Skip to main content

Psalm 63

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalm word in die eerste vers geassosieer met Dawid se verblyf in die Judawoestyn, die onherbergsame reënlose gebied tussen Jerusalem in die middel van die land en die Dooie See aan die oostekant. Saul is steeds besig om hom aktief te vervolg (1 Sam. 23-24). Dit is egter ook die plek waar Moses se skoonfamilie, die Keniete, vroeër saam met die stam van Juda kom bly het en die bergland ingeneem het met die Intog in die land Kanaän (Rigt. 1:16). Dit is dus ook ’n plek waar God sy teenwoordigheid in die verlede aan sy voorsate laat blyk het. Die Psalm is in twee dele geskryf, met vers 1 soos gewoonlik die inleiding: 1) Ek bly altyd naby U – vers 2-9. Let op die diep behoefte wat Dawid aan God het wat hy uitdruk met werkwoorde soos soek¸ dors, en smag. Die woestyngebied waar hy is, raak vir hom ’n metafoor van sy lewe – sonder God is die lewe sonder enige fut en genot. Hy wil eerder die hele lewe beleef in die teenwoordigheid van die Here, uitgedruk met die metafoor van die heiligdom. Dié gedagtes bring ’n groot berusting by hom in die verlatenheid van die woestyn, selfs as hy in die nag op sy bed aan God en Sy plan vir sy lewe nadink. Want, selfs daar, ondervind hy dat God vir hom ’n hulp en beskerming is, uitgedruk met die metafoor van die vleuels van die gerubs wat in die heiligdom beskerming bied. Daarom bly Dawid altyd naby God, onder die vleuels van sy teenwoordigheid, waar hy niks anders as God nodig het nie. 2) Laat elkeen Hom prys – vers 10-12. Vanuit die ondersteuning wat Dawid beleef in sy meditasie oor God se liefde, hulp en beskerming, bid hy dat die mense wat sy ondergang soek sal wegsink in die dieptes van die aarde, dat hulle aan die swaard oorgegee en aas vir die jakkalse sal word – ’n gebed wat in Saul se geval uiteindelik beantwoord is (1 Sam. 31). Daarteenoor bid hy dat die Here hom as koning sal toelaat om hom in God te verbly, trouens dat almal hierdie voorreg om God te prys, sal kan beleef. “Almal wat op God vertrou” moet God kan prys – dit is sy gebed. Dawid herinner God dus aan die belofte dat hy koning sal word, maar dit gaan nie vir hom soseer oor die koningskap as sodanig nie. Dit gaan oor die diep behoefte om in vryheid God se naam saam met ander te mag prys.

Bid die Psalm

“’n Psalm van Dawid, met verwysing na sy verblyf in die Judawoestyn. O God, U is my God, ek soek na U, ek smag na U; my hele liggaam verlang na U soos ’n dor land sonder water. Ek het U inderdaad in die heiligdom gesien en u krag en heerlikheid aanskou. U troue liefde is beter as die lewe; daarom prys ek U! Daarom wil ek U prys so lank as wat ek lewe, en in u Naam my hande ophef. U versadig my meer as die rykste kos. Met vreugdeliedere sal ek U loof. As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande. Mag hulle wat my lewe soek, omkom en in die dieptes van die aarde wegsink. Mag hulle oorgegee word aan die swaard en kos word vir die jakkalse. Maar die koning sal bly wees in God. Almal wat op God vertrou, sal Hom prys, terwyl leuenaars stilgemaak sal word.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm herinner ons daaraan dat daar ’n verhouding met God moontlik is wat só diep is, só bevredigend, só vervullend, dat dit die beste wat jy in die lewe kan ervaar, oortref en dat selfs die slegste wat met jou kan gebeur, dié verhouding met God nie kan versteur nie. Vul dus vandag jou lees van die Psalm aan deur na die bekende verwerking van Rhe Janse te luister waarvan Willie Joubert en Louis Britzz se opnames veral wyd gesing word: “Ek soek U, o God, my God.” (FLAM 22). Dit sal jou in die teenwoordigheid van God bring.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar