Skip to main content

Psalm 34:1-9

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 34-37 staan bekend as wysheidsPsalms. Psalm 34 is ook ‘n akrostiese Psalm met die verse wat opeenvolgend met letters van die Hebreeuse alfabet begin. Die verwysing in vers 1 is waarskynlik na koning Akis wat die titel Abimelek – my vader is koning – gehad het. Akis het Dawid met ‘n valkoog dopgehou en sy vryheid aan bande gelê (1 Sam. 27-29; vgl. ook 1 Sam. 21). Twee temas bind die Psalm se onderskeie uitsprake saam: dankbaarheid en wysheid. Dawid begin in die eerste deel van die Psalm om die Here te loof en die geloofsgemeenskap uit te nooi om dieselfde te doen. Hy roem in of spog oor die grootheid van die Here, as aanmoediging vir ander om Hom te dien.  Hy loof God omdat Hy hoor en optree. Hier praat hy spesifiek daarvan dat die Engel van die Here (vers 8) intree en die dienaars van die Here beskerm.

Bid die Psalm

“Van Dawid, toe hy hom voor Abimelek kranksinnig gehou het sodat Abimelek hom weggejaag het en hy gevlug het. Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal net in die Here roem. Die nederiges sal dit hoor en bly wees. Kom verheerlik die Here saam met my; laat ons saam sy Naam prys. Ek het tot die Here gebid en Hy het my geantwoord, Hy het my bevry van alles waarvoor ek bang is. Hulle wat opsien na Hom, sal straal van vreugde; op hulle gesigte is daar geen skaamte nie. Hierdie ellendige mens het geroep, en die Here het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered. Want die Engel van die Here hou wag oor almal wat Hom dien, en Hy red hulle. Beproef en sien dat die Here goed is. Geseënd is die persoon wat op Hom vertrou!” NLV

Boodskap en betekenis

Daar is nie ’n spesifieke verhaal van Dawid in die OT wat ’n mens met die verwysing na die Engel van die Here in hierdie Psalm kan verbind nie, maar daar is natuurlik baie ander verhale in die OT wat wel as agtergrond kan dien. Dink bv. aan Josua 5:13-15 met die oorwinning oor Jerigo, waar die Engel van die Here ‘n rol gespeel het. Ook die verhaal van Elisa in die konflik met die Arameërs, 2 Konings 6, waar Gehasi se oë oopgemaak word om die engeleskaar te sien wat hulle beskerm. Deur die eeue het baie mense al vertel dat hulle beskerm is soos vers 8 getuig. Die punt van hierdie eerste deel van die Psalm is, dié wat by Hom skuil, word nie teleurgestel nie. En daaroor kan ’n mens net juig, en dankbaar wees.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar