Skip to main content

Psalm 30:1-6

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees,  en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dawid loof God in die eerste deel van die Psalm omdat Hy hom gesond gemaak het, en gered het van die dood (put). Sy vyande se blydskap oor sy ellende was van korte duur. Hulle blydskap het stil geraak. God het na Dawid geluister en hom weer lewe gegun. Dawid gebruik daarom sy ervaring van redding om die geloofsgemeenskap aan te moedig om die Here te loof en getrou te bly dien, want Hy is ‘n God wat lewenslank goed is. Sy ervaring is dat sy trane van korte duur was, want die vreugde van God se genade breek telkens weer deur.

Bid die Psalm

“’n Dawidspsalm. ’n Lied vir die inwyding van die tempel. Ek sal u lof verkondig, Here, want U het my gered. U het my vyande verhinder om bly te wees oor my. Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. Here, U het my gered van die doderyk, U het verhoed dat ek saam met ander wegsak in die graf. Sing tot eer van die Here, julle wat getrou is! Loof sy heilige Naam. Sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy genade is lewenslank! In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde.” NLV

Boodskap en betekenis

Dit bly ‘n riem onder die hart dat God se toorn net ‘n oomblik duur, en sy genade lewenslank. Die trane wanneer ‘n mens deur trauma gaan of getoets word deur allerlei uitdagings is baie erg, maar die blydskap wat deurbreek as die Here optree en jou situasie verander, is net so werklik. Dink aan enige situasie waarin jy iets van Dawid se ervarings beleef het – eers die trane en toe die lag – en loof die Here daarvoor. En as jy nog steeds in ‘n traumatiese situasie is, lê dit opnuut aan die Here voor, en bid dat Hy jou daaruit sal red.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar