Skip to main content

Psalm 109:6-19

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

In buitengewoon skerp taal bid Dawid in vers 6-19 dat die Here die vyande sal vernietig (hy gebruik eintlik hier die enkelvoud, miskien gerig teen die aanvoerder van die vyande). Hy bid ook nie net dat die Here teen hulle sal optree nie, maar teen hulle families ook. Die kras woorde laat baie geleerdes (en selfs vertalers) voorstel dat Dawid in hierdie verse sy vyande se woorde teen homself aanhaal. Ek het ook vroeër so gedink. Maar, 1) daar is geen aanduiding in die Hebreeuse teks self (bv. met ‘n opskrif of aanhalingstekens) dat die outeur se eie woorde by vers 5 stop en dat hy daarna begin om sy vyande se woorde vanaf vers 6 aan te haal nie. 2) Dit kom ooreen met talle ander Psalms van Dawid waarin hy vergelding afbid op sy teëstanders en vyande (vgl. die belangrikstes: Psalm 35, 55, 58, 59, 69, 139 en 140). Maar, soos ek vroeër al geskryf het, onthou, in al hierdie Psalms doen Dawid ‘n  beroep op God se regverdige oordeel, eerder as persoonlike wraakneming. Vergelyk bv. Psalm 139:20-22: “20Dit is hulle wat bose planne teen U smee, wat so vals teen U optree. 21Moet ek u haters dan nie haat nie, Here, moet ek nie ’n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? 22Ek haat hulle met ’n uiterste haat, want hulle is ook my vyande.” 3) Vers 20 is ook duidelik ‘n samevatting van al Dawid se vorige woorde in die Psalm teen sy vyande. Ek hanteer vers 6-19 dus as Dawid se eie woorde. Ek gee in die boodskap en betekenis gedeelte ‘n NT perspektief op die gebed. Een manier om hierdie Psalm te bid as NT gelowige is om te bid: “Ek sou kon vra… stel ‘n bose persoon aan teen hom…” En dan te bid: “Maar, ek skaar my by U, Here Jesus, wat gekies het om te vergewe, omdat U weet God sal U offer gebruik om in genadetyd van vyande vriende te maak, totdat die eindoordeel aanbreek en alles reggestel sal word.”

Bid die Psalm

“Stel ’n bose persoon aan teen hom en ’n aanklaer aan sy regterkant. Wanneer hy geoordeel word, laat hy skuldig bevind word, en sy gebede as sonde gereken word. Laat sy dae min wees; laat iemand anders sy plek inneem. Mag sy kinders wese word en sy vrou ’n weduwee; mag sy kinders as bedelaars rondswerf, en kos soek tussen die bouvalle van hulle wonings. Laat skuldeisers beslag lê op al sy besittings, en vreemdelinge alles vat waarvoor hy hard gewerk het. Mag niemand vir hom goed wees of sy weeskinders bejammer nie. Mag al sy afstammelinge sterf, en hulle naam in een geslag uitgewis word. Mag die Here nooit sy voorouers se sondes vergeet nie; mag sy moeder se sondes nooit uitgevee word nie. Laat hierdie sondes voortdurend voor die Here wees, maar laat sy kinders se nagedagtenis uitgewis word uit die geheue van mense. Hy was nie goed vir ander mense nie, maar het die arm en behoeftige, ook dié wat moedeloos is, tot die dood toe vervolg. Hy het daarvan gehou om te vervloek; laat hy dit nou self ervaar. Ander het hy nooit geseën nie; laat seën vir hom ook veraf wees. Vervloeking was vir hom soos klere, soos water vir sy liggaam, soos olie vir sy beendere. Mag sy vervloeking wees soos klere wat hy dra, soos ’n gordel wat hy altyd aanhet.” NLV

Boodskap en betekenis

Ek herhaal, onthou dat sulke skerp taal die basiese houding in die wraak Psalms weerspieël dat die psalmis se vyande per definisie die Here se vyande is. Daarom het Dawid hier nie net die reg nie, maar ook die plig om vir hulle nederlaag en dood te bid. Dit is iets wat uiteraard in die NT verander. Jesus bid by sy kruisiging: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:43). Stefanus doen dieselfde kort daarna toe hy deur die Jode gestenig is: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” (Hand. 7:60). Ook Paulus roep ons op om om te seën en nie te vervloek nie. Ons taak in die NT is om die kwaad deur die goeie te oorwin: “Moenie self wraak neem nie, geliefdes.” (Rom. 12:19a) Maar dan voeg Paulus by dat ons die oordeel aan God sal oorlaat: “Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf Ék sal vergeld, sê die Here.” (Rom. 12:19b – Paulus haal uit Deut. 32:35 aan). Ons leef in die genadetyd en is daarom bedienaars van die versoening met God. Die oordeel kom wel aan die einde van die tyd wanneer God sy oordeel oor alle mense sal fel. Vir die dieper delwers, die vroeë kerk het vers 8 se bede: “laat iemand sy amp oorneem”, van toepassing gemaak op die verkiesing van ‘n ander apostel in die plek van Judas Iskariot (Hand. 1:20).

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda