Skip to main content

Psalm 54

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Hierdie kort Psalm van Dawid word gekoppel aan die verraad wat die Siffiete teen hom gepleeg het toe hy op ’n keer vir Saul in die Sifwoestyn by Goresa, op die Gakilarant suid van hierdie onherbergsame gebied, weggekruip het (1 Sam. 23:19-28).  Dit was net na Saul en Doëg die priesters van Agimelek in Nob uitgewis het.  Abjatar, Agimelek se seun, was die enigste wat ontkom het en het homself by Dawid geskaar.  Abjatar het Dawid regdeur sy lewe geestelik ondersteun deur die Here vir hom te raadpleeg.  Dit was juis as gevolg van Abjatar se raad dat Dawid van Keïla na die Sifwoestyn gevlug het (1 Sam 23:6-15). Die Siffiete se verraad was egter nie suksesvol nie, want toe Saul en sy manskappe hom gaan soek, het Dawid na ‘n kliprant in die gebied gevlug in die Maonwoestyn, en daar het Saul die spoor verloor. Trouens, Saul het vir Dawid aan die een kant van die berg gesoek, met Dawid en sy manne wat net aan die ander kant geskuil het. Voordat Saul egter verder kon soek, het daar ’n boodskapper vir Saul kom terugroep om ‘n Filistynse aanval in Israel te gaan afweer.  Die kliprant het dus in die volksmond die naam Skeidingsrant gekry. Daar is ook ’n interessante woordspel tussen 1 Sam 23:15: “Dawid het bemerk dat Saul uittrek om sy lewe te soek,” en Ps. 54:5: “geweldenaars soek my lewe” wat dien om 1 Samuel 23 en Psalm 54 aan mekaar te verbind. Die Psalm is, na die inleidende skets, ’n roerende klaaglied wat in twee dele verdeel is en afsluit met die reddende uitkoms in vers 9: 1) Hoor my gebed en red my van my vyande – vers 3-5. 2) Vernietig hulle dat ek U goedheid kan loof – vers 6-8.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Met snarespel. ’n Gedig van Dawid, met verwysing na die gebeurtenis toe die Siffiete gekom het en vir Saul gesê het: Dawid kruip weg by ons. O God, red my deur die mag van u Naam! Laat aan my reg geskied deur u krag. O God, luister na my gebed. Gee aandag aan my smeking. Want vreemdelinge val my aan; geweldenaars soek my lewe. Hulle steur hulle nie aan God nie. Sela Maar God is my Helper. Die Here ondersteun my! Laat my vyande se onheilsplanne teen hulle draai. Maak tog ’n einde aan hulle, want U is getrou. Ek sal ’n vrywillige dankoffer aan U bring. Ek sal u Naam loof, Here, want dit is goed. Uit al my benoudheid het U my bevry. Die triomf oor my vyande kon ek self sien.” NLV

Boodskap en betekenis

Die algemene naam van God, Êlôhîm, word 3 keer in die eerste deel van die klaaglied gebruik.  Dawid maak dus staat op God se regverdigheid in die algemeen om aan hom reg te laat geskied.  Hy herinner God ook aan die feit dat dié geweldenaars en vyande nie rekening hou met God nie. Die persoonsnaam van God, Jahwe, word 2 keer in die tweede deel van die klaaglied gebruik, om die intieme verhouding van Dawid met God uit te druk, teenoor die geweldenaars wat nie met Hom rekening hou nie.  Hy vra dat die onheil wat hulle beplan op hulle sal boemerang en die Here, wat in die besonder sy God is, se getrouheid só sal blyk.  Let op dat die offers wat Dawid beplan, selfs meer sal wees as wat God van hom sou kon vra, omdat hy só sy dankbaarheid onomwonde teenoor God wil uitspreek. Dawid loof aan die einde van die Psalm die feit dat die Here hom uit al sy benoudheid gered het.  Dié ervaring van hom inspireer ons om God ook te vertrou vir elke benoudheid waarin ons verkeer.  Waar sy Naam in ’n situasie van benoudheid en onheil aangeroep word, laat Hy sy teenwoordigheid ken.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar