons s’n. Let ook op hoe dit iets is wat uit die hart uit kom – “met my hele hart soek ek U”, en “in my hart koester ek u woord”. Dit is iets wat geleer en oordink word en iets waarvan getuig en gesing word. Dit omvat ‘n mens se hele lewe: hart, denke en woorde. In die volgende deel sal hy nog meer oor die tipe gedrag wat daarby hoort, praat. Die interessante is ook dat gehoorsaamheid kom as God se woord gekoester word, want God se woord het inherent die krag om ‘n mens van sonde te bewaar. Waar jy vreugde het en ontwikkel in God se wil en woord, ontketen dit ‘n krag in jou lewe wat die impak en houvas van die sonde in jou lewe verminder. Presies soos Psalm 1 dit al verwoord het. Laat ‘n mens dink aan Paulus wat aan die Filippense skryf: “werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Dit is immers God wat in julle werksaam is.” (Fil. 2:12-13).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar