Skip to main content

Psalm 119:169-176

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Die Psalm word in die 22ste deel afgesluit met die belydenis dat die sin van die lewe lê in die lof aan God: “Laat my lewe sodat ek U kan prys.” En daaraan voeg hy toe: “Mag u bepalings my ondersteun.” (Ps. 119:175). Dit beteken dat die Psalmis sy beroep doen op God se voorsienigheid om in hierdie lewe in lof teenoor God te kan leef. Daarom stort hy sy hulpkrete en smeekgebede uit voor die Here, sowel as sy lofprysing en sang. Hy soek insig ooreenkomstig God se woord. Hy verwag redding volgens God se beloftes. Hy verwag dat God hom sal leer, want hy verkies om God se opdragte na te kom bo alles. Daarom sien hy uit na God se verlossing, want hy vind in God se wet sy vreugde. Trouens: “Laat my tong sing oor u woord, want u bepalings is regverdig.” (Ps. 119:171). Wat hy vra, gee die Here alreeds. Maar, alles is nog nie soos dit moet wees nie, selfs nie in sy eie lewe nie. Daarom sluit hy die 22ste deel en daarmee ook Psalm 119 as ‘n geheel af met die versugting: “Soos ’n verlore skaap het ek gedwaal; kom en soek my tog, want u gebooie het ek nie vergeet nie.” (Ps. 119:176).

Bid die Psalm

“Here, luister na my geroep; gee vir my insig soos U beloof het. Luister tog na my smeekgebed; red my soos U beloof het. Laat my lippe uitbreek met lof, want U het my u voorskrifte geleer. Laat my tong sing oor u woord, want u bepalings is regverdig. Mag U gereed wees om my te help, want u bevele het ek eerste gestel. Here, ek het verlang na u redding, en u gebooie is my vreugde. Laat my lewe sodat ek U kan prys, en mag u bepalings my ondersteun. Soos ’n verlore skaap het ek gedwaal; kom en soek my tog, want u gebooie het ek nie vergeet nie.” NLV

Boodskap en betekenis

Hierop sal die Here Jesus natuurlik jare later antwoord met sy drie gelykenisse oor dié wat ronddwaal: die verlore skaap, verlore muntstuk en verlore seun (Luk. 15). Dit is die Goeie Herder wat dié funksie vir elkeen wat in Hom glo, nakom, en hulle die oorvloed van sy teenwoordigheid gee. Dit beteken dus dat die Psalmis besef dat die Here se hart vir hom, die Here se sorg en bystand, die Here se voorsiening uiteindelik baie belangriker is as sy eie hart vir die Here, sy eie vasgryp aan die Here se woord, en sy eie gehoorsaamheid daaraan, selfs waar dit in die fynste besonderhede is.

God gee vir ons wat Hy van ons vra. Dit is die evangelie. Dit is oorvloedig en genoegsaam. Hy gee dit in die Woord en in die werklikheid. Soli Deo Gloria.

Ek het soveel seën geput uit Leslie Allen se (Word-reeks) kommentaar op Psalm 119 dat ek graag ‘n aanhaling maak uit sy opsomming van dié Psalm:

“The prayer for insight into the Torah in v 169 and the appeal for Yahweh’s “rulings” or promises of intervention in v 175 have illustrated the two poles of the psalm. At one end stands the revealed Torah, and it is for insight into this that the psalmist prays so that he may fulfill Yahweh’s moral will in his life. At the other end stands the hope of divine providential intervention, and for this too he prays out of his distress. The dual manifestation of God is itself bridged by the Torah’s examples and promises of aid to the faithful. In the interim the psalmist is kneeling, communing with God through the fellowship of prayer. He looks this way with the eyes of faith and that way with the eyes of hope. From this double spiritual stance the same living God becomes present through the written revelation and can be expected to become present through the providential overruling of adversity in the believer’s life and also through imparting wisdom in understanding and applying the Torah.”

Dít verwoord my eie vasgryp aan die skriftelike openbaring van die Here terwyl ek voluit leef met die verwagting dat ek sy voorsiening op baie konkrete maniere in die werklikheid van my lewe sal ervaar. Vanuit die geskrewe Woord leef ek na die alledaagse werklikheid toe in die verwagting dat eenmaal die toekomstige werklikheid vir my en alle gelowiges sal oopgaan. Sela.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar