Skip to main content

Psalm 63

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalm word in die eerste vers geassosieer met Dawid se verblyf in die Judawoestyn, die onherbergsame reënlose gebied tussen Jerusalem in die middel van die land en die Dooie See aan die oostekant. Saul is steeds besig om hom aktief te vervolg (1 Sam. 23-24). Dit is egter ook die plek waar Moses se skoonfamilie, die Keniete, vroeër saam met die stam van Juda kom bly het en die bergland ingeneem het met die Intog in die land Kanaän (Rigt. 1:16). Dit is dus ook ’n plek waar God sy teenwoordigheid in die verlede aan sy voorsate laat blyk het. Die Psalm is in twee dele geskryf, met vers 1 soos gewoonlik die inleiding: 1) Ek bly altyd naby U – vers 2-9. Let op die diep behoefte wat Dawid aan God het wat hy uitdruk met werkwoorde soos soek¸ dors, en smag. Die woestyngebied waar hy is, raak vir hom ’n metafoor van sy lewe – sonder God is die lewe sonder enige fut en genot. Hy wil eerder die hele lewe beleef in die teenwoordigheid van die Here, uitgedruk met die metafoor van die heiligdom. Dié gedagtes bring ’n groot berusting by hom in die verlatenheid van die woestyn, selfs as hy in die nag op sy bed aan God en Sy plan vir sy lewe nadink. Want, selfs daar, ondervind hy dat God vir hom ’n hulp en beskerming is, uitgedruk met die metafoor van die vleuels van die gerubs wat in die heiligdom beskerming bied. Daarom bly Dawid altyd naby God, onder die vleuels van sy teenwoordigheid, waar hy niks anders as God nodig het nie. 2) Laat elkeen Hom prys – vers 10-12. Vanuit die ondersteuning wat Dawid beleef in sy meditasie oor God se liefde, hulp en beskerming, bid hy dat die mense wat sy ondergang soek sal wegsink in die dieptes van die aarde, dat hulle aan die swaard oorgegee en aas vir die jakkalse sal word – ’n gebed wat in Saul se geval uiteindelik beantwoord is (1 Sam. 31). Daarteenoor bid hy dat die Here hom as koning sal toelaat om hom in God te verbly, trouens dat almal hierdie voorreg om God te prys, sal kan beleef. Almal wat op God vertrou moet God kan prys – dit is sy gebed. Dawid herinner God dus aan die belofte dat hy koning sal word, maar dit gaan nie vir hom soseer oor die koningskap as sodanig nie. Dit gaan oor die diep behoefte om in vryheid God se naam saam met ander te mag prys.

Bid die Psalm

“’n Psalm van Dawid, met verwysing na sy verblyf in die Judawoestyn. O God, U is my God, ek soek na U, ek smag na U; my hele liggaam verlang na U soos ’n dor land sonder water. Ek het U inderdaad in die heiligdom gesien en u krag en heerlikheid aanskou. U troue liefde is beter as die lewe; daarom prys ek U! Daarom wil ek U prys so lank as wat ek lewe, en in u Naam my hande ophef. U versadig my meer as die rykste kos. Met vreugdeliedere sal ek U loof. As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande. Mag hulle wat my lewe soek, omkom en in die dieptes van die aarde wegsink. Mag hulle oorgegee word aan die swaard en kos word vir die jakkalse. Maar die koning sal bly wees in God. Almal wat op God vertrou, sal Hom prys, terwyl leuenaars stilgemaak sal word.” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm herinner ons daaraan dat daar ’n verhouding met God moontlik is wat só diep is, só bevredigend, só vervullend, dat dit die beste wat jy in die lewe kan ervaar, oortref en dat selfs die slegste wat met jou kan gebeur, dié verhouding met God nie kan versteur nie. Vul dus vandag jou lees van die Psalm aan deur na die bekende verwerking van Rhe Janse te luister waarvan Willie Joubert en Louis Britzz se opnames veral wyd gesing word: “Ek soek U, o God, my God.” (FLAM 22). Dit sal jou in die teenwoordigheid van God bring.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…