Skip to main content

Psalm 54

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie kort Psalm van Dawid word gekoppel aan die verraad wat die Siffiete teen hom gepleeg het toe hy op ’n keer vir Saul in die Sifwoestyn by Goresa, op die Gakilarant suid van hierdie onherbergsame gebied, weggekruip het (1 Sam. 23:19-28).  Dit was net na Saul en Doëg die priesters van Agimelek in Nob uitgewis het.  Abjatar, Agimelek se seun, was die enigste wat ontkom het en het homself by Dawid geskaar.  Abjatar het Dawid regdeur sy lewe geestelik ondersteun deur die Here vir hom te raadpleeg.  Dit was juis as gevolg van Abjatar se raad dat Dawid van Keïla na die Sifwoestyn gevlug het (1 Sam 23:6-15). Die Siffiete se verraad was egter nie suksesvol nie, want toe Saul en sy manskappe hom gaan soek, het Dawid na ‘n kliprant in die gebied gevlug in die Maonwoestyn, en daar het Saul die spoor verloor. Trouens, Saul het vir Dawid aan die een kant van die berg gesoek, met Dawid en sy manne wat net aan die ander kant geskuil het. Voordat Saul egter verder kon soek, het daar ’n boodskapper vir Saul kom terugroep om ‘n Filistynse aanval in Israel te gaan afweer.  Die kliprant het dus in die volksmond die naam Skeidingsrant gekry. Daar is ook ’n interessante woordspel tussen 1 Sam 23:15: “Dawid het bemerk dat Saul uittrek om sy lewe te soek,” en Ps. 54:5: “geweldenaars soek my lewe” wat dien om 1 Samuel 23 en Psalm 54 aan mekaar te verbind. Die Psalm is, na die inleidende skets, ’n roerende klaaglied wat in twee dele verdeel is en afsluit met die reddende uitkoms in vers 9: 1) Hoor my gebed en red my van my vyande – vers 3-5. 2) Vernietig hulle dat ek U goedheid kan loof – vers 6-8.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Met snarespel. ’n Gedig van Dawid, met verwysing na die gebeurtenis toe die Siffiete gekom het en vir Saul gesê het: Dawid kruip weg by ons. O God, red my deur die mag van u Naam! Laat aan my reg geskied deur u krag. O God, luister na my gebed. Gee aandag aan my smeking. Want vreemdelinge val my aan; geweldenaars soek my lewe. Hulle steur hulle nie aan God nie. Sela Maar God is my Helper. Die Here ondersteun my! Laat my vyande se onheilsplanne teen hulle draai. Maak tog ’n einde aan hulle, want U is getrou. Ek sal ’n vrywillige dankoffer aan U bring. Ek sal u Naam loof, Here, want dit is goed. Uit al my benoudheid het U my bevry. Die triomf oor my vyande kon ek self sien.” NLV

Boodskap en betekenis

Die algemene naam van God, Êlôhîm, word 3 keer in die eerste deel van die klaaglied gebruik.  Dawid maak dus staat op God se regverdigheid in die algemeen om aan hom reg te laat geskied.  Hy herinner God ook aan die feit dat dié geweldenaars en vyande nie rekening hou met God nie. Die persoonsnaam van God, Jahwe, word 2 keer in die tweede deel van die klaaglied gebruik, om die intieme verhouding van Dawid met God uit te druk, teenoor die geweldenaars wat nie met Hom rekening hou nie.  Hy vra dat die onheil wat hulle beplan op hulle sal boemerang en die Here, wat in die besonder sy God is, se getrouheid só sal blyk.  Let op dat die offers wat Dawid beplan, selfs meer sal wees as wat God van hom sou kon vra, omdat hy só sy dankbaarheid onomwonde teenoor God wil uitspreek. Dawid loof aan die einde van die Psalm die feit dat die Here hom uit al sy benoudheid gered het.  Dié ervaring van hom inspireer ons om God ook te vertrou vir elke benoudheid waarin ons verkeer.  Waar sy Naam in ’n situasie van benoudheid en onheil aangeroep word, laat Hy sy teenwoordigheid ken.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda