Skip to main content

Psalm 41

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is die laaste Psalm van die eerste Psalmboek met ‘n saligspreking as inleidende tema: Omgee vir swakkes ontsluit God se seën. Dit is dan ook die basis van Dawid se gebed om God se genade in sonde, vyandskap en siekte. Let op dat hierdie vrymoedigheid steeds afhanklik bly van God se genade.

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: ’n Dawidspsalm. Geseënd is die mens wat omgee vir die armes. In tye van nood sal die Here hom red. Die Here sal hom beskerm en hom die lewe laat behou. Hy gee aan hom voorspoed in die land en lewer hom nie oor in die mag van sy vyande nie. Die Here sorg vir hom as hy siek is en laat hom opstaan uit sy siekbed. Ek het gesê: “Here, wees my genadig. Maak my gesond, want ek het teen U gesondig.” My vyande praat kwaad van my. Hulle sê: “Wanneer sal hy sterf en vergete wees?” As hulle my besoek, is hulle skynheilig: In hulle harte versamel hulle slegte gedagtes; dan gaan hulle uit en vertel dit. Almal wat my haat, fluister saam oor my en beplan net die ergste vir my: “’n Dodelike siekte het hom getref. Waar hy nou lê, sal hy nooit opstaan nie!” My beste vriend wat ek vertrou het, wat saam met my geëet het, selfs hy het sy rug op my gedraai. Here, wees my genadig. Maak my weer gesond sodat ek hulle kan vergeld! Ek weet dat U my liefhet, want my vyand seëvier nie oor my nie. U hou my staande omdat ek onskuldig is. U laat my altyd naby U bly. Prys die Here, die God van Israel, van altyd af en tot in die oneindigheid. Amen, ja, amen!” NLV

Boodskap en betekenis

Jesus haal vers 10 aan in sy voetewas gesprek met sy dissipels met verwysing na Judas (“Die een wat van my brood geniet, het teen My gedraai” – Joh. 13:18).  Waar Dawid vir verlossing van die verraad van sy boesemvriend gevra het, het Jesus egter juis die pyn van die verraad en sy gevolglike kruisdood aanvaar, sodat Hy selfs vir vyande verlossing kon bring. Iets om oor na te dink waar ons ook in situasies van verraad kom! Die Psalm eindig met ’n doksologie: “Amen, ja, amen” waarmee nie net die Psalm nie, maar ook die eerste Psalmboek (1-41) afgesluit word.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar