Skip to main content

Psalm 77:1-11

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 77 worstel in die eerste deel (vers 1-11) met die vraag of God nog handel soos in die verlede.  Om die waarheid te sê, die worsteling is só erg dat Asaf persoonlik eintlik amper hoop opgegee het, soos die kernvers in vers 11 met hartseer uitdruk: “Dit is my droefheid: dat die Allerhoogste nie optree soos voorheen gedoen het nie.” Hy roep immers na God om hulp, in die verwagting dat God sal hoor, maar daar gebeur niks nie.  Hy is onvermoeid besig om te bid, maar vind geen troos nie.  Sy denke aan God bring hom nie vreugde nie.  Om die waarheid te sê, sy gedagtes oor God laat hom kreun en kla, dit mergel hom uit. Dit is so erg vir hom dat hy wakker lê in die nag, trouens “U verhinder dat ek slaap”.  Weens sy ontsteltenis kan hy eintlik nie meer bid nie, hy is “sprakeloos”.  Al wat vir hom oorbly is om terug te dink en te peins oor wat in die verlede lê.  Hy probeer om die kloutjie by die oor te kry.  Wat kan ’n mens nog regtig van God verwag vandag?

Bid die Psalm

“Vir die koorleier: Op die wysie van “Jedutun”. ’n Asafpsalm. Ek roep hardop tot God. Ek roep hardop tot God om na my te luister! In my nood soek ek die Here. Ook in die nag strek ek onvermoeid my hande uit in gebed. Tog het ek geen troos gekry nie. Ek dink aan God, en ek sug, ek peins daaroor en is moedeloos. Sela U verhinder dat ek slaap; van ontsteltenis kan ek nie praat nie! Ek dink aan die dae van vroeër, aan jare van lank gelede, toe ek gesing het in die nag, nagedink het oor sake. Dan vra ek my af in my binneste: Het die Here my vir altyd verwerp? Sal Hy ooit weer sy genade bewys? Het sy troue liefde vir altyd verdwyn? Het sy beloftes tot ’n einde gekom? Het God sy medelye vergeet? Het Hy in toorn sy simpatie onttrek? Sela Ek het gesê: “Dit is my droefheid: dat die Allerhoogste nie optree soos Hy voorheen gedoen het nie.”” NLV

Betekenis en boodskap

Die worsteling van die Psalm is baie relevant vir ons vandag.  Dieselfde vrae oor God se betrokkenheid by ons lewens kom by ons op veral wanneer ons in die nood is.  Kan Hy vandag nog dieselfde dinge doen as wat Hy in die verlede gedoen het?  Om die waarheid te sê, soms as ons hoor van ander mense wat wonders ervaar, bring dit ons in twyfel nie óf God in ons lewens kan ingryp nie, maar of Hy dit wil doen.  Die Psalm worstel dus met die basiese belewenis van God se teenwoordigheid in die nood wat ’n mens in die lewe ervaar. In die proses sit die Psalmis met ses retoriese vrae drie baie belangrike aspekte van God se karakter en betrokkenheid by ons op die tafel: 1) Betroubaarheid: “Het die Here my vir altyd verwerp? Sal Hy ooit weer sy genade bewys?” 3) Beloftes: Het sy troue liefde vir altyd verdwyn? Het sy beloftes tot ’n einde gekom? 3) Barmhartigheid: Het God sy medelye vergeet? Het Hy in toorn sy simpatie onttrek? Dit is vrae waaroor ons ook in ons verhouding met God tot klaarheid en sekerheid moet kom.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar